Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Entrepreneurs skep gemeenskapswinkelsentrums
Ontwikkelaars maak wins... én ’n verskil
Al hoe meer jong mense verlaat die korporatiewe wêreld omdat hulle nie net wil werk nie – hulle wil ’n verskil in die gemeenskap maak. Cobus Truter van Empiriq Development Solutions van Pretoria verduidelik hoe hulle ’n wins én ’n verskil maak.
Cobus Truter van Empiriq Development Solutions. Foto: Erica Venter

Wat is Empiriq? 

Empiriq bestaan uit ’n span jong professioneel gekwalifiseerde entrepreneurs, wat markgedrewe maatskaplik-ekonomiese sakegeleenthede ontwikkel. Dié geleenthede het as doelwit sowel winsgewendheid as ’n hoë maatskaplike impak. Empiriq fokus hoofsaaklik op onderontwikkelde gemeenskappe in Afrika.

By watter soort projekte is julle betrokke? 

Ons fokus hoofsaaklik op eiendomsontwikkeling in ontwikkelende gebiede, asook herwinbare energie. Tans is ons grootste projek Melana Developments, wat fokus op winkelsentrums en kleinhandelontwikkeling in ontwikkelende gebiede.

Kleinhandel in ontwikkelende gebiede is deesdae ’n gewilde onderwerp onder ontwikkelaars, hoe so? 

Daar word onderskat hoeveel geld in ontwikkelende gebiede invloei. In die verlede het die formele sakesektor grootliks die bodem van die ekonomiese piramide geïgnoreer. Dié mark se getalle en inkomste per gesin neem toe.

Met Melana Developments wil ons toesien dat die geld wat wel na die ontwikkelende gebiede vloei, nie net deurvloei nie, maar beter gekapitaliseer word.

Wat is die doel van die Melana Developments-projek? 

Om gemeenskapswinkelsentrums wat vir voetgangers bereikbaar is in dig bevolkte gebiede op te rig. Die Melana-projek verseker ook dat van die winkels in die winkelsentrums deur plaaslike inwoners besit en bestuur word en dat ’n gedeelte van die wins terugvloei na die gemeenskap deur middel van entrepreneursprojekte.

Hoe verstaan jy, wat in ’n goed ontwikkelde voorstad van Pretoria bly en jou eie motor besit, die behoeftes van ’n township-inwoner?

Ek en die res van die span het al baie tyd in dié gebiede deurgebring. Ons het al na aan township-inwoners gelewe.

Ons het navorsing gedoen oor waar hul geld vandaan kom en waaraan hulle dit spandeer, hoe hulle hul tyd spandeer en hoe produkte binne so ’n area vloei.

Ons werk ook nou saam met plaaslike entrepreneurs en glo dat dit een van ons mededingende voordele is.

Waar kom Empiriq se finansiering vir dié soort projekte vandaan?

Ons het verskillende vorms van finansiering. Een hiervan is ’n Amerikaanse beleggerspoel van individue met ’n hoë netto waarde wat in Afrika betrokke wil raak. Hulle is bereid om groot risiko’s te neem. Hulle meet hul opbrengste dus nie net aan monetêre opbrengs nie, maar ook aan die maatskaplike opheffing wat plaasvind.

Hoe het julle met hulle in aanraking gekom? 

Ons was betrokke by ’n liefdadigheidsprojek by ’n private skool in ’n township en het daar een van die beleggers ontmoet. Ons het onmiddellik gekliek en het letterlik deurnag gesels oor ons visie. Ons het die volgende oggend blad geskud en van toe af het die projek voortgesnel.

Julle was dus gelukkig?

Ja, tyd en geleentheid speel seker ’n rol, maar ons was voorbereid. Ons het ons huiswerk goed gedoen en was gereed om geleenthede aan te gryp.

Die meeste van jul projekte duur ­jare om op die been te kom. Hoe bly julle op kort termyn gemotiveerd?

Ons stel vir ons korttermyndoelwitte en as ons dit bereik, vier ons dit.

Daar heers ’n ontspanne kultuur in jul maatskappy. Wat is die denk­wyse daaragter? 

Ons kweek ’n kreatiewe korporatiewe kultuur. Ons wil altyd die energie van ’n nuwe onderneming behou.

Korporatiewe reëls en regulasies kan kreatiwiteit versmoor.

Daar is ’n tendens onder gekwalifiseerde jong mense om deur hul daaglikse werk ’n maatskaplike verskil te maak. Hoe ervaar julle dit?

Daar is ’n groot behoefte onder jong mense om te gee. Ons is gereeld in gesprek met dinamiese jong mense met dieselfde visie as Empiriq.

Die dae is verby dat mense skool toe gaan, dan ’n graad verwerf, net om te gaan werk en dan af te tree.

Die millenniumbabas is nie tevrede hiermee nie. Korporatiewe instansies verloor baie briljante jong mense omdat die behoefte so groot is om ’n verskil te maak.

Wat is jou raad aan ander entrepreneurs wat soos Empiriq dink?

Volhard. Ons het deur lang en moeilike tye gegaan voordat ons ’n deurbraak gekry het. Verder moet jy nie bang wees om jou idees met mense te deel nie.

Kry ook vennote wat jou aanvul, en vermy die begeerte om alles in jou onderneming te wil wees.

Lees nog:

■ ​Ontwerp 'n T-hemp en laat die skare mal gaan

■ ​Plaasmark word sake-broeikas

■ ​Sy het die X-faktor vir skoothondjies

■ ​Tandapasta-merke lei tot ma se sakedroom

■ ​Ligte, kamera aksie! (En hopelik sê sy ja)

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.