Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Toekoms is sekskliniek in elke stad
Tharien Hattingh gesels met dr. Elna Rudolph van MySexual­Health.co.za.
Dr Elna Rudolph. Sy is ’n huisdokter wat gespesialiseer het in seksuele gesondheid. Foto: Tharien Hattingh

Wat is MySexualHealth.co.za?

Dit is my praktyk, wat bestaan uit ’n multidissiplinêre span van dokters, seksuoloë en ander beroepslui wat fokus op alle aspekte van seksuele gesondheid.

Hoe het MySexualHealth.co.za begin?

Nadat ek as mediese dokter gekwalifiseer het, het ek vir ’n ruk in Engeland gewerk.

Daar het ek gesien dat omtrent elke voorstad ’n kliniek het wat fokus op seksuele disfunksie en probleme in die genitale area van mans en vroue. Ek het die gaping in die Suid-Afrikaanse mark spesifiek vir dié soort praktyk raakgesien. In 2010 het ek met die hulp van Intercare ’n soortgelyke praktyk op die been gebring en in Junie 2013 het MySexualHealth.co.za se deure geopen.

Het jy enige aanvullende kwalifikasies?

Ek het ’n meestersgraad in seksuele gesondheid aan die Universiteit van Sydney verwerf, asook ’n hoër diploma in seksuele gesondheid en MIV hier in Suid-Afrika. Ek het ook opleiding by die Europese Vereniging vir Seksuele Gesondheid in Amsterdam ontvang.

Waar kom jou belangstelling in die vakgebied vandaan?

Dit was maar net genade! Ek moet sê dat dit nou nie ’n kinderdroom van my was nie. Seksuele gesondheid het my gekies; ek het dit nie gekies nie. Ek was nog altyd passievol oor verhoudings en is nou baie bly dat ek mense kan help juis met daardie mees intieme deel van hul verhouding, wat soveel uitdagings kan inhou.

Hoe bemark jy jou onderneming?

Suid-Afrikaners is in die algemeen konserwatief met hul bedsake en daarom doen ek moeite om op ’n subtiele manier goeiegehalte-inligting aan die publiek te gee.

Ek skryf gereeld artikels vir tydskrifte, lewer praatjies en neem aan mediaplatforms deel. Pasiënte basuin nie regtig hul seksuele behandeling aan die wêreld uit nie, en daarom is word-of-mouth nie my grootste bemarkingsmiddel nie, maar dit gebeur tog.

Hoe het jou onderneming gegroei?

Die eerste ruk het ek net een pasiënt per week gesien. Dit het gegroei tot een per dag en nou is ek van die oggend tot die aand volbespreek. In my praktyk in Pretoria is daar reeds ’n ander dokter wat in dié rigting spesialiseer en ek het ook onlangs ’n kliniek in Kaapstad geopen.

Ons het ook ’n dokter in Johannesburg wat maandeliks ’n kliniek in Witbank bedryf.

Wat was vir jou die grootste struikelblok in die proses om jou eie praktyk oop te maak?

Toe ek van Intercare weggebreek het en op my eie voete moes staan, het ek besef hoe administratief-intensief ’n praktyk is. Dit was moeilik om die perfekte diensverskaffers en administratiewe en boekhousagteware te vind. Ek het baie skoolgeld in dié verband betaal.

Jou praktyk is 100% papierloos. Waarom het jy die roete gekies?

Vandag se tegnologie laat ons toe om alles elektronies te doen. My pasiënte voltooi voor ’n konsultasie ’n elektroniese vraelys op hul eie aanlyn profiel en dit vergemaklik my voorbereiding vir hul afspraak. Dit bevorder ook die vertroulikheid van pa­siëntinligting.

Omdat ek toegang het tot al hul data, kry ek ’n meer holistiese beeld van die pasiënt. Dit is die toekoms vir medisyne.

Jou spreekkamer lyk glad nie soos die tipiese een nie. Hoe so?

Seksuele uitdagings is die mens se mees intieme kwessies en daarom moet pasiënte op hul gemak wees in my spreekkamer. Dit het ’n sitkamergevoel en daar is ’n aparte ondersoekvertrek. Dit is belangrik dat daar skeiding is tussen die intieme gesprekke en die fisieke kliniese ondersoek.

Wat laat jou praktyk slaag?

My personeel. Dit is baie belangrik om mense om my te hê wat die visie van die praktyk 100% aanvaar en wat altyd goeie, vriendelike diens aan pasiënte lewer sodat hul ervaring so positief moontlik kan wees.

Ek het ook ’n goeie verhouding met al die ander goed gekwalifiseerde seksuoloë en mediese diensverskaffers in my omgewing opgebou. Ek kan nie my werk sonder hul samewerking doen nie.

Hoe verhoed jy dat jy uitbrand?

Ek sien gereeld iemand om my kop skoon te hou en verder mik ek na ’n gebalanseerde lewe. Ek sukkel wel om af te skakel, want my werk is my absolute passie.

Hoe lyk jou toekomsplanne?

Dit is my droom dat daar in elke stad in Suid-Afrika ’n MySexualHealth.co.za-kliniek sal wees. Ek wil hê mense moet weet waar om oplossings te kry. Ek sien ook die potensiaal om na ander lande uit te brei waar daar nie private seksuele-gesondheidsdienste is nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.