Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Bekende aktrise wil kinders van geldsake leer
Hannelie Warren, skrywer van die werkboek ‘Geld praat met kinders’, met die studiegids daarby vir ’n onderwyser of ’n ouer wat dit saam met ’n kind wil deurwerk.

Geld is een van die groot stresfaktore in die lewe, maar as kinders vroeg in hul lewe die regte ingesteldheid daaroor kan ontwikkel, kan dit hulle bemagtig om die wêreld te verander.

Hannelie Warren, ’n entrepreneur, skrywer en sepie-aktrise (Binnelanders) van Hartbeespoort, wes van Pretoria, vertel sy het ’n paar jaar gelede besef die land se ekonomie is in groot moeilikheid, en dis vandag se kinders wat dit gaan erf. Op dieselfde tydstip is die aanbieding van die skoolvak ekonomiese bestuurswetenskap (EBW) om een of ander rede uit die leerplan vir gr. 4 tot gr. 6 verwyder.

Dit het Warren laat regop sit, want sy wou, as iemand wat nog haar hele lewe as vryskut en broodwinner gewerk het, haar eie kind die regte ingesteldheid oor geld leer. “Navorsing wys kinders se ingesteldheid oor geld word al in daardie fase (gr. 4 tot gr. 6) vasgelê. Hulle het al dan die kennis en is intelligent genoeg. Hulle sien ook dan al hoe hul ouers baklei oor geld, of dat hulle geld nastreef ten koste van emosionele dinge wat prysgegee word.”

Dis waar die saadjie geplant is vir Geld praat met kinders, ’n werkboek, of amper ’n soort alternatiewe skoolleerplan oor geldsake, wat Warren aanvanklik vir haar eie seun begin skryf het.

Dis ’n boek vol speletjies en aktiwiteite wat ’n ouer of onderwyser of grootouer saam met ’n kind kan deurwerk.

“As vryskut moes ek leer om die heeltyd te soek na geleenthede, om nuwe dinge uit te dink en positief te bly. Die doel van die boek is dus ook om kinders te leer dink; wat kan ek doen om iets te verander?”

Te midde van die ekonomie in krisis, wil sy kinders aanspoor om entrepreneuries te dink. “Ek wil kinders hoop gee. As jy nie werk kan kry nie, skep jou eie werk!”

Het sy dit reggekry met haar eie kind? Warren sê haar seun is nou 18 en op universiteit, en werk baie versigtig met sy geld. “Hy spaar baie. Hy het al op 12 ’n inkomstebelastingnommer gehad, want hy het toe al geld verdien.”

Warren het aanvanklik die nasionale departement van onderwys gaan sien om haar boek as ’n skoolleerplan ingestel te kry in die gaping wat die staking van EBW in gr. 4 tot gr. 6 gelaat het. Amptenare van die departement was geesdriftig daaroor, maar ná jare se gesloer om die direkteur-generaal se handtekening te kry, het sy besluit sy skuif aan om haar boek self te bemark. Sommige private skole gebruik die boek, en baie oupas en oumas wat bekommerd is oor hul kleinkinders se toekoms, koop graag die boek om hulle meer van geld te leer.

Sy probeer dit prettig hou, deur byvoorbeeld die storie van die wolf en die drie varkies te gebruik. “Die wolf is jou beursie. Jy moet hom nie laat doodgaan nie, maar jy moet ook oppas dat hy jou nie opvreet nie. En die belangrikste is om die varkies eerste kos te gee. Die varkies se name is Spaar, Gee en Belê. Die fout wat almal maak, is dat hulle eerste die wolf betaal in die vorm van lewenskoste. Almal leef bo hul inkomste. Maar dis daai spaarvarkie wat jou uithelp as jy in die moeilikheid beland, en die belê-varkie wat jou gemaklik gaan laat aftree.”

Ek wil kinders hoop gee. As jy nie werk kan kry nie, skep jou eie werk!
Hannelie Warren

Warren lê baie klem daarop om die regte waardes by kinders in te prent, soos integriteit, eerlikheid en bedagsaamheid. “Wat geld betref, hou mense nie by die reëls nie, en jy moet eers jou kop regkry voordat ons kom by die inkomstestaat en balansstaat.”

Van die idees in die boek het sy selfs al met van haar vriendinne op die proef gestel. Soos om drie vriendinne te vra om vir ’n hele maand net kontant te gebruik. Ná die maand het die een vriendin toegegee sy het dié maand net die helfte bestee as gewoonlik, want sy het die geld gesién uitgaan.

Warren sê dis hoekom sy nie vat kry aan digitale geld soos Bitcoin of bankkaarte nie. Dit vat die werklikheid van geld weg. “Ek het altyd ’n bietjie kontant by my. Dit herinner my aan wat Suze Orman (bekende Amerikaanse ghoeroe oor persoonlike finansies) gesê het dat die finansiële wêreld ’n rookskerm wil plaas tussen ons en ons geld. Die bank is ’n besigheid, hy is nie jou pêl nie. Hy maak geld uit jou!”

Warren werk reeds aan ’n opvolgboek. “Al kan dit help om net een nuwe entrepreneur per jaar te skep, dan sal ’n mens binne ’n paar jaar ’n verskil sien.”

Meer oor:  Geld  |  Ekonomie  |  Kinders  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.