Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Dié dierehotel bied ’n tuiste so goed soos eie huis
Sy het die X-faktor vir skoothondjies
Ineke Ann Boyle bedryf ’n “dierehotel” vir skoothondjies in Johannesburg. Tharien Hattingh het by dié entrepreneur van Must Love Dogs (en natuurlik haar honde) gaan kuier.
Ineke Ann Boyle, wat Must Love Dogs, ’n “hondehotel” in Johannesburg bedryf. Foto: Tharien Hattingh

Wat is Must Love Dogs?

Must Love Dogs is ’n hondehotel wat spesialiseer in skoothondjies en die behoeftes van skoothondjies.

Skoothondjies word anders gehanteer as groter honderasse en is in die meeste gevalle meer as net ’n waghond vir die eienaars.

Must Love Dogs fokus daarop om vir skoothondjies ’n tuiste te gee wat dieselfde spesiale aandag en verblyf verskaf as wat hulle tuis kry.

Must Love Dogs voorsien ook gemoedsrus vir die eienaars, wat in baie gevalle ’n baie sterk band en verhouding met die skoothondjie het.

Waar het jy aan die idee gekom?

Ek het deur ’n tyd in my lewe gegaan waar my honde letterlik my enigste ligpunt was. Ek het besluit om ’n nuwe uitdaging aan te pak en het geweet dit sal my honde moet insluit omdat hulle my lewe gered het en my passie in die lewe is.

Die idee van Must Love Dogs het in my kop begin vorm aanneem en aan die begin het dit soos ’n belaglike idee gelyk, maar dit het vinnig tot ’n uitvoerbare en boonop winsgewende idee ontwikkel.

Waar het jy finansiering gekry?

Ek het my sakeplan aan ’n suksesvolle sakeman en kennis voorgelê. Hy het my idee goedgekeur en was bereid om my die geld te leen.

Hoe het jy geweet jou idee gaan werk?

Ek het dit net geweet. Ek het al in die verlede met sake-idees na beleggers toe gegaan en dan was ek te bang om hul geld te aanvaar, want ek was self nie oortuig dat ek genoeg passie het om ’n sukses daarvan te maak nie.

Maar dié keer het ek geweet my passie is meer as genoeg.

Must Love Dogs is ook gebore uit so ’n donker deel van my lewe dat ek ongelooflik dankbaar vir die onderneming is. Dit dryf my om suksesvol te wees.

Wat het jy gedoen voor Must Love Dogs?

Ek was ’n heeltydse werknemer by ’n advertensiemaatskappy.

Is daar mense wat dink ’n skoothondjie-hotel is verregaande?

Baie mense dink dit is belaglik, maar skoothondjie-eienaars verstaan die konsep en ondersteun dit.

Het jy dit al oorweeg om ’n afdeling vir groter honde of selfs katte oop te maak?

Ja, maar ek weet my spesialiteit en passie is klein hondjies. Ek wil daarop fokus en bekend wees in die mark om my spesialiteit. As ’n mens te veel diversifiseer, verloor jy jou X-faktor.

Hoe keer jy dat jou finansies wipplank ry, aangesien ’n dierehotel ’n seisoenale onderneming is?

Ek het geleer om te begroot en my geld goed te bestuur. Jy moet altyd voorsiening maak vir die stiller maande.

Ek is baie gelukkig dat my onderneming jaarliks groei en dat my besprekings ook regdeur die jaar toeneem.

Must Love Dogs het deesdae ook heelwat inwoners buite die gewilde vakansietydperke.

Het Must Love Dogs mededinging en hoe hanteer jy dit?

Daar is nog nie ’n soortgelyke dierehotel in Suid-Afrika nie. Ek ontvang wel baie navrae van aspirant-eienaars van ’n dierehotel wat graag in skoothondjies wil spesialiseer, maar niemand lewer al dieselfde diens as Must Love Dogs nie.

Ek sal eintlik graag mededinging wil hê. Ek is ’n mededingende persoon en mededinging sal my druk om ’n nog beter diens te lewer en innoverend te wees.

Wat is jou grootste les tot dusver?

Jy kan nie alles self doen. Jy moet leer om te vertrou en mense op te lei om jou te help met jou onderneming. Dit was vir my ook moeilik om grense te stel.

Ek het aan die begin gevoel ek moet 24 uur per dag beskikbaar wees sodat ek nie kliënte verloor nie. Daardie redenasie kan ’n mens maklik by ’n punt van uitbranding bring.

Wat is Must Love Dogs se toekomsplanne?

Definitief om uit te brei. Daar is landwyd ’n groot vraag na die soort diens wat ons lewer. Ek kyk op die oomblik na franchise-moontlikhede.

Ek wil ook graag my kreatiewe vlerke strek en Must Love Dogs-produkte ontwerp en verkoop. Dit is my droom om Must Love Dogs in ’n sterk en bekende handelsnaam te ontwikkel.

Wat is jou raad aan ander entrepreneurs?

As jy die kans waag om jou eie ding te doen, moenie dat iemand jou kreatiwiteit en idees beperk nie.

Leef jou unieke droom.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.