Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Sakewêreld deur ’n rooskleurige bril
Tharien Hattingh gesels met Ilsé Joubert van I Focus Optometrists, wat ’n praktyk in Pretoria bedryf en tot onlangs toe ook twee praktyke in Kaapstad besit het, oor hoe mens 'n oogkundepraktyk as 'n entrepreneur benader.
Ilsé Joubert van I Focus Optometrists Foto: Tharien Hattingh

Jy het I Focus in 1995 op net 25 begin. Hoe het dit gebeur?

Ek het ná my studie vir ’n jaar onder twee uitstekende oogkundiges in Durban gewerk. Ek het baie by hulle geleer, van die studieveld tot hoe om ’n praktyk suksesvol te bestuur.

Ek was daarna deel van ’n span wat ’n groot praktyk in Pretoria op die been gebring het.

Nadat ek vir ’n paar maande daar gewerk het, wou ek my eie praktyk begin. Ek het die regte plek gevind en in 1995 is I Focus in Elarduspark in Pretoria geopen.

Jy het duur toerusting nodig om jou werk te kan doen. Waar het jy jou aanvangskapitaal gekry?

My pa was ’n entrepreneur in murg en been en was bereid om sy dogter te help om haar eie entrepreneursgees te laat leef. Hy het vir my sekuriteit by die bank gebied sodat ek my toerusting kon koop.

Hoe het dit jou bevoordeel om in ’n entrepreneurshuis groot te word? 

Dit het my geleer om hard te werk – baie hard! Ek weet dit klink soos ’n cliché, maar dit het my ook geleer dat waar daar ’n wil is, is daar ’n weg.

My pa en ma het my geleer dat elke probleem oorkom kan word, ’n mens moet dit net stappie vir stappie vat.

Ná 20 jaar van oë toets is jy steeds passievol oor jou werk. Hoe kry jy dit reg?

Ek is regtig mal oor wat ek doen. Ek maak seker dat ek altyd op die hoogte van die nuutste navorsing en tegnologie is en dit verseker dat ek nooit verveeld word nie. Ek soek gereeld uitdagings in my praktyk en in my veld.

Jy het vir sewe jaar twee praktyke in die Kaap van Pretoria af bestuur. Hoe het jy dit ervaar?

Dit was baie harde werk en ’n ongelooflike uitdaging en leerskool. Aan die begin het ek baie tyd in die Kaap deurgebring en seker gemaak die diens en toerusting is op dieselfde standaard as die praktyk in Pretoria s’n. Daarna het daaglikse Skype-sessies gevolg en ek het gereeld daar gaan inloer.

Dit is moeilik om ’n praktyk oor so ’n afstand doeltreffend te bestuur. ’n Mens moet 100% op jou span kan vertrou en dit het tyd geneem voordat ek ’n droomspan daar gehad het. Ek het die Kaapse praktyke onlangs aan ’n ander oogkundige verkoop wat nou ’n geleentheid het om die suksesresep verder te voer.

Watter uitdagings wag daar nog?

Ek en my man help tans met die opening van ons seun se praktyk in Pierre van Ryneveld in Pretoria. Dit is ’n ongelooflike ervaring om nog ’n jong entrepreneur te help om sy droom te bewaarheid.

Verder gaan ek vir seker nog lank in die beroep werk.

Watter eienskap maak jou praktyk suksesvol?

Persoonlike diens en aandag. Ons span is gefokus op ons pa­siënte. Dit is vir my belangrik dat die persoon wat jou oë toets, jou ook help om ’n brilraam te kies.

Jou praktyk is nie in ’n winkelsentrum nie. Hoe raak dit jou sake?

Ek kry nie inloopkliënte nie. Die meeste is verwysings van ander pasiënte en daarom is persoonlike diens en aandag van kardinale belang.

Watter aspek van die sakekant van jou praktyk is vir jou moeilik?

Skuldinvordering. Ek is absoluut pateties daarmee en haat dit om vir geld te vra. Dit is een van die min aspekte van my onderneming wat ek nie self hanteer nie.

Watter raad het jy vir aspirant-sake-eienaars?

Doen dit net! In my geval het dit vyf jaar geneem om ’n stabiele praktyk op te bou en as ek daardie vyf jaar teen die res van my lewe opweeg, sou ek dit nooit anders wou gehad het nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.