Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
‘Arme’ Bill Gates daal op lys van superrykes

Bill Gates is nie meer die tweede rykste persoon ter wêreld nie.

Bill Gates, stigter van Microsoft, is nou die derde rykste mens ter wêreld. Foto: Bloomberg

Dinsdag is Gates, stigter van Microsoft, op Bloomberg se miljardêrsindeks verbygesteek deur die Fransman Bernard Arnault, uitvoerende hoof van Moët Hennessy – Louis Vuitton (LVMH).

Dis die eerste keer in die sewe jaar sedert die indeks gestig is, dat Gates nie meer nr. 1 of nr. 2 is nie.

Arnault se netto batewaarde word nou geraam op $108 miljard, “net-net” meer as Gates se $107 miljard. En met net-net bedoel ons $1 miljard, baie na aan R14 miljard.

Hy het Gates verbygesteek toe sy batewaarde Dinsdag met $99,7 miljoen gestyg het en dié van Gates met $838 miljoen gedaal het. Die ranglys word daagliks bygewerk ná die sluiting van die New Yorkse markdag.

Hoewel albei se fortuin vanjaar gestyg het, het Arnault s’n met heelwat méér gestyg. Vir die jaar tot dusver is hy $39,1 miljard ryker en Gates is $16,1 miljard ryker.

LVMH sluit benewens die sjampanjeprodusent Moët, die konjakprodusent Hennessy en Louis Vuitton, bekend om luukse handsakke en tasse, luukse handelsname soos Dior, Fendi, Givenchy, Tag Heuer, Bulgari, Dom Pérignon en Veuve Clicquot in.

Jeff Bezos, stigter van Amazon, bly die rykste persoon ter wêreld. Sy fortuin word nou op $124 miljard geraam. Dit is wel $1,03 miljard minder as einde 2018.

Vyf uit die tien rykste mense is Amerikaners, en vyf uit tien is in die tegnologiesektor.

  

Tien rykste mense ter wêreld

  

Hier is die tien rykste mense ter wêreld nou, met die verandering in hul waarde vir die jaar tot dusver, volgens die Bloomberg-lys:

Jeff Bezos, uitvoerende hoof en stigter van Amazon, is die rykste mens ter wêreld. Foto: Getty Images

1. Jeff Bezos, stigter van Amazon: $124 miljard (-$1,03 miljard)

2. Bernard Arnault, uitvoerende hoof van LVMH: $108 miljard (+$39,1 miljard)

3. Bill Gates, stigter van Microsoft: $107 miljard (+$16,1 miljard)

4. Warren Buffett, voorsitter van Berkshire Hathaway: $81,9 miljard (-$1,89 miljard)

5. Mark Zuckerberg, stigter van Facebook: $78,7 miljard (+$26,7 miljard)

6. Amancio Ortega, stigter van die modegroep Inditex (moedermaatskappy van Zara): $66,2 miljard (+$7,6 miljard)

7. Larry Ellison, medestigter van die tegnologiefirma Oracle: $61,3 miljard (+$11,9 miljard)

8. Carlos Slim, uitvoerende hoof van onder meer Telmex en América Móvil: $57,2 miljard (+$2,41 miljard)

9. Francoise Bettencourt Meyers, erfgenaam van die familie wat L’Oreal besit: $56,4 miljard (+$10,3 miljard)

10. Larry Page, medestigter van Google: $56,3 miljard (+$5,05 miljard)

Die Bloomberg-lys verskil effens van Forbes se lys, wat Gates nog op nr. 2 het en Arnault op nr. 3.

Forbes se nr. 10 is die New Yorkse mediamagnaat Michael Bloomberg.

  

Suid-Afrikaners op die lys

  

Daar is drie Suid-Afrikaners op Bloomberg se lys:

212. Johann Rupert, voorsitter van Richemont en Remgro: $7,45 miljard (+$1,42 miljard)

232. Nicky Oppenheimer, erfgenaam van die familie wat Anglo American gestig het: $7,08 miljard (+$475 miljoen)

288. Natie Kirsh, stigter van die Kirsh Group, wat die Amerikaanse kleinhandelaar Jetro Holdings besit: $6,21 milajrd (+$498 miljoen)

Forbes sluit vyf Suid-Afrikaners op sy lys in. Benewens Oppenheimer (wat volgens Forbes se ramings ryker is as Rupert) en Rupert, sluit dit die mynmagnaat Patrice Motsepe, Koos Bekker van Naspers, en Michiel le Roux, stigter van Capitec Bank, in.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.