Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Harde werk agter die kospotte
Spyseniering sit kos op die tafel
Dough Catering is die spyseniersonderneming van Dylan, Mariette en Chani Maré. Mariette gesels met Tharien Hattingh oor kosmodes, lang ure en hoe dit is om saam met familie te werk.
Van links is Chani, Dylan en Mariette Maré van Dough Catering. Foto: Tharien Hattingh

Wat is Dough Catering?

Dough Catering is my en my man en skoonsuster se spyseniersonderneming. Ons fokus op eksklusiewe private funksies en verkoop ons kos op markte.

Hoe het Dough Catering ontstaan?

Ons al drie het in ons twintigs sowat tien jaar lank oorsee gebly.

Ons het die meeste van ons tyd oorsee op bote gewerk en só ondervinding opgedoen in die gasvryheidsbedryf.

Terug in Suid-Afrika moes ons ’n lewe maak en ek en ­Chani het besluit om koeke te bak en Dylan het ’n spitbraai-onderneming begin. Van daar het die twee ondernemings saamgesmelt en gegroei tot waar ons vandag vanuit ’n permanente perseel spysenieringsdienste aanbied.

Sal julle dit ooit oorweeg om ’n restaurant oop te maak?

Ek en Chani was al betrokke by die oprig en bestuur van twee restaurante. Ons het vinnig besef dit is nie vir ons nie. Die herhaling en eentonigheid van die restaurantbedryf, asook die beperkte kreatiwiteit wat binne ’n restaurant toegepas kan word, is nie vir ons nie.

Ons hou daarvan om kreatief te wees en nuwe dinge te probeer. Elke geleentheid wat ons doen, is anders. Die plekke, mense, spyskaarte en geleenthede verskil.

Hoekom is Dough Catering ’n sukses?

Ons is al diep in ons dertigs en Dough Catering is al wat ons het, so dit moet net werk. Daarom is ons bereid om baie hard te werk. Ons probeer ook altyd so kreatief moontlik wees met dit wat ons aan ons kliënte bied.

Hoe het julle die begin van Dough Catering gefinansier?

Ons het klein begin, so finansiering was nie nodig nie. Ons is dankbaar dat ons sedert die begin van Dough Catering in 2009 nog nie ’n sent geleen het nie.

Hoe is dit om saam met familie te werk?

Dit is moeilik en maklik. Moeilik omdat jou kollegas elke aand saam met jou huis toe gaan, en dus jou werksprobleme en konflik ook.

En maklik omdat jy hulle met jou besigheid vertrou en weet julle het meer as net gedeelde sakebelange.

Daar is ’n siening dat die gasvryheidsbedryf net maanskyn en rose is. Is dit waar?

Enigiemand wat dink dit is maklik in die bedryf, moet gerus ’n week lank by ons kom werk. Dit is baie harde werk en lang ure. Jy ruik altyd soos kos, kry warm agter die kospotte en jou voete is seer. Jy moet regtig ’n passie vir hierdie bedryf hê.

Wat is Dough Catering se toekomsplanne?

Ons wil graag ’n wegneemetewinkel oopmaak. Dit is vir ons ook belangrik om te groei met die private geleenthede wat ons doen, maar ons wil nooit ons eksklusiwiteit verloor nie. Ons eie onthaallokaal is ook ’n groot droom.

Julle onderneming het ontstaan uit ondervinding wat julle oorsee opgedoen het. Is ’n formele kwalifikasie nodig om ’n suksesvolle entrepreneur te wees?

Ons oorsese ondervinding het definitief ons koppe oopgemaak en het ons geleer daar is interessante maniere om ’n lewe te maak. Ons sal ons eie kinders aanmoedig om ons paadjie te stap en die wêreld te gaan verken en dan self te besluit hoe hulle wil ­lewe. Ons het wel eers formele kwalifikasies gekry voordat ons oorsee is en dit dra by tot aspekte van die bestuur.

Wat dink julle van die Banting-gier en bring julle dit in julle spyskaarte in?

Ek, as gekwalifiseerde dieetkundige, ondersteun nie Banting nie. My filosofie is om altyd matigheid voor oë te hou. Jy kan van alle voedselgroepe eet, solank jy dit matig doen.

Wat is julle grootste uitdaging?

Personeel. Dit is moeilik om personeel te kry wat net soveel passie soos ons het. Ons maak ­gereeld van tydelike werknemers gebruik vir geleenthede. ’n Tydelike werknemer het maar net nie dieselfde werksetiek as ’n permanente werknemer nie.

Volg julle kosneigings en modes?

Ja, ons moet. Omdat ons in ­mense se huise vir hul private geleenthede kos voorsien, moet ons bewus wees van modes en neigings.

Sal julle ooit ’n kostrokkie wil hê?

Dit is tans ’n gewilde neiging in die buiteland, maar Suid-Afrika het net nie dieselfde atmosfeer en straatlewe nie. Ons hou baie van die idee, maar is nie oortuig dat dit hier sal werk nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.