Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Ragmah Jappie, eienaar van Fieka
Trots Suid-Afrikaans - en dít in die klerebedryf
Ragmah Jappie is ’n sakevrou met deursettingsvermoë. Uit heelparty terugslae het sy opgestaan en besit sy vandag reeds verskeie winkels, ’n fabriek en haar eie sportklere-reeks met die handelsnaam Fieka. Liana Mocke het met dié boorling van Belhar gesels.
Ragmah Jappie wys haar Fieka-handelsmerk in die sportwinkel op die kampus van die Universiteit van Wes-Kaapland. Foto: Liana Mocke

Wat word in jou winkels verkoop?

Ek het drie Campus Lifestyle-winkels op die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) se kampus en twee winkels by Northlink College in Bellville.

In die leefstylwinkels verkoop ons verskeie van die fakulteite se bykomstighede, klere en identifiseringsdrag. Dit sluit in wit oorjasse vir mediese studente, drasakke, serpe, baadjies en vele meer. Elke fakulteit se handelsmerk word op hierdie produkte gebruik. 

Twee jaar gelede het ek die Campus Lifestyle Sport Store by UWK oopgemaak waar die Fieka-reeks verkoop word.

Vertel meer oor die Fieka-reeks en hoekom jy dit begin het?

Ek het die reeks vir sportklere en ondersteunersdrag begin omdat ek ’n gaping in die mark vir sportklere raakgesien het. 

Sekere sportkodes is baie gewild onder borge en verskaffers van toerusting en klere, maar sportsoorte wat nie so gewild is nie, soos vlugbal, kry nie dié tipe ondersteuning nie. 

Die Fieka-reeks dek tans ses van die 24 sportkodes by UWK, soos hokkie, vlugbal en basketbal. Ek ding mee teen groot en bekende maatskappye, maar ek soek altyd ’n uitweg en geleentheid om ’n deel van die mark te kry én te behou. 

Met die Fieka-reeks teiken ons nie net professionele sportmense nie, maar ook die sportgeesdriftiges wat net sosiaal en vir ’n gesonde leefstyl sport beoefen. Die ondersteuners word ook nie afgeskeep nie – ons verkoop ondersteunersdrag soos pette en T-hemde.

Jy het jou eie fabriek en voer nie klere óf materiaal in nie. Hoekom nie?

Ek benader die fabriek waar ons van die klere vervaardig as ’n trotse Suid-Afrikaner en voer daarom nie mate­riaal of klere in nie, al het ek al kontrakte verloor omdat my pryse nie by ’n begroting ingepas het nie. Daar is gelukkig heelwat kliënte wat my ondersteun.

Jy glo daaraan om ander te help. Hoekom is dit vir jou belangrik?

Ek glo jy moet terugploeg in die gemeenskappe waarin jy leef en werk. Ek het ’n hart vir my medemens en hou daarvan om vir die buiteperd ’n kans te gee as dit in my vermoë is om ’n verskil te maak. Daarom tree die Fieka-handelsmerk al hoe meer op as borg in gemeenskapsprojekte en vir plaaslike sportklubs.

’n Persentasie van alle Fieka-verkope word geskenk aan sportmense met gestremdhede. 

Die naam is vir my baie spesiaal en die handelsmerk is na my jonger suster genoem. Sy is verstandelik gestremd en dit herinner my daagliks daaraan dat ek ’n belofte gemaak het om na haar om te sien.

Het jy gebruik gemaak van finansiering toe jy as entrepreneur begin het?

Nee. Ek het begin sonder finansiering van buite en het net ’n huislening gebruik om aan die gang te kom. Vandag nog bedryf ek die winkels en fabriek sonder skuld.

Jy moes al oor begin en het geld verloor. Wat het jy hieruit geleer?

Ek het mense nog altyd vertrou en vertel van my idees. Dit was dalk ’n fout om te gou vir mense te vertrou met dit waarmee jy besig is én te veel inligting te deel. Só het ek al R700 000 verloor nadat ek een van my eerste winkels moes toemaak. 

Ek het agente gebruik, maar dit het nie uitgewerk nie. Ek beskou al die finansiële verliese as geld wat ek betaal het vir ’n “graad in die sakewêreld”.

Hoeveel mense werk vir jou?

Tans werk 20 mense vir my. Dit sluit die personeel by die fabriek in. Een van my personeellede is ’n heeltydse inhuis-ontwerper. Ek bied geleenthede aan vir studente in bestuursrigtings om by die winkels te werk om ondervinding op te doen.

Wat lê voor?

Ek sal graag wil kyk na franchise-moontlikhede en uitbrei met meer winkels by ander opvoedkundige instellings. Teen 2016 sal ons al 35 van die sportkodes by albei instellings kan bedien. Ons raak op ’n klein skaal betrokke by gemeenskapsport.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.