Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Divan Botha: Goed is nie goed genoeg

Dis Sondagmiddag, ek is tien jaar oud en die Bothas eet skaapboud. (My oupa was ’n boer, so dit was verniet.)

Divan Botha

My Hollandse ma maak appelmoes vir die aartappels, dik Bisto-gravy en rooi suurkool. Ek kan nie gelukkiger wees nie.

Soos ’n tipiese Afrikaanse gesin gesels ons oor alles, en soos ’n tipiese Hollandse gesin, baklei ons oor alles. My pa werk vir Fedgas (’n Duitse gasmaatskappy) as logistieke bestuurder en my ma het ’n materiaalwinkel in Nigel se middedorp.

In my familie was niks taboe nie, ons kon oor alles gesels – dit het die kerk en godsdiens ingesluit, en ook natuurlik al Nigel se kleindorpse skindernuus. In Nigel weet almal alles van mekaar.

Een onderwerp wat wel ’n groot taboe was, was egter geld. Geen kind weet wat my pa verdien nie, ons het geen idee wat sy werk regtig behels nie, en met my ma se winkel gaan dit “goed”. Ons vra ook nie vrae nie, want hoekom . . . dit gaan mos “goed”.

Ons gesprekke om die etenstafel kan ons kinders óf laat glo dat hul geluk uitgekontrakteer word aan politici óf dat hulle self die skeppers is van hul eie toekoms.

Afrikaners praat nie oor geld en besigheid nie, of só was dit in my familie. Ons is lief om oor politiek te praat, of eerder te kla, maar moet tog net nie oor geld en werk vra nie. Hoe gaan dit met die winkel, Ma? Goed. Hoe gaan dit by die werk, Pa? Goed.

Ek het ’n Joodse kollega, Joshua. Hy vertel my in sy kinderdae was dit anders. Hy en sy nefies het in die vakansies in hul pa’s en ooms se ondernemings gewerk, al was dit net bokse pak. Al die ooms het geboue besit, en oor naweke moes jy help om briewe aan loseerders te skryf, of uit te deel.

Jy het geweet presies wat jou oom doen en wat jou pa doen. Dit het nie net “goed” gegaan nie.

Gesprekke oor aandetes vir Joshua en sy gesin het gegaan oor die ekonomie en besigheid. Hul eie ondernemings. Hulle het gepraat oor die mense wat vir hulle werk, hul drome en mislukkings.

Geld en besigheid was deel van die familie se gesprekke – nie omdat hulle geld verafgod het nie, maar omdat hul sakebedrywighede ’n belangrike deel van hul families was.

Joshua sê almal dink Joodse kinders word entrepreneurs gebore, maar, reken hy, hulle word nie so gebore nie, hulle word so gevorm. Hulle is omring deur mense wat gesels oor die volgende sakegeleentheid en hulle is sentrale karakters in hoe hul eie toekoms gaan uitspeel. Hulle voel in beheer, want hulle plaas hulself in beheer.

So, die vraag is: Praat Afrikaners net nie genoeg oor geld en besigheid nie?

Ek dink so. Maar belangriker, dink ek ons praat te veel oor die verkeerde goed.

Ons praat oor politiek en hoe sleg dit met die land gaan, ons ontmoedig mekaar om in die land te bly, en ons gesprekke is dié van krisisskeppers eerder as geleentheidsoekers.

Ons praat oor politiek en hoe sleg dit met die land gaan, ons ontmoedig mekaar om in die land te bly, en ons gesprekke is dié van krisisskeppers eerder as geleentheidsoekers.

Ons gesprekke om die etenstafel kan ons kinders óf laat glo dat hul geluk uitgekontrakteer word aan politici óf dat hulle self die skeppers is van hul eie toekoms.

Ons gesels óf oor ’n krisis óf oor ’n geleentheid. Dit is óf Jacob Zuma óf Whitey Basson. Daar is nie meer ’n middeweg nie, want goed is nie meer goed genoeg nie.

Jou kind se toekoms sit nie in Nieu-Seeland nie, dit sit hier in ’n land wat honger is vir nuwe entrepreneurs, vir Afrikaanse entrepreneurs wat nou al droom en werk aan die volgende Naspers of Shoprite.

Gesels vanaand eerder oor jou werk, jou besigheid en die geleenthede in die land, en ek is seker jou kinders gaan hul selfone neersit om te luister na hulle eie onuitgekontrakteerde toekoms.

Goed is nie goed genoeg nie.

  • Divan Botha is ’n entrepreneur en aanbieder van Winslyn op kykNET.
Meer oor:  Entrepreneurs  |  Entrepreneurskap  |  Kleinsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.