Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Entrepreneur oefen in die parkeerterrein
Vinnig fiks – en dan supermark toe
Welkom in jou nuwe gimnasium – die parkeerterrein van ’n winkelsentrum. Lindsay Mouton van FitFirst verduidelik aan Tharien Hattingh waarom haar oefenonderneming van krag tot krag gaan danksy vinnige, intensiewe oefensessies op 'n gerieflike plek - als wat besige mense nodig het!
Lindsay ­Mouton van FitFirst.

Wat is FitFirst?

FitFirst bied groepoefensessies aan. Sy teikenmark is mense met ’n besige skedule en beperkte tyd om te oefen.

Dit word in die kelderparkeerterrein van ’n winkelsentrum aangebied en ’n oefensessie is slegs 30 minute lank.

Lees ook: ​Fikse entrepreneur skep fris maatskappy

FitFirst-lede betaal maandeliks en kan dan soveel sessies bywoon soos hulle wil. Kliënte moet wel vooraf op die webwerf bespreek. Daar is ’n maksimum van 20 kliënte per sessie.

Oefengroepe is nou hoogmode. Wat maak FitFirst anders?

Die FitFirst-konsep is gebou op kwaliteit, nie kwantiteit nie. Aangesien ’n oefensessie slegs 30 minute duur, fokus ek op intervaloefeninge met ’n hoë intensiteit. My kliënte moet die beste resultate uit hul 30 minute kry.

Die plek waar die oefensessie gehou word, is ook uniek.

My kliënte kan hul inkopies en oefensessies kombineer en verminder só hul reistyd.

Hoe het jy die konsep aan die winkelsentrumeienaar verkoop?

FitFirst se oefensessies is meestal op tye wat die sentrum nie te besig is nie en wanneer die parkeerruimtes in elk geval sou leeg staan. Die oefensessies lok ekstra voete na die winkelsentrum en ek sien daagliks hoe my kliënte ná die oefensessies gou by die supermark inhardloop vir melk of brood of ’n vriendin vir koffie ontmoet.

Waar kom die idee vandaan?

Ek was nog altyd mal oor sport en het omtrent elke tipe sportsoort beoefen. Nadat ek my studies in die regte en belasting voltooi het, het ek vir ’n paar jaar in die korporatiewe wêreld gewerk.

Ek het daar eers werklik besef hoe moeilik dit is om ’n fikse leefstyl vol te hou en van agt tot vyf te werk. Dit is amper onmoontlik.

Ek het besluit ek moet ’n oefengroep begin om myself gemotiveerd te hou. Die oefengroep was ’n groot sukses en gou het ek besef daar is ’n mark vir oefengroepe.

Ek het begin werk aan my sakemodel en het gefokus op al die aspekte van ’n korporatiewe of besige stadslewe wat ’n oefenroetine moeilik maak.

Hoe het jy die skuif uit die korporatiewe wêreld gefinansier?

Met die besef dat FitFirst kan werk en dat dit my maandeliks van ’n konstante inkomste kan verseker, het ek bedank en by my familie se publikasie-onderneming ingeval. Die skuif het my tye meer buigsaam gemaak en ek het daar gewerk totdat FitFirst heeltemal op die been was. Vandag werk ek net by FitFirst.

Jy bied vyf oefensessies per dag aan. Wat doen jy die res van die dag?

Administrasie. Dit is vir my baie belangrik dat ek ’n verhouding met elkeen van my kliënte opbou en ek ken ook elkeen by die naam. Deur die dag beantwoord ek e-posse, hanteer besprekings en doen bemarking.

FitFirst is baie suksesvol. Sal jy dit in ’n franchise wil verander?

Ja, beslis. Ek is hard op soek na ander winkelsentrums wat hierdie konsep in hul parkeerterreine sal verwelkom. Die aanvraag is groot vir dié soort oefensessies en ek weet dit sal in ander dele van Pretoria en in ander stede ook werk.

Hoekom is jou kliënte meestal vroue?

Mans is welkom en ek het ’n paar mans-kliënte. Die konsep is wel meer gemik op die nismark van die moderne, besige vrou wat graag wil oefen.

 Die oefensessies word tans net in The Club-winkelsentrum in Hazelwood, Pretoria, aangebied. Besoek ​fitfirsttraining.co.za vir meer inligting.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.