Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Welsynsprojek
Só gaan Santa Shoebox van krag tot krag
Dié Kersfees sal 110 000 kinders skoendose oopmaak wat spesiaal vir hulle vol geskenke gepak is deur mense wat van hul tyd, geld en liefde vir die Santa Shoebox-projek gegee het. Tharien Hattingh het met Irene Pieters, stigter van dié welsynsorganisasie, gesels.
Irene Pieters, stigter van Santa Shoebox, saam met kinders wat van dié skoenbokse vol geskenke vashou. Foto: Patrick King
Daar is ’n groot lekkerte daaraan om vir ’n kind ’n speelding, ’n stel klere en lekkergoed uit te soek, dit mooi op te maak en om te weet jy maak ’n verskil. Mense het ’n behoefte daaraan om ’n verskil te maak.
Irene Pieters

Wat is Santa Shoebox?

Santa Shoebox is ’n liefdadigheidsprojek wat jaarliks vir minderbevoorregte kinders Kersgeskenke gee.

Hoe werk Santa Shoebox se proses?

Individue of korporatiewe entiteite registreer op ons webwerf en kies dan vanaf die webwerf ’n spesifieke kind of kinders en berei dan ’n geskenk vir daardie kinders voor. Die skenkers kies gewoonlik ’n kind in hul omliggende omgewing.

Daar is ’n lys van die minimum items wat in die geskenkboks geplaas moet word. Die lys van benodigdhede sluit noodsaaklikhede soos tandepasta en seep in, maar ook allerlei lekker dinge soos speelgoed en lekkergoed.

Nadat die skenker die boks voorberei het, word die boks met die kind se unieke kode gemerk en by een van ons satellietstasies afgelaai.

Vandaar word die geskenke tydens ’n spesiale geleentheid aan die kinders versprei.

Santa Shoebox is ’n rasende sukses. Hoekom is skenkers so mal oor dié projek?

Die projek verryk albei partye – die skenker en die ontvanger. Elke boks wat voorberei word, verskaf groot vreugde aan die skenkers en ontaard gewoonlik in wonderlike gesinsprojekte. Daar is ’n groot lekkerte daaraan om vir ’n kind ’n speelding, ’n stel klere en lekkergoed uit te soek, dit mooi op te maak en om te weet jy maak ’n verskil. Mense het ’n behoefte daaraan om ’n verskil te maak.

Hoe het jy by Santa Shoebox betrokke geraak?

Ek het vir 25 jaar as fisioterapeut gepraktiseer en moes noodgedwonge die praktyk verlaat aangesien ek osteoartritis in my hande gekry het. Ek het besluit ek moes nog iets met my lewe doen en het die geleentheid aangegryp om ’n tweede loopbaan te bou.

Ek het Dee Boehner, stigter van die Kids2Kids Trust, in 2006 ontmoet en sy het my van die idee van ’n Kersgeskenkprojek vertel. Die projek het nog nie bestaan nie en ek het besluit dit is net die ding vir my.

Hoe het Santa Shoebox gegroei?

In die eerste jaar, 2007, het ons gemik vir 600 bokse en ons het geëindig by 2 000 bokse. In die tweede jaar het ons gemik vir 5 000 bokse en ons het 8 000 bokse uitgedeel. Daarna het ons jaarliks ’n teiken gestel om die beplanning en die logistiek om die projek te vergemaklik.

Vanjaar het ons 110 000 bokse ingesamel. Ek verwys nou na Santa Shoebox as ’n mediumgrootte onderneming.

Santa Shoebox het in die Kaap begin en vandag is daar 66 satellietstasies landwyd en in Namibië.

Hoeveel mense is betrokke by Santa Shoebox?

Ek, as nasionale projekleier en trustee, is voltyds betrokke by Santa Shoebox en dan is daar nog vyf voltydse werknemers. Verder is daar jaarliks meer as 2 000 vrywilligers wat by die satellietstasies werk.

Hoe bly jy so passievol as jy voltyds aan ’n projek werk wat geen finansiële gewin vir jou het nie?

Ek is in die bevoorregte posisie dat my gesin nie van my salaris afhanklik is nie en daarom kan ek voltyds vrywillig aan Santa Shoebox werk.

Ek het ’n ongelooflike passie vir Santa Shoebox en die projek het my op paaie gelei waar ek nooit sou stap as ek nog ’n fisioterapeut was nie. Ek leer elke dag iets nuuts.

Ek kry te doen met skenkers, die media, mensehulpbronbestuur, projekbeplanning, bemarking en logistieke koördinering. My vaardighede het aansienlike toegeneem oor die afgelope paar jaar.

Deur die jaar werk ek baie hard agter die skerms en dan wonder ek wat my besiel, maar sodra ek die eerste boks uitgedeel het, is dit alles die moeite werd.

Hoe verseker julle dat elke boks wel by ’n kind uitkom en dan boonop by die regte kind ook?

Fyn beplanning! Elke satellietstasie het ’n goed opgeleide koördineerder en daardie koördineerder bou en mentor weer ’n span vrywilligers. Omdat ons met vrywilligers werk, vertrou ons in die goedheid van die vrywilligers en só kom die regte bokse by die regte kind uit.

Hoe ervaar die kinders dit?

Dit laat hulle stom. Die meeste van die kinders kan nie glo dat hulle iets ontvang wat net hulle s’n is nie, dat hulle alles binne die boks mag vat en gebruik nie.

Wat is Santa Shoebox se grootste uitdaging?

Om vars en interessant te bly. Om te verseker dat skenkers en borge geïnteresseerd in die projek bly.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.