Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Tegnologie gemaak vir stofstrate
Mobiele betaalpunte kan kleinsake help
Informele kleinhandelaars en entrepreneurs in opkomende markte het instrumente en tegnologie nodig wat vinnige, veilige en betroubare transaksies, soos die verkoop van lugtyd en voorafbetaalde elektrisiteit, kan behartig. Nomanini is ’n Kaapse tegnologie-onderneming wat dié geleenthede aangegryp het. Vahid Monadjem, medestigter en uitvoerende hoof van Nomanini, en Kuda Mushambi, handelshoof, het aan Liana Mocke verduidelik hoe hulle tegnologie inspan.
’n Voorbeeld van een van Nomanini se robuuste mobiele betaalpunte, die Lula, wat in informele markte in Suid-Afrika gebruik word.

Hoekom is die onderneming gestig en wat beteken jul naam?

Die maatskappy is in 2010 gestig deur Vahid en Ali Mona­djem. Nomanini beteken “enige tyd” in Swati.

Informele handel en kontantaankope is die norm in Afrika, maar dit gaan saam met risiko’s en koste.

Oral in Afrika word krapkaarte byvoorbeeld meestal gebruik om lugtyd te verkoop, maar selfs hiermee is daar toenemend probleme en winsgrense wat krimp weens die bestuur van groeiende voorraad.

In 2010 het die stigters, met ’n sterk belangstelling in die wisselwerking tussen tegnologie, informele markte en ontwerp, ’n geleentheid raakgesien met die sowat 250 000 mini­bustaxibestuurders wat moes aanpas by inkomste wat onder druk gekom het met die regulering van tariewe te midde van duurder petrol.

Ons het besef as taxibestuurders byvoorbeeld lugtyd aan hul passasiers kan verkoop, sou dit ’n ideale oplossing wees.

Ons kon nie ’n bestaande betaalpunt kry wat vinnig en betroubaar kon wees vir taxibestuurders nie. Wagtyd vir koppeling aan ’n netwerk kan ’n bestuurder se aandag aflei as hy moet bestuur.

Ons het oplossings vir die taxibedryf getoets en besef daar is ’n duidelike gaping in die informele kleinhandelsektor vir ’n vinnige en eenvou­dige voorafbetaalde verspreidingstelsel wat met onbetroubare netwerkkoppeling kan werk.

Vahid Monadjem

Jul toestelle word as baie stewig en robuus beskou. Wat behels dit om sensitiewe elektronika te bou vir ’n toestel wat in stowwerige, modderige of nat toestande gebruik moet word?

Op die oomblik is die eerste weergawe van ons betaalpunt-terminaal deur die SABS gesertifiseer. Dit het ’n valtoets van 1,5 meter op ’n sementblad geslaag en ons gebruik ’n spesiale ink wat nie sal verdof nie.

Met hoeveel werknemers het julle die maatskappy begin en hoeveel werk vandag vir julle?

In 2011 het ons vyf werknemers gehad en vandag is ons ’n span van 14.

Waar word jul toestelle gebou?

Ons is ’n trots Suid-Afrikaanse onderneming met twee vervaardigingsaanlegte (vir sowel die plastiek- as elektronika-komponente) in Kaapstad. Hier word die toestelle gebou en aanmekaar gesit.

Hoeveel transaksies word per maand verwerk?

Ons het nagenoeg 1 000 aktiewe toestelle in Suid-Afrika, Kenia, Namibië, Ghana, Zambië en Mosambiek. Dit genereer een miljoen eindverbruik-transaksies per maand, met sowat 800 tot 2 000 transaksies wat per betaalpunt per maand plaasvind.

Kuda Mushambi

Wat dryf die vraag na draagbare betaalpunt-toestelle?

Ondernemings wat ons elektroniese betaalpunte gebruik, word meestal gedryf deur ’n behoefte om krapkaarte uit te faseer. Die druk op bedryfskoste is ook een van die groot drywers. Mobiele operateurs verlaag die marges beskikbaar vir verspreiders en informele kleinhandelaars. Verder besef mense hulle kan moontlik inkomste verdien uit ander produkte wat hulle met ’n elektroniese platform aan informele gemeenskappe kan bied.

Die persepsie is dat Suid-Afrika se internet stadig en duur is, terwyl sommige ander lande in Afrika nou al vinniger en goedkoper internet geniet – is dit waar en hoe deurslaggewend is dit vir groei, entrepreneurskap en ekonomiese ontwikkeling?

Hoewel dit belangrik is, is die spoed van die internet nie so ’n groot faktor soos wat blote toegang tot die internet is nie. Dit is so dat Suid-Afrika soms ly onder stadige en duur internet en dit is iets waaraan ’n mens aandag moet gee. Maar die eintlike kwessie raak Afrika as ’n geheel. Afrika raak agter met internettoegang en om gemeenskappe te bereik wat die produkte en dienste nodig het wat die res van die wêreld geniet.

Suid-Afrika, soos die res van Afrika, loop die risiko om agter te raak. Ons besef ons moet aanpas by tegnologie wat nou beskikbaar is om belangrike produkte en dienste te bied.

Hoekom is jul hoofkantoor in Kaapstad?

Ons het in Kaapstad die regte tegniese mengsel van kundigheid in byvoorbeeld sagteware-ontwikkeling en vervaardiging gevind. Kaapstad se ligging met betrekking tot informele markte laat ons span toe om met die eindverbruikers van ons produkte kontak te maak.

Julle het ’n adviesraad. Wat is hul rol in Nomanini?

Die adviseurs tree op as klankborde vir vrae wat opduik wanneer jy iemand nodig het om die breë prentjie te sien. Hulle kan insig en kennis bied oor die bedryf of oor die fase van ontwikkeling waarin ’n maatskappy is. Hulle kan ook die rol speel van ’n betroubare berader.

Wat hou jul toekoms in?

Ons missie is om die voorkeur-oplossing te wees vir transaksies in informele markte en ons het ’n doelwit om teen 2020 een miljoen betaalpunte te hê.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.