Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Geduldige personeel n baie belangrike bate vir dieresalon
Sy het ’n sagte plekkie vir ander se dierekinders
Simoné Jordaan van Glamour Pets in Pretoria sê as jy met diere werk, beter jy onthou dis mense se “kinders”. Sy verduidelik ook aan Tharien Hattingh hoe sy die seisoenale aard van dié onderneming bestuur.
Simoné Jordaan in haar dieresalon, Glamour Pets, in Pretoria. Foto: Tharien Hattingh

Wat is Glamour Pets?

Glamour Pets is ’n salon wat in die versorging van honde en katte spesialiseer. Glamour Pets bied ook ’n vervoerdiens wat troeteldiere op- en aflaai vir hul salonafsprake. 

Hoekom het jy die onderneming begin?

Ek het as tandartsassistent gewerk en was nie mal oor my werk nie. Ek het nog altyd ’n passie vir diere gehad en wou graag eerder met diere werk. Ek het ’n alternatiewe bron van inkomste gesoek en eers met ’n hondeskool geëksperimenteer en toe op die idee van ’n hondesalon gekom. 

Lees ook: ​Sy het die X-faktor vir skoothondjies

Hoe lank bestaan Glamour Pets al?

Glamour Pets is vanjaar vyf jaar oud. 

Wat was die proses totdat Glamour Pets geopen is?

Terwyl ek nog by die tandarts gewerk het, het ek ’n kwalifikasie in troeteldierversorging verwerf. Daarna het ek ’n plek gesoek om te huur vir my hondesalon.

Ek was baie gelukkig en het die perfekte plek, reg langs ’n dierekliniek, gevind. Ek het al my toerusting en produkte gekoop, ’n stilis aangestel en so het Glamour Pets se deure geopen. 

Hoe het jy die begin van jou onderneming gefinansier?

My man het my aan die begin bygestaan en verseker dat ek al die rekeninge kon betaal. 

Is ’n hondesalon ’n seisoenale onderneming?

Ja. Die wintermaande is beslis stiller as die somermaande. 

Hoe hanteer jy die stiller tye?

Dit is die ding van hierdie bedryf. Jy is bekommerd oor die stiller maande, maar dan ervaar jy weer net so baie stres in die besige maande en weet nie hoe jy by al jou kliënte gaan uitkom nie.

Dit is asof die somer vir die winter sorg. Dit is vir my baie belangrik dat ek in die wintermaande genoeg sake doen om steeds my personeel te kan behou en betaal.

Van die ander salonne verminder elke winter hul personeel, om net weer in die lente personeel aan te stel. My personeel is vir my te kosbaar, ek kan hulle nie net laat gaan en weer aanstel soos dit my begroting pas nie. Jy werk met mense se diere- “kinders”. Uitstekende diens en geduldige personeel is dus van kardinale belang. 

Hoe verseker jy dat jou personeel mooi met elke dier werk?

Ek is baie geseënd dat al vyf my personeellede en my vennoot mal is oor diere en met die grootste sorg en liefde na die diere omsien. Dit is vir my belangrik om goed na my personeel om te sien en daarom is die werkure billik, asook die betaling en bonusse. 

Wanneer en hoekom het jy ’n vennoot gekry?

Met die geboorte van my eerste kind het ek besef ek gaan nie altyd alles by die onderneming kan hanteer nie. ’n Vennoot was my logiese oplossing. Ek het na ’n vennoot gesoek wat net soveel liefde het vir diere en vir wat ons het. 

By watter aspekte van die onderneming is jy betrokke?

Alles. Ek was, sny en blaas hondjies. Ek doen al die administrasie van die onderneming en maak seker die geldsake is op datum. Glamour Pets hou my baie besig. 

Wou jy al ooit moed opgee?

Nee. Ek werk harder as wat ek ooit vir ’n baas gewerk het, maar dit is lekker. Finansieel kon ek van die eerste maand af al my uitgawes dek, en ek is baie dankbaar daarvoor. 

Hoekom is Glamour Pets ’n sukses?

Glamour Pets is nie ’n worsmasjien nie. My missie was nog nooit om sakke vol geld te maak nie, maar om gehaltediens te lewer.

Ons fokus ook daarop om ’n verhouding met elke hond en eienaar te bou. Die feit dat die onderneming op dieselfde perseel as ’n veearts geleë is, tel ook in ons guns. Ons dienste vul mekaar aan.

Is daar honde wat vaste afsprake het?

Ja, ons het honde wat weekliks inkom vir hul versorgingsessies.

Wat is jou raad aan entrepreneurs wat ’n dieresalon wil begin?

Jy moet baie van diere hou en bereid wees om hard te werk. Omdat jy met mense se “kinders” werk, moet jy persoonlike aandag aan elke “kliënt” en eienaar gee.

Wat is die slegste deel van jou onderneming?

Om verwaarloosde honde en katte te sien. Daar is mense wat glad nie na hul troeteldiere omsien nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.