Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Allan Gray: Hulde stroom in vir groot filantroop

Allan Gray (81), die man agter die suksesvolle batebestuursfirma Allan Gray, is dikwels beskryf as ’n baie private mens wat meestal sku was vir die media en wat nie onderhoude aan joernaliste toegestaan nie.

Allan Gray, entrepreneur, belegger en filantroop, is Sondag in die ouderdom van 81 jaar dood.Foto: Andrew Brown

Huldeblyke het egter Maandag ingestroom nadat Gray, een van Suid-Afrika se grootste en bekendste filantrope, Sondag dood is.

Moneyweb berig Gray is weens ’n hartaanval in Bermuda dood. ’n Verklaring van die firma Allan Gray het Maandag bloot genoem dat hy aan natuurlike oorsake dood is.

Volgens Moneyweb het die Nigeriese tydskrif Ventures in 2013 geraam dat Gray die rykste man in Suid-Afrika is met ’n rykdom van $8,5 miljard. Dit was egter nooit presies duidelik of hy meer of minder welvaart gehad het as ander bekende welvarendes soos Johann Rupert, Harry Oppenheimer of Christo Wiese nie omdat hy so ’n private mens was.

Hy het later jare die meeste van sy welvaart vir liefdadigheid geskenk en vir die ontwikkeling van entrepreneurskap deur beurse toe te ken en kleinsakelui te ondersteun. Teen 2018 het sy naam nie meer verskyn op Forbes se lys van rykste mense in Afrika nie.

Biografiese feite

Allan Gray is op 8 April 1938 in Oos-Londen gebore.

Hy het skoolgegaan aan Selborne College in Oos-Londen en by die Rhodes-universiteit in Grahamstad in rekeningkunde studeer.

Hy het in 1965 ’n MBA-graad by die Harvard-sakeskool in Amerika behaal.

Hy het daarna vir agt jaar by Fidelity Management in Boston in die VSA gewerk voordat hy in 1973 na Suid-Afrika teruggekeer het om Allan Gray Beleggingsbestuur te stig.

Hy word oorleef deur sy vrou, Gill, en drie kinders, Trevor, Jennifer en William.

William is self betrokke in die ondernemings wat sy pa gestig het, as nie-uitvoerende direkteur van Allan Gray en as beleggingshoof van Orbis.

Gray, wie se volle name Allan William Buchanan Gray is, het die Allan Gray Investment Council in 1973 gestig. Teen 1988 het hy na Londen geskuif en het die beleggingsfirma al ses vennote, 36 personeellede en R2,4 miljard onder bestuur gehad.

In 1989 het hy Orbis Investment Management as ’n internasionale beleggingsbestuursmaatskappy in Bermuda gestig.

Vandag bestuur Allan Gray al meer as R520 miljard se bates namens kliënte.

Gray het in 2005 die Allan Gray Orbis-stigting begin om beurse vir voornemende entrepreneurs toe te staan.

Hy en sy vrou, Gill, het hulle mettertyd persoonlik daartoe verbind om al die skool- en universiteitsgeld te betaal van personeel van Allan Gray wat minder as R250 000 per jaar verdien, het die Mail & Guardian in 2007 berig.

Teen 2015 het Gray aangekondig hy dra sy beherende belang in Allan Gray na die Allan & Gill Gray-stigting oor. Al die dividende wat dié stigting kry, moet eksklusief aan filantropiese doelwitte bestee word, ingevolge die stigting se akte van oprigting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.