Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Onderneming pas en draai suksesvol
Die wyses wil dit hê dat mense nie sake met familielede moet doen nie. Willie en Pieter Naudé, die twee broers van Turn On Engineering, maak dié beginsel op sy kop staan. Albei is in hul 60’s, maar nog glad nie lus om die tuig neer te lê nie, vertel hulle aan Tharien Hattingh.
Van links Pieter Naudé, Willie Naudé en Laurence Sebilo. Foto: Tharien Hattingh

Wat is Turn On Engineering?

Dit is ’n ingenieursfabriek wat masjienonderdele uit staal, aluminium, plastiek en verskeie ander stowwe vervaardig. Turn On Engineering doen werk op ’n projekgrondslag en kan enige onderdeel volgens die klant se spesifikasies vervaardig.

Ons het sowat 20 jaar gelede by ’n punt in ons onderskeie beroepe gekom waar die toekoms nie meer rooskleurig was nie. Ons is basies gedwing om uit die boks te dink om ons persoonlike en finansiële groei te verseker.

Ons het ons vaardighede saamgegooi en ’n klein onderneming in ’n motorhuis begin.

In daardie stadium het ons tesame sowat 40 jaar se draai-, pas- en programmeringsondervinding gehad en ons het geweet ons sal ’n sukses daarvan kan maak.

Saam het ons gewoeker met een draaibank en later meer, totdat ons ’n groter ruimte moes aanskaf. Ons besigheid het oor ’n tydperk van 18 jaar gegroei tot ’n suksesvolle onderneming.

Julle het in 2012 jul onderneming verkoop en in 2013 ’n soortgelyke onderneming geopen. Hoekom het julle besluit om weer toe te tree tot die mark?

Ons het in 2012 gedink ons is gereed vir ’n nuwe fase in ons lewe. Die behoefte het egter gou weer ontstaan om as broers saam te werk en, op ’n kleiner skaal, ’n onderneming op die been te bring.

In Desember 2013 is Turn On Engineering se deure geopen. Die keer was die begin van die onderneming aansienlik makliker, aangesien ons reeds ’n betroubare naam gehad het en ook kapitaal opgebou het.

Wat wil julle dié keer anders doen?

Ons wil ’n suksesvolle en mededingende onderneming bly, waar ons albei daagliks nou betrokke bly by die aspekte van die onderneming waarvoor ons ’n passie het.

Ons is albei in ’n tydperk van ons lewe waar ons wil doen waarvoor ons lief is. Pieter het ’n passie vir programmering en Willie is uitstekend met die klante.

’n Goue reël is om nie met familie sake te doen nie. Julle bewys beslis die teendeel. Hoe kry julle dit reg?

Sedert ons kinderdae het moeilike situasies oor ons pad gekom wat ons gedwing het om saam te staan en soos ’n span te werk. Dit het ’n band tussen ons gevorm wat verseker dat ons enige uitdagings saam kan oorkom.

Net soos in die lewe, werk ons verhouding perfek in ’n sakeomgewing. Ons vaardighede vul mekaar ook aan.

Julle is al jare in dié bedryf. Hoe het die manier waarop julle die masjinering doen, deur die jare verander?

Aan die beginjare is die meeste van die werk maar met die hand en met ’n verskeidenheid gereedskap en meetinstrumente gedoen. Later het die optimale benutting van tyd ’n groot rol begin speel en masjiene het die meeste van die mens se rol begin oorgeneem.

Vandag is ons is in die bevoorregte posisie om te spog met die nuutste Japanse tegnologie in die bedryf. Ons gebruik steeds die ouer draaibanke en ander masjinerie, maar is verstom oor die tegnologie en spoed van ons nuut aangekoopte masjiene.

Hoe beïnvloed beurtkrag julle bedryf?

Soos met enige ander onderneming is beurtkrag vir ons ’n ernstige krisis. Beurtkrag beïnvloed nie net ons produksie negatief nie, maar masjiene wat kan beskadig en breek, is vir ons ’n groot bekommernis.

Omdat ons egter ons eie werkure kan reël, begin ons soms vroegdag reeds werk om bogenoemde risiko’s te omseil.

Gehalte-dienslewering is ons hoofprioriteit. Werkskepping vir Suid-Afrikaners lê ons na aan die hart, maar met beurtkrag word veral kleinsakeondernemings beperk om werk te skep.

Julle begin daagliks met Skriflesing en gebed. Is dit deel van Turn On Engineering se suksesresep?

Ons is Christene en ons skei nie ons werklewe en persoonlike lewe nie, daarom maak ons God deel van ons onderneming. God is hier teenwoordig. Ons begin elke dag in Sy naam en skryf alle sukses aan Hom toe.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.