Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Entrepreneursake
Speke van fiets-webwerf gons omtrént
Tharien Hattingh gesels met Gert Peens van Bikebay, 'n Johannesburgse onderneming wat tweedehandse fietse verkoop.
Gert Peens bedryf Bikebay, ’n aanlyn handelaar vir tweedehandse fietse. Foto: tharien hattingh

Wat is Bikebay?

Bikebay is my onderneming wat bestaan uit ’n webwerf en ’n vertoonkamer in Sunninghill, Johannesburg, wat tweedehandse fietse verkoop.

Hoe werk jou sakeproses?

Bikebay se vertoonvenster is ’n aktiewe webwerf. Alle fietse wat ek in voorraad het, word op die webwerf bemark en van daar af kan kopers my skakel en ’n afspraak maak om die fiets te besigtig.

Ek fokus ook daarop om met elke transaksie te verseker dat die koper se fiets aan al sy of haar behoeftes voldoen en die regte grootte vir die fietsryer is.

Klantediens is dus vir jou baie belangrik?

Klantediens is Bikebay se boustene. Die Bikebay handelsnaam is gebou op klantediens. Daar is verskeie ander afsetpunte vir die verkoop van tweedehandse fietse. Dit is dus Bikebay se persoonlike diens en aandag wat van die onderneming ’n sukses maak. 

Bikebay was ’n reeds bestaande onderneming wat jy gekoop het. Hoe het jy die geleentheid raakgesien?

Ek en die vorige eienaar is lid van dieselfde fietsryklub en ek was van die begin af geïnteresseerd in die onderneming. Toe die dag kom dat dit te koop is, het ek nie op my laat wag nie.

Hoe het jy die transaksie gefinansier?

Ek het aan my pa se deur geklop en teen sy afbetaalde huisverband geleen. 

Watter bates is by die koop ingesluit? 

Die webwerf en die handelsnaam. Die vorige eienaar is bekend in fietsrykringe in Johannesburg.

Was dit moeilik om by hom oor te neem en jou eie styl te vind?

Klante het die vorige eienaar vertrou en dit was dus my grootste taak om klante se vertroue te wen.

Dit is hier waar klantediens weer die kernaspek is. Sonder uitsonderlike klantediens kan daar nie vertroue gebou word nie.

Het jy terugkerende klante?

Ja, ek ontvang seker een oproep per week van ’n terugkerende klant wat nog ’n fiets wil koop of ’n ou fiets wil verkoop. Dit is bevredigend, want dan weet ek ek doen iets reg.

Jy werk voltyds as ’n meganiese ingenieur in ’n spesialisveld in die openbare sektor. Hoe kry jy dit reg om ’n gebalanseerde leefstyl te handhaaf?

Dit is baie moeilik. My tekort aan tyd is my grootste uitdaging en daarom het ek baie selfdissipline geleer.

Dit is belangrik om take so gou moontlik af te handel en nie uit te stel nie. Môre het sy eie probleme, so jy moet vandag se probleme onmiddellik oplos.

Dit is ook vir my belangrik om professioneel by my werk te wees en ek fokus daarop om ­Bikebay en my voltydse werk te skei. 

Heelparty mense begin ’n tweede loopbaan saam met ’n veeleisende voltydse werk, net om kort daarna moeg en uitgebrand die handdoek in te gooi. Wat is jou raad vir hierdie situasie?

Identifiseer ’n sakeonderneming met lae risiko’s en doen deeglik navorsing oor of die onderneming by jou leefstyl gaan inpas.

Ek het maande lank gaan kyk hoe werk Bikebay en hoeveel tyd en energie die vorige eienaar daarin moes sit.

Hoeveel tyd bestee jy per dag aan Bikebay?

So twee tot drie uur. 

Hoe beplan jy om Bikebay te laat groei met jou beperkte tyd? 

Ek kan Bikebay tot 1,5 keer van wat dit vandag is laat groei. Daarna sal ek ’n deeltydse assistent moet aanstel. Ek sal meer daadwerklike bemarking moet doen vir Bikebay om uit te brei en dit is deel van my toekomsplanne.

Sal jy in ’n stadium al jou tyd aan Bikebay wil bestee?

Ja, vir seker. Ek sal ook dan daarop fokus om by meer sake-ondernemings betrokke te raak. 

Wat het jy tot dusver geleer uit die bedryf van Bikebay? 

Om ’n sakeonderneming te bedryf is ’n aanhoudende leerproses en ek moet weer noem dat selfdissipline van kardinale belang is.

Hoe het die fietsrygemeenskap in die laaste paar jaar gegroei en verander?

Mense is deesdae gesondheidsbewus en fietsry pas perfek by hierdie leefstyl in.

Daar word altyd verwys na gholf as die sport waar sake gedoen word. Kom ry een naweek saam met ons klub fiets en jou mond sal oophang oor die sakegeleenthede wat daar kop uit steek.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.