Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Diskoers
Nicolaas Kruger: Goeie leiers is positief en het dryfkrag

Goeie leierskap is ’n tema wat al hoe meer na vore tree in die debat oor die uitdagings wat Suid-Afrika tans in die gesig staar.

Daar is geen twyfel nie dat die regte politieke leierskap, kundige sakeleiers en sterk gemeenskapsleiers ’n massiewe positiewe verskil sal maak om te verseker dat Suid-Afrika sy volle potensiaal bereik.

Wat is goeie leierskap? Kom ons kyk na die karaktereienskappe van twee inspirerende wêreldleiers uit die verlede, naamlik Winston Churchill en Franklin Roosevelt. Albei het ’n reuserol in die Tweede Wêreldoorlog gespeel. Albei het baie hoë energievlakke gehad, ten spyte van daarvan dat Roosevelt verlam was weens polio en Churchill fisiek nie sterk was nie.

Dié twee leiers was vasberade en het voortdurend hoop ingeboesem by hul volgelinge, soortgelyk aan Napoleon Bonaparte, wat gesê het “ ’n leier is ’n handelaar in hoop”.

In Suid-Afrika staan oudpres. Nelson Mandela kop en skouers uit as wêreldleier wat ’n voorbeeld gestel het met onselfsugtigheid, onuitputlike wilskrag en innige deernis vir ander mense. Hierdie soort leierskap het ’n groot rol gespeel in sy vermoë om die verskillende kulture en rasse in Suid-Afrika te versoen om saam ’n sterker nasie te bou.

Nicolaas Kruger

Leiers laat ander groei

Suid-Afrika het uitstekende sakeleiers, byvoorbeeld Johann Rupert, Laurie Dippenaar, ­Sizwe Nxasana, Johan van Zyl, Koos Bekker, Patrice Motsepe en vele ander.

Hierdie leiers speel ’n belangrike rol op vele terreine in die samelewing en het reeds ongelooflike geleenthede vir talle ander mense geskep. Jack Welch (voormalige hoof van General Electric), bevestig dit: “Wanneer jy ’n leier word, gaan dit daaroor om ander mense te laat groei.”

Die karaktereienskappe en leierskapfilosofie van ’n goeie leier is duidelik uit die voorbeelde van groot leiers hierbo. Waardegegronde leierskap is die kern van sukses as ’n leier en sluit die volgende eienskappe in: Integriteit, aanspreeklikheid, uitnemendheid, onbaatsugtigheid en ’n gees van diensvaardigheid, selfs geroepen-heid. Uitmuntende leiers stel altyd self ’n voorbeeld.

Die eertydse Amerikaanse generaal Charles Summerall se aanhaling is treffend: “ ’n Leier moet alles wees wat hy wil hê sy volgelinge moet word.”

Goeie leiers het verder ’n positiewe lewensuitkyk, is optimisties, entoesiasties en het dryfkrag. Hulle het selfvertroue en balanseer dit met toepaslike nederigheid en waagmoed om die onbekende aan te gryp.

Wanneer jy ’n leier word, gaan dit daaroor om ander mense te laat groei.

Leiers moet aanpasbaar wees

In die sakewêreld is dit kritiek om goed te kan luister en aanpasbaar te wees by die vinnige en konstante verandering wat hierdie omgewing kenmerk.

Sakeleiers moet ’n langtermynperspektief hê, verder in die toekoms kan sien en ’n visie van hoop skep. Hulle moet beslis wees in hul besluitneming, maar ook geduldig wanneer omstandighede dit vereis.

Gedurende die samesmelting van Metropolitan en Momentum het ons bestuurspan geleer om in ’n diverse omgewing ­sake te doen waar leiers hul styl dikwels by omstandighede moes aanpas.

Soms moet leiers geduldig wees en hul tydsberekening reg kies om die regte langtermyndoelwitte te bereik.

Suid-Afrika se historiese kompleksiteit is onmiskenbaar en manifesteer steeds in elke dimensie van ons samelewing. Ondernemings doen sake in ’n toenemend onsekere bedryfsomgewing. Oormatige ongelykheid, armoede en werkloosheid in die gemeenskap bly ’n ernstige probleem.

Daar is ’n paar belangrike vereistes vir Suid Afrika se leiers om hierdie uitdagings aan te pak:

¦ Die beginsel van waardegegronde leierskap is van kritieke belang. Populistiese leierskap is ongewens en glad nie volhoubaar nie. Korrupsie moet orals uitgeroei word.

¦ Ons leiers moet visioenêre leierskap onderskryf en sodoende hoop skep vir die toekoms. Ons het positiewe denke en inklusiewe nasiebou nodig, wat vir alle bevolkingsgroepe (en ook vir minderheidsgroepe) hoop gee.

¦ Politieke leiers, sakeleiers en gemeenskapsleiers moet baie nou saamwerk om ’n sukses van ons land te maak. Hierdie vereiste vir samewerking en die opbou van onderlinge vertroue is kern tot die suksesvolle uitvoering van die Nasionale Ontwikkelingsplan.

Positiewe visioenêre leierskap op alle vlakke van die ­samelewing is kritiek om Suid-Afrika op die regte pad te plaas.

Wat is Diskoers?

?Diskoers is ’n weeklikse rubriek oor leierskap wat Donderdae in Sake gepubliseer word.

Wie is Nicolaas Kruger?

Nicolaas Kruger het sy loopbaan 24 jaar gelede by Momentum begin, waar hy op 29 die hoofaktuaris en later uitvoerende groephoof was. 

Hy is tans uitvoerende groephoof van die genoteerde versekeringsgroep MMI Holdings, die beheermaatskappy van Momentum, Metropolitan, Guardrisk en Eris.

Sien uit na ?.?.?.

Volgende week skryf Brand Pretorius, ’n legende in Suid-Afrika se motorbedryf, vir Diskoers.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.