Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
AHi word hergebore as SBI
Bernard Swanepoel, president van SBI. Foto: Lise Beyers, Paarl Post

Die sakeorganisasie AHi het die naweek nóg ’n gedaanteverwisseling ondergaan deur homself te herdoop tot die SBI, met die mikpunt om die “Groot Stem vir kleinsake” te word.

Die organisasie – wat voorheen as die Afrikaanse Handelsinstituut bekend gestaan het – het ná ’n spesiale vergadering verlede Vrydag ’n nuwe akte van oprigting aanvaar en besluit op die nuwe naam, wat staan vir Small Business Institute.

Bernard Swanepoel, president van die SBI, sê hulle sal trots wees as die organisasie mettertyd sinoniem word met geloofwaardige navorsing en standpunte oor alle sake van belang vir die kleinsakesektor. “Benewens ’n paar honderd maatskappye en staatsondernemings, val meer as 95% van alle sakeondernemings in dié kategorie.”

Die geskatte 2 miljoen klein- en middelslagondernemings lewer sowat 40% van Suid-Afrika se bruto binnelandse produk.

Die SBI is luidens ’n verklaring al die afgelope jaar besig met ’n proses om homself te hernuwe in ’n poging om sy relevansie en diversiteit te beskerm.

Dr. Ernest Messina, uitvoerende hoof van die SBI, sê hulle sal die beste belange van alle kleinsakeondernemings in die land bevorder.

Die SBI sal steeds lid bly van Besigheidseenheid Suid-Afrika. Dit verteenwoordig meer as ’n honderd sakekamers.

Die SBI het reeds ’n reeks kleinsake-indabas in Johannesburg, Kaapstad en Durban gehou en beplan op 11 Oktober en 2 November weer sulke indabas in onderskeidelik Bloemfontein en Johannesburg.

Dr. Ernest Messina, uitvoerende hoof van SBI. Foto: Simone Kley

Swanepoel sê wat blyk uit die indabas is die gebrek aan omvattende navorsing oor die kleinsakesektor.

“Ons skep steeds nuwe lae van burokrasie wat bedoel is om kleinsake te steun, maar ons weet nie eens hoe baie van hulle bestaan nie, hoeveel mense hulle in diens neem nie, of hulle groei of krimp, watter sektore hulle oorheers of watter uitdagings hulle het nie.”

Hy sê hulle wil genoeg finansiering kry om vroeg volgende jaar met ’n basisstudie oor die grootte van die kleinsakesektor te begin.

Die SBI sal bestuur word deur ’n nuwe direksie van kundiges wat almal ’n passie vir kleinsake deel, lui die groep se verklaring.

Die Afrikaanse Handelsinstituut is aanvanklik meer as 75 jaar gelede gestig om tradisioneel Afrikaanssprekende sake-ondernemings se belange te verteenwoordig.

Die organisasie het die afgelope jare homself probeer herposisioneer om ’n meer inklusiewe en diverse ledetal en teikenmark te bereik, veral onder leiding van Christo van der Rheede, die vorige uitvoerende hoof, en nou onder Messina.

Meer oor:  Bernard Swanepoel  |  Kleinsake  |  Ahi  |  Entrepreneurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.