Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Banke gekap oor te min lenings aan kleinsake

Die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) en die land se groot banke is gekap omdat bitter min van die lenings wat die staat waarborg tot dusver aan sukkelende ondernemings toegeken is.

Suid-Afrika se groot banke word gekritiseer omdat bitter min lenings nog as deel van die staat se gewaarborgde leningskema aan maatskappye toegestaan is. Foto: Argief

Basa is veral gekap omdat geen verteenwoordiger van die bedryfsliggaam Woensdagoggend die aanlyn bespreking van die parlement se portefeuljekomitee vir kleinsakeontwikkeling oor dié skema bygewoon het nie.

Matthew Parks, parlementêre koördineerder van die vakverbond Cosatu, sê luidens die statistieke wat hulle van Basa ontvang het, het banke teen 18 Augustus net R13,26 miljard aan klein en mediumgrootte ondernemings geleen. Dis teenoor die R200 miljard waarvoor die Reserwebank borg sal staan indien ondernemings wanbetaal.

Basa het op 12 Augustus gesê nog net 9 125 ondernemings se lenings is goedgekeur. Tot 1 Augustus het 39 677 ondernemings al aansoek gedoen. Nog net 23% is goedgekeur en 36% wag nog vir ’n antwoord.

Banke het die finale sê oor of hulle die lenings wil toestaan of nie, aangesien hulle die eerste buffer is teen die verwagte verliese van die skema. Die tesourie dek nie outomaties alle slegte skuld hiermee nie.

Uit die 39 677 aansoeke is 28% al deur die banke afgekeur, maar net 10% daarvan op grond van die tesourie se vereistes.

Die geld kon tot dusver net gebruik word vir bedryfsdoeleindes soos salarisse of huurgeld, maar nie om beleggings te doen, skuld af te betaal, dividende te betaal, skuld aan aandeelhouers af te betaal of bonusse te betaal nie.

LEES OOK: Minder as 2% van ondernemings kry van staat se lenings

Parks het in ’n voorlegging aan die komitee gesê dit is duidelik dat dié skema nie werk nie.

“Die banke maak ’n groot wins. Daar moet druk op hulle geplaas word om die kriteria vir lenings drasties te verslap. Ons moet die uitvoerende hoofde van die land se groot vyf banke hier kry sodat hulle kan verduidelik wat aangaan. Hulle het die mag om die kriteria te verslap.”

Henro Kruger, DA-LP, sê hy steun Parks se voorstel dat Basa en die banke moet verantwoording kom doen oor wat met die skema aangaan.

“Dit lyk of die banke ’n houding van ‘laat gods water oor gods akker loop’ oor die skema het. Basa moes al gister hier gewees het om te verduidelik wat aangaan,” sê hy.

Die skema waarborg lenings ter waarde van R100 miljard, maar die tesourie sê dit kan tot R200 miljard opgestoot word indien nodig.

Die tesourie het met die aanvang van die skema verduidelik dit is nie bedoel om wins mee te maak nie. Alle lenings wat met rente terugbetaal word, sal dien as die eerste buffer vir die verwagte verliese wat die skema sal ly. Banke dra dan self die risiko van swak lenings tot 6% van die waarde van die lenings wat hulle toegeken het.

Die tesourie staan pa vir enige slegte skuld wat bo en behalwe die vorige buffers ontstaan.

Meer oor:  Lenings  |  Ekonomie  |  Koronavirus  |  Banke  |  Bankbedryf  |  Inperking  |  Hulppakket  |  Covid-19  |  Kleinsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.