Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Bid jou dit aan – ’n Bloekom-boom wat bloes word!

Lap word nou uit die houtspaanders van bloekombome of die wortels van sampioene of selfs die harde blare van pynappels gemaak.

Dís van die nuwe uitvindsels wat die modebedryf met sy berugte onvriendelike omgewingsvoetspoor kan transformeer.

“Daar is opwindende nuwe ontwikkelings in die tekstielbedryf waar mensgemaakte kleedstof ’n baie omgewingsvriendeliker alternatief is,” het Kutay Saritosun, ’n tekstielingenieur, aan Rapport gesê.

Saritosun, ’n boorling van Istanboel in Turkye, is direkteur van modehandelsmerke by die Switserse maatskappy Bluesign Technologies.

Klere van die Suid-Afrikaanse handelsmerk Mantsho wat by vanjaar se SA Modeweek vertoon is. Die geleentheid is virtueel aangebied met die tema “Slow Fashion and Upcycling”. Die bedryf probeer ’n kultuur van hergebruik en volhoubare vervaardiging vestig. Foto: SA Fashion Week

Die maatskappy spits hom daarop toe om rolspelers in die klerebedryf oor die wêreld heen te help om hul bedrywighede omgewingsvriendelik te maak en werkers beter te behandel. Bluesign speel ook ’n rol in die ontwikkeling van nuwe tekstiel wat byvoorbeeld minder water en eerder onskadelike chemiese stowwe gebruik.

Saritosun en Anyango Mpinga, ’n Keniaanse ontwerper, was deel van ’n paneelbespreking op die Rotariërs se 100-jarige Afrika-konferensie waar die ontwikkeling van volhoubare en omgewingsvriendelike tekstiel bespreek is.

Mpinga vertel van tencel, ’n stof wat net soos katoen lyk en voel, maar wat uit ’n kombinasie van afvalkatoenstof en houtpap vervaardig word. “Ek is ook besig met navorsing om indringerplante en -bome in Kenia te gebruik om nuwe tekstiel te ontwerp.”

Saritosun sê as ’n mens in ag neem dat die boublokke van plante sellulose is, kan ’n mens basies enigiets van ’n plant gebruik en dit in tekstiel omskakel. “Die vesels van sitrusvrugte, die dele van ’n pynappel wat ’n mens weggooi – selfs kelp!”

Die uitdaging is nie ’n gebrek aan nuwe uitvindsels nie, maar dat groot handelsmerke dié nuwe tekstiel nog nie op groot skaal wil gebruik nie, sê Saritosun.

Dink jou in hoeveel water word gebruik om genoeg katoen vir ’n wêreldbevolking van 7,5 miljard mense te vervaardig!
Kutay Saritosun

“Ons het groot handelsmerke se ondersteuning nodig om aan boord te kom hiermee, anders sal dit eindelik net iets wees wat in ’n laboratorium gemaak is.”

Die wêreld se klerebedryf is verantwoordelik vir tot 10% van alle kweekhuisgasvrystellings en ongeveer 40 miljoen ton afval-tekstielstof beland jaarliks op vullisterreine, luidens die Business of Fashion (BoF) se indeks vir volhoubaarheid in die bedryf wat verlede maand uitgereik is.

Die indeks het ses aspekte van die klerebedryf gebruik as maatstaf van hoe volhoubaar die sektor is, waaronder die gebruik van water en chemiese stowwe, uitlaatgasse, die generering van afval en werkersregte. Die werksaamhede van 15 groot handelsmerke, onder meer luukses soos Hermès, straatmode-groepe soos H&M en Gap, en sportgroepe soos Adidas, Nike en Puma, was onder die vergrootglas. Die gemiddelde punt wat al die handelsmerke uit ’n moontlike totaal van 100 behaal het, was 36.

Wat tekstiel betref wat sleg is vir die omgewing, is katoen en poliëster twee van die grootste sondaars. “Katoen slurp baie water op. 2 700 liter water is nodig om genoeg katoen vir een enkele T-hemp te kweek,” sê Saritosun.

“Dink jou in hoeveel water word gebruik om genoeg katoen vir ’n wêreldbevolking van 7,5 miljard mense te vervaardig!”

Boonop is katoenplase onkruiddoder-sensitief en die katoenbedryf word met gevalle van kinder- en dwangarbeid verbind.

Poliëster is nóg ’n groot skuldige, sê Mpinga.

“Dis ’n oliegebaseerde sintetiese weefstof wat vervaardig word uit ’n chemiese reaksie van steenkool, petroleum en water. Dit stel baie kweekhuisgasse vry om dit te vervaardig en dit is ook nie bio-afbreekbaar soos natuurlike stowwe nie.”

Die probleem is poliëster kom in basies alle soorte klere voor, selfs dié wat andersins op ’n volhoubare manier gemaak word, het Mpinga aan Rapport gesê. “Die meeste vervaardigers gebruik byvoorbeeld poliëstergaring vir stikwerk, want dit is sterk en hou langer.”

As klere langer hou, is dit ’n teenwig vir oorproduksie wat afval van die vullisterreine afhou. Daar is egter alternatiewe prak­tyke, soos om herwinbare poliëstergaring te gebruik.

Benewens omgewingsonvriendelike tekstiel, is die opkoms van vinnige mode (fast fashion) ’n reuseprobleem omdat dit tot oorproduksie en uiteindelik vermorsing lei. Vinnige mode dui op klere wat vinnig en goedkoop gemaak word. As klere goedkoper is, koop mense meer, maar dra dit vir korter tydperke.

Die BoF-indeks wys daarop selfs voor die uitbreking van Covid-19 was oorproduksie van klere weens die vinnige mode sodanig dat net 60% van klere teen volprys verkoop is.

Saritosun beaam oorproduksie van vinnige mode is ontsettend nadelig vir tekstielwerkers. Omdat dit goedkoper is, beteken dit die werkers wat dit maak, word dikwels ook minder as die minimum loon betaal, sê Saritosun.

In die BoF-indeks word daarop gewys dat net ’n handvol van die maatskappye wat nagevors is aktief begaan is oor die menseregte-aspek van die bedryf.

Meer oor:  Klere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.