Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Nou pak sy matriek ná naelsalon-sukses
Tharien Hattingh gesels met Goodness Ndiweni van Goodness Gracious Nails, wat nou werklik die beste uit ’n slegte situasie gemaak het en nou het sy ’n baie suksesvolle naelsalon. Sy droom groot en wil vanjaar matriek verwerf (op 32-jarige ouderdom) en haar onderneming uitbrei tot ’n opleidingskool. Goodness het nie net ’n pragtige glimlag en ’n goeie sakesin nie, sy praat ook vlot Afrikaans.
Goodness Ndiweni van Goodness Gracious Nails. Foto: Tharien Hattingh

Wat is Goodness Gracious Nails?

Dit is my onderneming waar ek naels versorg. Ek spesialiseer in akriliese en jelnaels.

Waaruit bestaan jou onderneming?

Goodness Gracious Nails bestaan uit die spasie wat ek huur by ’n salon in Elarduspark in Pretoria.

Verder bestaan my onderneming uit my oondjies wat ek gebruik om naels te bak en al die produkte wat ek nodig het om naels te doen.

Natuurlik is die belangrikste element ek. Sonder my vaardighede en ondervinding sou Goodness Gracious Nails nooit bestaan het nie.

Hoe het jy besluit om uit naels ’n lewe te maak?

Ek het swanger geword toe ek nog ’n skoolkind was en kon ongelukkig nie skool klaar maak nie.

Ek wou nie net by die huis sit nie en ek wou bydra tot my gesin se inkomste. Ek het werk gesoek en ’n dame het my ingeneem by haar salon. Sy het my alles van ­naels geleer en gou het ek my passie vir naels en my kliënte ontdek.

Ek het vyf jaar lank as werknemer naels gedoen en toe besluit om my eie onderneming te begin.

Hoekom het jy besluit om op jou eie te gaan?

Ek het my kinders bitter min gesien terwyl ek nog ’n werknemer was. Ek was gebind deur my vaste werkure en het al vyfuur in die oggend die huis verlaat om met ’n bus by die werk uit te kom.

Ek was eers halfnege in die aand weer tuis. Ek kon glad nie bydra tot my kinders se opvoeding nie. Ek het ook besef deur vir iemand anders te werk, sou ek glad nie my eie inkomste kon vermeerder nie, maak nie saak hoe hard ek gewerk het nie.

Jy het al vyf jaar lank jou eie onderneming, hoe ervaar jy dit?

Stresvol, maar bevredigend. Dit is baie stresvol vir my, want ek moet alles self doen.

Ek moet my kliënte sien, afsprake maak, voorraad aankoop en my geldsake bestuur. Daar is ook nie meer die gewaarborgde vaste salaris elke maand nie. Maar ek is definitief buigsaam en kan my eie ure bepaal en ook die groei van my onderneming.

Jy praat vlot Afrikaans. Was Afrikaans jou huistaal as kind?

Nee. Terwyl ek geleer het om naels te doen was die tannies baie skepties oor my en ek het besluit ek gaan hul vertroue wen deur hul taal te praat. Vandag is ek en al my kliënte vriendinne en ons kuier lekker in Afrikaans. My werk het my ook baie selfvertroue geleer. Voorheen sou ek nie twee woorde met ’n vreemde persoon gesels het nie. Nou gesels ek elke dag ure. Gesels het deel van my onderneming geword.

Is dit waar dat van jou kliënte hul emosionele bagasie by jou aflaai in ’n naelafspraak, en hoe hanteer jy dit?

Ja, met elke afspraak praat ons oor ligte en swaar sake. Ek fokus met elke afspraak al my aandag op my kliënt en maak seker ek luister wat die kliënt sê.

Aan die einde van ’n dag is ek baie moeg en sê nie veel in die taxi op pad terug huis toe nie.

Jy pak vanjaar matriek aan. Hoekom is dit vir jou belangrik om matriek agter jou naam te skryf?

Ek wil graag my onderneming laat groei en ek weet met ’n kwalifikasie agter my naam gaan die deure net makliker vir my oopgaan. Ek dreig al jare om my matriek te doen en ek het besluit 2015 is dié jaar.

Hoe wil jy jou onderneming laat groei?

Ek gaan ’n skool begin waar ek ander vroue leer om naels te doen en dan ook hoe om hul eie salonne te bedryf.

Watter raad het jy vir ander vroue wat ook hul eie naelsalonne wil begin?

Wees seker dat jy goed met geld kan werk. Dit is sekerlik vir my die uitdagendste deel van my besigheid. Jy moet kan begroot en spaarsamig wees met jou geld.

Wat is jou raad aan kinders wat skool moet verlaat sonder om matriek te verwerf?

Ek verstaan dat die lewe nie altyd uitwerk soos ons beplan nie, maar maak seker dat jy so gou moontlik aangaan met matriek en dit agter jou naam kry.

Met ’n kwalifikasie agter jou naam kan jy baie vermag – en matriek is ’n kwalifikasie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.