Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Britte bring ‘waterlose’ wasmasjiene na Kaap
Hydrofinity se wasmasjiene wat 80% minder water gebruik as konvensionele wasmasjiene.

Te midde van steeds streng waterbeperkings in Kaapstad het ’n Britse maatskappy 16 kommersiële wasmasjiene na die Kaap uitgevoer wat byna geen water gebruik nie.

Hydrofinity, deel van die Xeros Technology Group, sê sy kommersiële wasmasjiene gebruik tot 80% minder water as gewone wasmasjiene want dit gebruik polimeerkorrels om die wasgoed skoon te kry.

Hydrofinity het ’n ooreenkoms gesluit met ’n plaaslike diensverskaffer aan die gasvryheidsbedryf, genaamd fanute, om die nuwe soort wasmasjiene in Suid-Afrika te versprei.

Omgewingsaktiviste is toenemend besorg oor die grootskaalse besoedeling van die oseane met plastiekkorrels wat van waspoeiers, sjampoes en ander wasprodukte kom, maar Hydrofinity belowe op sy webtuiste sy polimeerkorrels is ontwerp om in honderde wassiklusse gebruik te word voordat dit versamel en herwin word.

Charl de Beer, stigter en besturende direkteur van fanute, sê in ’n verklaring hy verwag ’n groot vraag na Xeros se tegnologie in die Kaap en elders in Suid-Afrika waar daar ’n waterskaarsste is.

De Beer het fanute begin as ’n wasserydiens aan die groeiende aantal Airbnb-verhuurders in Kaapstad. Volgens sy webtuiste wou hy eers ’n diens lewer deur gastehuise se beddegoed in te samel, dit vir hulle te was en dan terug te gee, maar hy het in Mei 2017 ’n diens begin waar hy self die beddegoed besit en dit dan verhuur aan Airbnb-eienaars.

Hy het in daardie stadium ’n professionele wasserydiens gebruik, maar met Dag Zero op die horison het die waterkrisis die voortbestaan van sy onderneming bedreig.

Die polimeerkorrels wat by die Universiteit van Leeds ontwikkel is om wasgoed met minimum water skoon te kry. Die korrels werk vir byna 1000 wassiklusse en word dan herwin en weer gebruik.

Hoewel die wasserye toenemend nie-drinkbare water benut het, het De Beer beter tegnologie gesoek. Hy het toe op Hydrofinity se bykans waterlose wasstelsel afgekom wat tegnologie gebruik wat by die Universiteit van Leeds se School of Textiles ontwikkel is.

Die polimeerkorrels absorbeer die vuil, vet en vlekke uit wasgoed, minder chemikalieë word gebruik en die water wat wel gebruik word, hoef nie so warm te wees nie.

Die masjiene gebruik dus minder krag en die beddegoed hou langer. Die vangplek is dat net Hydrofinity se gepatenteerde polimeerkorrels in die masjiene gebruik mag word.

De Beer meen die kapitaalkoste van dié wasmasjiene kan binne 18 maande uit die besparings bedek word. ’n Wasmasjien met ’n kapasiteit van 25 kg wat 14 keer per dag gebruik word, kan tot 2 miljoen liter water per jaar bespaar, wat in Kaapstad meer as R177 000 kan spaar.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.