Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Die worshond Lulu het entrepreneur laat ontpop
Kerrie Bosse, eienaar van Long Dog, en die inspirasie vir haar onderneming, haar worshonde Lulu en Mitzi.Foto: Verskaf

’n Worshond genaamd Lulu wat stil gehou moes word met ’n gebreekte rug, was die inspirasie vir Kerrie Bosse se onderneming Long Dog.

“Toe Lulu in 2014 seergekry het, het ek besluit om van die huis af te begin werk sodat ek haar kon versorg en probeer stil hou. In dié tyd het ek navorsing begin doen oor produkte met worshondtemas,” sê Bosse.

“Ek het jare lank my eie bemarkingsmaatskappy besit en toe besluit om met iets nuuts te begin.”

Sy was bekommerd dat haar man sou dink sy het in ’n gek “hondevrou” verander en dat sy beslis te veel tyd saam met haar siek worshond deurgebring het toe sy hom van haar plan vertel het. Hy was egter versot op die idee.

Bosse se raad aan entrepreneurs:
1. Doen baie navorsing en wanneer jy ’n gaping in die mark kry, begin eers klein en toets jou konsep voor jy voluit daarvoor gaan.

2. Vind betroubare verskaffers wat jou nie sal teleurstel nie. Jy sal dit aan die begin dalk moet toets en dit kan jou geld kos, maar later gaan dit die moeite werd wees.

3. Glo in jouself en moenie bang wees om jou drome na te jaag nie.

4. Maak dit persoonlik. Mense kom agter as jy regtig hou van wat jy doen.

Vandag verkoop Bosse enigiets van klere en juweliersware tot skryfbehoeftes en huisware – alles met ’n worshondtema.

Hoewel Bosse in Bloemfontein woon, verkoop sy 90% van haar produkte óf van haar webwerf óf van haar Facebook-blad af.

“Om die waarheid te sê, ek het my onderneming eers op Facebook begin voordat ek my webwerf met ’n aanlyn winkel gekry het,” sê sy.

Volgens haar is sosiale media geweldig belangrik en gebruik sy verskeie platforms in mindere of meerdere mate.

“Ek gebruik Facebook steeds geweldig baie om nuwe produkte, of dié wat ek teen ’n spesiale aanbod beskikbaar maak, te bemark.”

Bosse het dié platform ook in 2016 gebruik om worshondliefhebbers aan te moedig om foto’s van hul diere te stuur, wat sy toe gebruik het om haar eerste Long Dog-kalender te skep.

Suid-Afrikaners is steeds baie huiwerig en versigtig om aanlyn winkels te gebruik. Dit is dus belangrik dat wanneer hulle van jou diens gebruik maak, hulle dit as baie positief ervaar.
Kerry Bosse van Long Dog

Die grootste uitdaging vir haar toe sy met Long Dog begin het, was nie die tegniese aspekte nie, maar eerder om die vrees om met ’n eie onderneming te begin, te oorkom.

“Die tweede grootste stap was om te besluit presies wat ek wou verkoop. Ek moes met ’n redelik beperkte reeks produkte en ’n klein voorraad begin om vas te stel wat werk en wat nie,” sê sy.

Nog ’n groot uitdaging was om ’n goeie reputasie te skep.

“Suid-Afrikaners is steeds baie huiwerig en versigtig om aanlyn winkels te gebruik. Dit is dus belangrik dat wanneer hulle van jou diens gebruik maak, hulle dit as baie positief ervaar,” sê sy.

Hoewel Bosse erken die produkte wat sy verkoop kan as luuks beskou word, glo sy mense se liefde vir hul worshonde is dikwels vir hulle belangriker as wat hulle betaal.

“Ek probeer egter steeds my produkte so bekostigbaar moontlik hou, selfs al is baie van my verkope eerder emo­sionele verkope,” sê sy.

Bykans 95% van die produkte wat sy verkoop, word plaaslik vervaardig.

  • Op die vraag of sy dit sal oorweeg om produkte met ander soorte honde ook in haar reeks in te sluit, sê sy liewer nie. “Om die waarheid te sê, ek het dit in ’n stadium probeer, maar dit het nie so lekker gewerk nie. Ek het daarna besluit om eerder net op my ‘lang honde’ te fokus, ek is immers tog gek oor hulle,” lag sy. Liefhebbers van worshonde kan by http://longdog.co.za gaan inloer.
Meer oor:  Aanlynwinkels  |  Entrepreneur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.