Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Entrepreneursake
Musikant moet als weet - van boekhou tot bemarking
Tharien Hattingh gesels met Stuart Reece, ’n musikant oorspronklik van Port Elizabeth wat nou in Johannesburg ’n lewe uit sy musiek verdien.
Stuart Reece

Wie is jy, Stuart Reece?

Ek is ’n musikant. Ek is ’n kitaarspeler, sanger, liedjieskrywer en entrepreneur.

Hoekom verwys musikante na hulself as entrepreneurs?

Jy moet ’n entrepreneur wees om te oorleef in dié bedryf. Om as musikant te werk, bedryf jy eintlik jou eie onderneming. Die musiekkomponent van die onderneming is jou produk wat jy verkoop en is slegs 40% van die onderneming, die ander 60% bestaan uit komponente wat by alle ander ondernemings teenwoordig is. Ek moet daagliks bemarking doen, kwotasies uitwerk, fakture uitstuur, skuld invorder, my webblad en sosiale media op datum hou en met kliënte en ander musikante konsulteer.

Vra mense ooit wanneer kry jy ’n regte werk?

Ek het ’n regte werk! Vermaak is my werk. Daar is ’n groot behoefte aan vermaak en mense besef nie dat die musiekbedryf ’n sake-industrie in sy eie reg is nie.

Hoe het jy begin?

Ek speel al vanaf 13-jarige ouderdom kitaar en het al in verskeie kerk- en skoolorkeste gespeel. Ná skool het ek probeer studeer en ’n paar los werkies ook gehad, maar ek het besef musiek is my passie.

Ek het in my vrye tyd as musikant begin werk en vinnig besef ek kan finansieel oorleef as musikant. Op 21 het ek besluit om voltyds as musikant te werk. Ek het ’n paar gigs per week gedoen en só genoeg geld gespaar om my eerste album op te neem.

Wat is jou toekomsdroom?

My langtermyndoel is om ’n oorspronklike kunstenaar te word wat slegs my eie liedjies speel. Op die oomblik sluit my reper­toire heelwat bekende liedjies van ander kunstenaars in. Dit is wat die gehore vereis en ek weet dit is een van die stappe wat ek moet volg om by my langtermyndoel uit te kom.

As kunstenaar moet jy bereid wees om nederig te wees, aangesien ’n nederige begin onvermydelik is?

Ja, beslis. Dit vat baie aande se gigs voor klein gehore om dalk die geleentheid te kry om eendag voor ’n groot gehoor, in ’n groot konsert te speel. Jy moet bereid wees om geduldig vir jou eie drome te werk.

Jy kry nie ’n vaste salaris nie. Hoe het jy geleer begroot?

Ek het met min geld grootgeword en moes al van jongs af weet hoe om met my geld te werk. Ek het ook ná skool ’n drukkery uit ons motorhuis bedryf en daardie onderneming het my baie van begrotings en kontantvloei geleer. Dit is asof die lewe my al van ’n jong ouderdom af voorberei het op die beroep wat ek vandag volg, asook die uitdagings wat saam met die spesifieke beroep kom.

Jou liedjies word deur verskeie radiostasies landwyd gespeel, hoe het jy dit reggekry?

Ek was baie gelukkig. Ek het my eerste CD na ’n radiostasie gevat en die musiekbestuurder was bereid om daarna te luister en het onmiddellik van my musiek gehou. My musiek het vinnig na ander radiostasies versprei. Dit voel steeds onwerklik om in my motor te ry en my eie musiek oor die radio te hoor.

Waar verdien jy die meeste: optredes of CD-verkope?

Optredes! CD’s se dae is getel. CD’s is deesdae ’n aandenkingstuk wat mense koop nadat hulle ’n konsert bygewoon het. As die publiek na jou musiek wil luister, koop hulle dit op die internet.

Hoe het die internet ’n musikant se speelveld verander?

Musikante se speelveld is vergroot en internasionaal uitgebrei. Ek as Suid-Afrikaanse musikant kan my musiek nou net so goed soos ’n oorsese popster bemark. My mark sluit ook nou die internasionale mark in.

Jy het van Port Elizabeth na Johannesburg verhuis om jou loopbaan te laat groei. Wat was die impak?

In Johannesburg is daar baie werk en die geld is ook meer. Dit het wel ’n rukkie gevat om goed te leer swem, aangesien ek in Johannesburg ’n klein vissie in ’n groot oseaan is, met baie ander visse.

Ek sal altyd dankbaar wees vir die afskop van my loopbaan in Port Elizabeth. Dit was ’n goeie leerskool en kleedrepetisie.

Wat is jou raad aan ander aspirant-musikante?

’n Loopbaan in die musiekbedryf is nie maklik nie, maar definitief nie onmoontlik nie. Wees bereid om hard te werk en moet nooit die klein goedjies wat jy doen, as te gering ag nie. Hulle vorm jou vir die groot goed.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.