Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Diskoers
Piet Naudé: Leierskap pas aan by elke soort ‘slagveld’
Sake het in Junie 'n Diskoers oor leierskap begin wat elke Donderdag gepubliseer word. Vandag skryf prof. Piet Naudé, die direkteur van die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB), dat hy inspirasie uit leiers put wat met ’n sterk toekomsgerigtheid werk.

Ek was bevoorreg dat my pad met ’n verskeidenheid leiers in verskillende kontekste kon kruis.

Dit sluit in my ma, wat as jong weduwee haar gesin van vier kinders moes grootmaak tot hulle op hul eie bene kon staan, tot by Nelson Mandela, wat sonder bitterheid die moeilike pad van versoening gevolg het.

Ek put inspirasie uit leiers wat nie met ’n vaste idee van “leierskap” werk nie, maar juis verstaan dat verskillende omgewings selfs teenstrydige leierskapsoptrede verg. Soms is ’n lang proses van konsultasie nodig en is die leier meer ’n fasiliteerder van verandering.

’n “Konstante” eienskap van leiers bly onkreukbare integriteit

Maar dikwels vra die instelling of situasie dat besluite vinnig en beslis geneem word. Daar is die ou gesegde dat demokrasie nie op die slagveld en in die operasiesaal werk nie.

Maar ’n “konstante” eienskap van leiers bly onkreukbare integriteit. Dit is onmoontlik om mense te lei as hulle jou nie met toe oë vertrou nie. Dit beteken nie blindelingse instemming nie. Verskille en kreatiewe bevraagtekening gedy juis in ’n vertrouensverhouding.

Ek put ook inspirasie uit leiers wat met ’n sterk toekomsgerigtheid werk.

Dit beteken nie dat ’n leier altyd weet wat gaan gebeur nie. Maar leiers is vertolkers en skeppers van ’n toekomsvisie. Dit gee mense die gevoel van rigting, selfs al sou die finale uitkoms nie presies bepaal kan word nie.

As jy nie weet waarheen jy op pad is nie, sal jy daar uitkom (sien regstelling).

Leierskapsrolle beteken ook dat jy foute maak

Dit was my voorreg om in verskillende leierskapsrolle te kon dien. Dit is gelukkig ’n kuns wat ’n? mens allengs met ervaring kan verwerf. Dit beteken ook dat jy foute maak.

Daar is twee foute wat ek gemaak het:

¦ Een is om te dink geld (begrotings) los probleme op. Dikwels is die oënskynlike “probleem” ’n tekort aan geld, maar dit maskeer net ’n onderliggende kapasiteitsprobleem wat met meer geld selfs vererger kan word.

Daar is altyd maniere om meer effektief te werk. En jou grootste bate bly mense wat kreatiewe oplossings bedink en implementeer en met minder geld inderdaad meer vermag.

Innovasie het minder met nuwe produkte of dienste te make as met herontwerpte prosesse.

¦ ’n Tweede oordeelsfout van my was om mense se vermoë tot verandering te onderskat. Kontekste soos die kerk en die universiteit, waar ek meestal werk, is – weens hul lang institusionele geheue en ingeburgerde tradisies – bitter moeilik om te skuif. Dieselfde geld korporatiewe omgewings waar gister se sukses juis die struikelblok is om te verander met die oog op môre se wins.

Prof. Piet Naudé, direkteur van die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB) in Bellville, Kaapstad.

Besondere uitdagings in Suid-Afrika

Ek het al gesien hoe winsgewende maatskappye weens ’n gebrek aan aanpassing binne drie jaar uitgeboer het.

Soms word gevra of ons in Suid-Afrika unieke leiers met unieke eienskappe benodig. Die antwoord is “ja” en “nee”.

Dit is “nee” omdat faktore soos ’n dinamiese en onsekere omgewing, die impak van globalisering, tekort aan kundigheid en regeringsinmenging ook op ander plekke voorkom. Die aard en intensiteit verskil maar net.

Die idee van ’n heeltemal “unieke” omgewing in Suid-Afrika is die gevolg van gebrekkige kennis oor die wêreld buite ons land. Praat maar met leiers in Indië of Egipte.

Dit is tog ook in ’n beperkte sin waar dat ons hier met besondere uitdagings te make het:

¦ Daar is min lande waar leiers die vraag na post-apartheid- en post-koloniale regstelling so dringend en wydlopig moet beantwoord as hier (sien regstelling).

¦ Ons mengsel van hoë werkloosheid in ’n konteks van groot ongelykheid vereis buitengewone sosiale en entrepreneuriese vaardighede.

¦ Die spanning tussen die ideologie van ’n “ontwikkeling­staat” en die rol van die vrye mark is baie hoog (en word byvoorbeeld met Eskom tot ’n uiterste punt gedryf – ten goede).

Wat my opval oor ons geskiedenis is dat toe ons regtig leierskap nodig gehad het, was daar mense en instellings wat na vore getree het.

Ons het die reservoir van talent. Dis ’n kwessie van opstaan en doen wat gedoen moet word.

In hierdie sin is leierskap nie net vir “groot name” bedoel nie. Leierskap begin by self-leierskap in die klein of groot invloedsfeer waar elkeen van ons bevoorreg is om te werk en te lewe.

¦ Regstelling: In twee sinne het foute in die redigeerproses ingesluip. In die sin As jy weet waarheen jy op pad is, sal jy daar uitkom” was die skrywer se bedoeling: As jy nié weet waarheen jy op pad is nie, sal jy daar uitkom.” In Daar is min lande waar leiers die vraag na post-apartheid- en post-koloniale regstelling so dringend en wydlopig moet beantwoord as hier” was daar verkeerdelik ’n aksent op die na.

Dís die diskoers

Diskoers is ’n weeklikse rubriek elke Donderdag in Sake waarin van die land se voorste uitvoerende hoofde, akademici en sakeleiers hul perspektief oor leierskap gee.

Wie is prof. Piet Naudé?

Prof. Piet Naudé is sedert September 2014 die direkteur van die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB) in Bellville, Kaapstad. 

Hy was voorheen ’n adjunk-visekanselier van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth en direkteur van dié universiteit se sakeskool.

Naudé het al sy kwalifikasies – onder meer ’n doktoraat in teologie – cum laude aan die Universiteit Stellenbosch behaal en is tot op hede die enigste student wat sowel president van die studenteraad as ’n ontvanger van die kanseliersmedalje vir die beste finalejaarstudent is.

Sien uit na:

Volgende week skryf Marc Wainer, uitvoerende voorsitter van Redefine Properties, vir ons.

Vorige Diskoers

Vroeër het onder andere dr. Johan van Zyl, uittredende hoof van Sanlam, en Piet Mouton van die PSG-groep vir ons geskryf.

¦ ?Johan van Zyl: Leer jouself vroeg in jou loopbaan ken

¦ ?Piet Mouton: Wie nie lei nie, wen nie

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.