Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Selfs op jou ‘oudag’ kan jy werk skep
Tharien Hattingh gesels met Hantie Joubert, ’n fisioterapeut wat die Klippenbosch Spa naby Bronkhorstspruit oopgemaak het toe sy 61 jaar oud was.
Hantie Joubert, ’n afgetrede fisioterapeut, bedryf ’n suksesvolle spa in Bronkhorstspruit ­Foto: Tharien Hattingh

Jy het op 61 jaar ’n spa by jou huis begin. Hoekom het jy die stap gedoen?

Ek het vir byna 40 jaar as fisioterapeut gewerk en het besluit dit is tyd vir ’n nuwe uitdaging. Ons huis is op ’n kleinhoewe naby Bronkhorstspruit en die daaglikse ryery Pretoria toe het vir my te veel geword.

Ek en my man is al jare betrokke by die plaasgemeenskap en skole in ons omgewing en ons was bewus van die werkloosheidsprobleem. Ek het ’n behoefte gehad om jong meisies ná skool die geleentheid te gee om iets met hul lewe te doen.

My fisioterapie-agtergrond, ons kleinhoewe en die arbeidsaanbod in ons gemeenskap het die perfekte geleentheid vir ’n spa geskep.

Hoe het jy dit gefinansier?

Ek het nie regtig spaargeld daarvoor gehad nie en wou nie skuld maak of aan my pensioen raak nie. Ek het daarom besluit om te werk met wat ek het. Ons eiendom het op ’n unieke manier in al die behoeftes voorsien om ’n intieme spa op die been te bring.

Ek het klein begin en is oortuig daarvan dat dit juis dié faktor is wat die spa van die begin af  ’n rasende sukses gemaak het.

Hoe het die spa deur die jare gegroei en ontwikkel?

Aan die begin het ek net ses kliënte per dag ingeneem vir ’n voldagpakket. Dit was nog altyd my doel om organies te groei en op persoonlike aandag te fokus. Vandag, sewe jaar later, kan ons ’n maksimum van 10 voldagkliënte hanteer. Ek was baie geseënd en het al in die eerste maand ’n wins gemaak. Tans is ons maande vooruit vol bespreek.

Jy is passievol oor jou personeel, hoe so?

My onderneming kan nie bestaan sonder hulle nie. Ek maak seker dat ek ’n verhouding met elke werknemer bou en na hul persoonlike behoeftes omsien. Ek fokus daarop om my werknemers se vertroue te kry en hulle deurentyd konsekwent te behandel.

As ek sien ’n werknemer het ’n behoefte aan groter intellektuele stimulering, maak ek ’n plan. ’n Werknemer wat verveeld is, kan jou onderneming net skade berokken.

Ek betaal my personeel ook ’n goeie salaris.

Baie vroue droom daarvan om ’n spa te bedryf. Is dit so glansryk soos wat dit klink?

Nee. Jy moet baie hard kan werk en dit moet jou passie wees.

Ek werk lang tye en is betrokke by elke aspek van die onderneming en verseker op dié manier dat die gehalte van my diens op peil is. Ek het al heelwat spa’s gesien wat met groot verwagting hul deure open en dit maar net weer ná ’n paar maande toemaak. As jy nie ’n passie vir die bedryf het nie, gaan die harde werk en lang werktye jou onderkry.

Hoe bemark jy?

Ek bemark nie daadwerklik nie. Die mondkoerant bring vir my genoeg kliënte. Die meeste van my kliënte is ook herhalende besoekers. Een van my kliënte het nou vir haar 29ste spadag gekom.

Wat is jou toekomsplanne?

Ek is bewus van my ouderdom en die feit dat my energie nie altyd op dié vlak gaan bly nie, en is reeds besig om te beplan aan die kontinuïteit van die onderneming.

Watter raad het jy vir entrepreneurs?

Vind jou passie, dan sal sukses volg. Moet om geen ander rede as passie jou eie onderneming begin nie.

Die werkloosheidsprobleem in Suid-Afrika lê jou na aan die hart. Het jy ’n oplossing?

Dit is ’n enorme probleem en ek glo nie daar is ’n kitsoplossing nie.

Ons moet elkeen iets doen om die probleem te verlig. Ek probeer met die spa. As elke afgetrede mens met voldoende gesondheid en energie ’n klein onderneming begin en so werk skep, kan ons selfs op ons oudag ’n verskil maak.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.