Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Branderplanke raak min oor hawe-krisis

Dit raak moeilik vir klein ondernemings en entrepreneurs om met hul daaglikse bedrywighede voort te gaan omdat produkte en materiale op hawens vasgekeer is.

Tientalle vragmotors staan op Woensdag 27 Julie tou om by Kaapstad se hawe te probeer inkom nadat Transnet se IT-probleme die hawe se bedrywighede verlam het. Foto: Jaco Marais

Netwerk24 het met ’n paar eienaars van klein sakeondernemings gesels oor hoe die vertragings by die land se hawens weens die kuberaanval op Transnet se stelsels hul onderneming raak.

Branderplanke, skoonheidsprodukte en aluminium is van die produkte waarmee dié entrepreneurs woeker, maar dit sit steeds in vraghouers op hawens vas.

Intussen raak kontantreserwes op en langer wagtye beteken ’n verlies aan inkomste en omgekrapte klante omdat produkte laat gaan wees.

Brander- en skaatsplanke

Barend Buys, stigter en eienaar van Ryd, ’n onderneming wat brander- en skaatsplanke invoer en verkoop, sê die vertragings by die hawens het ’n groot impak op sy onderneming.

Te min beskikbare branderplanke in winkels kan nuweling-branderplankryers se planne om golwe te vang, in die wiele ry.

“Ons ly reeds verliese omdat ons nie ons produkte kan verkoop of aan beloftes van verskaffing daarvan kan voldoen nie.”

Buys sê daar is klaar te min branderplanke te koop en die situasie is besig om sy beplanning baie moeilik te maak. Skedules is nou reeds met ’n maand agter.

Ryd bring jaarliks 25 vraghouers vol produkte die land in en met die seisoen wat binnekort gunstig raak vir meer mense wat die branders wil aandurf, kan die vertragings en tekorte nie op ’n slegter tyd gekom het nie, sê Buys.

“Ons weet nie wat die impak op ons koste gaan wees nie, maar dat dit al ons bedrywighede raak, is gewis.”

Skoonheidsprodukte

’n Entrepreneur wat skoonheidsprodukte vervaardig en versprei, is baie afhanklik van in- en uitvoer om haar onderneming aan die gang te hou.

Shantelle Booysen, uitvoerende hoof van Elim Spa Products, sê die vermoë om produkte, bestanddele en verpakkingsmateriaal in en uit die land se hawens te vervoer, is vir hulle van kardinale belang.

Elim verskaf skoonheidsprodukte aan die plaaslike en oorsese mark.

Van ons oorsese klante is klaar onseker oor ons uitvoervermoëns. In dié tye is ons buitelandse geleenthede belangrik, want dit maak in ’n groot mate op vir die verliese wat ons plaaslik ly.
Shantelle Booysen van Elim Spa Products

Volgens haar het die verlies aan handelsdae sedert die Covid-19-pandemie verlede jaar begin het, hulle ’n knou toegedien en het Elim sy internasionale uitvoergeleenthede begin aanvul om die verliese te vergoed.

Elim voer gemiddeld 20 palette ’n maand uit, waarvan die meeste met skeepsvervoer gaan en die meeste produkte na Engeland verskeep word.

Probleme om van hul produkte uit te voer, het egter so erg geraak dat Elim genoop is om sommige vragte nou per vliegtuig te stuur.

“Van ons oorsese klante is klaar onseker oor ons uitvoervermoëns. In dié tye is ons buitelandse geleenthede belangrik, want dit maak in ’n groot mate op vir die verliese wat ons plaaslik ly.”

Elim se groot uitdaging is nou om onverwerkte materiaal wat vassit in hawens uit te kry sodat produkte wat plaaslik vervaardig word, voltooi en uitgevoer kan word.

“Met een van ons produkte wag ons vir een bestanddeel om dit klaar te maak en te verpak voordat ons dit weer uitvoer. Dié bestanddeel is egter nog op ’n hawe.”

Sy sê verpakking raak ook ’n probleem aangesien baie materiaal wat daarvoor gebruik word, ook ingevoer word.

“Ons kan nie ons produkte plaaslik verkoop of uitvoer daarsonder nie.”

Staal en aluminium

Volgens ’n eienaar wat staal- en aluminiumprodukte vervaardig, is die opeenhopings by die land se hawens net nog ’n uitdaging wat invoerders van materiaal wat gebruik word om plaaslik weer goedere te vervaardig, moet oorkom.

Hy sê waar die wagtye vir ingevoerde materiaal gewoonlik vyf weke was, is dit nou reeds nege weke of selfs langer.

Hy het anoniem met Netwerk24 gepraat en verduidelik baie skepe wil nie nou by die land se hawens aandoen om vragte af te laai nie.

“Hulle vaar eers verby na buurlande se hawens en sal daarom eers later ons vragte kan aflaai.”

Die koste wat die vertragings meebring, hou net aan styg en omdat daar klaar ’n wêreldwye tekort aan skeepsvraghouers is, bemoeilik sake.

Dit is baie moeilik om jou onderneming se beplanning te doen met al dié onsekerhede.
Entrepreneur

Boonop het die koste om ’n vraghouer te huur, die hoogte ingeskiet.

“Van Maart 2020 tot nou het dit ses keer duurder geword om ’n vraghouer te huur. Dit kos ons nou $6 000 om een vraghouer te huur, waar dit aan die begin van 2020, voordat die pandemie getref het, maar $1 000 was.”

Hy sê ook dit is nog moeilik om die volle impak van die onluste en die probleme met Transnet se stelsel nou te bepaal, maar wat koste en beskikbaarheid van sekere onverwerkte materiaal betref, gaan dit definitief beduidende gevolge vir sy onderneming inhou.

“Die vertragings wat ons nou ervaar, kan oor drie tot vier maande ’n wesenlike probleem word as daar nie genoeg materiaal is om met produksie voort te gaan nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.