Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Rekenmeester kies boeke bó blink motor
Tharien Hattingh gesels met CD Hechter, ­eienaar van die onderneming Wize Books.
CD Hechter agter sy lessenaar by Wize Books in Pretoria. Foto: Tharien Hattingh

Wat is Wize Books?

Dit is ’n akademiese boekwinkel oorkant die Universiteit van Pretoria. Wize Books fokus op dienslewering aan studente deur mense wat studente verstaan.

Jy het in 2009 as geoktrooieerde rekenmeester gekwalifiseer en in 2010 het Wize Books se deure oopgemaak. Hoekom het jy die korporatiewe wêreld vir die entrepreneurswêreld verruil?

Ek het maar van doekedae af gewoeker met dít wat ek gehad het. Ek het reeds op skool rekenaars, televisies en videomasjiene gekoop en verkoop en het nog altyd ’n passie gehad vir sake doen.

Ek het ná my klerkskap die geleentheid gehad om vir ’n indrukwekkende korporatiewe instansie te gaan werk, vir ’n bypassende indrukwekkende salaris.

Maar geld is nie my dryfkrag in die lewe nie, passie en uitdagings laat my tick.

Die tyd was perfek ná my klerkskap. Ek het geen skuld of verantwoordelikhede gehad nie en kon voluit aan my eie onderneming aandag gee.

Ander klerke het ná hul klerkskap skuld gemaak om daardie netjiese nuwe motor te koop, terwyl ek in Wize Books se geboorte belê het.

Hoekom het jy op ’n akademiese boekwinkel besluit?

Ek het tydens my klerkskap die geleentheid raakgesien om handboeke vir die kwalifiserende raadseksamens vir geoktrooieerde rekenmeesters aan my medeklerke te verkoop.

Die onderneming het tydens my klerkskap so gegroei dat ek die potensiaal kon sien.

Hoe het jy Wize Books aanvanklik gefinansier?

Ek het agt jaar lank koerante afgelewer en het amper al my koerantgeld gespaar. Met die koerantgeld, so ’n bietjie klerkskapsalaris en met my ouers wat bereid was om ’n berekende kans te waag, kon ek aanvangskapitaal bymekaar skraap. Ek beskou my gesin se emosionele ondersteuning as deel van die aanvangskapitaal wat nodig was om Wize Books te begin.

Hoe het Wize Books in 5 jaar gegroei?

Wize Books is nie die stereotipe boekwinkel nie. Ons doen sake vanuit groot vraghouers.

Ons het begin met twee vraghouers en vandag word die onderneming uit agt vraghouers bedryf.

Ons hanteer ook deesdae die regstreekse verkope van akademiese boeke van heelparty universiteite en groot korporatiewe instansies, waarvoor ek baie dankbaar is. 

Hoe bemark jy jou onderneming?

Omdat ons fokus op studente en hul behoeftes is, bemark elke gelukkige en tevrede student Wize Books.

Uitstaande kliëntediens en om ’n glimlag op elke student se gesig te sien is nie net vir ons ’n missie en ’n visie nie, maar die passie wat in ons harte leef.

Watter rol speel die ontwikkeling en groei van e-boeke wat regstreeks aanlyn gekoop kan word?

Daar is sekere dinge in die sakewêreld waaroor jy beheer het en dan is daar dinge waaroor jy nie beheer het nie.

Ek het nie beheer oor die ontwikkeling en groei van tegnologie nie en ek weet verandering is op pad.

Dit is belangrik om ’n ingesteldheid van aanpasbaarheid te hê as jy jou eie onderneming bedryf en wil bou. Jy moet bereid wees om aan te pas by wat die mark wil hê. Die mark verander voortdurend en daarom is dit belangrik dat jy reg is wanneer die verandering kom.

Sou jy sonder jou kwalifikasie dieselfde onderneming kon bou?

My kwalifikasies en ondervinding as ouditklerk het my beslis gehelp in die bou en groei van Wize Books en ek is dankbaar daarvoor.

Ek wil wel noem dat daar een graad in die sakewêreld is wat verreweg die beste is, en dit is ’n ruggraat!

Watter raad het jy vir ander entrepreneurs oor die groei van ’n onderneming?

Ploeg so veel as wat jy kan finansieel terug. Dink aan jou onderneming as ’n enjin wat dalk vier of vyf of selfs tien gesinne aan die gang hou.

Dit sal jou help om jou eie behoeftes tweede te stel, ondergeskik aan dié van die onderneming. Op die duur gaan dit voordelig vir jou, jou gesin en elkeen van jou werknemers wees. Ek pluk elke dag die vrugte van die saad wat twee en drie jaar gelede gesaai is.

Watter ontnugterings het jy al as entrepreneur beleef?

As jy slegs 40 uur per week wil werk, is entrepreneurskap nie vir jou nie. Iemand het eendag vir my gesê ’n entrepreneur is iemand wat bereid is om 80 uur per week te werk, net om nie 40 uur per week vir iemand anders te werk nie.

En dit is waar.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.