Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Eens bankrot saak kry internasionale kontrak
Adri Williams (regs) en Eunice Nyobole (middel) het saam Khayelitsha Cookies opgebou nadat hulle die saak van die vorige eienares oorgeneem het. Foto: Edrea du Toit

’n Sakevrou wat ses jaar gelede ’n bankrot onderneming vir R1 gekoop het om vroue van Khayelitsha op te hef, het pas ’n droomkontrak met een van die grootste maatskappye ter wêreld beklink.

Adri Williams, besturende direkteur van die Khayelitsha Cookie Company, moet haarself knyp oor die nuwe geleentheid.

Dit is so groot dat sy weens die internasionale groep se streng vereistes nie eens mag praat oor die fabelagtige deurbraak nie.

Khayelitsha Cookies se fabriek in Beaconvale, Kaapstad, is wêrelde verwyder van die beskeie begin.

“Toe ek by die deure instap, was daar vier vroue, ’n klein tafeltjie, een menger en vier Defy-huisoondjies,” vertel Williams.

Vandag is daar 96 voorheen werklose vroue van Khayelitsha wat koekies bak om tot in Frankryk en Amerika geëet te word.

“Elkeen van hierdie vroue het ten minste vyf mense in hul huishoudings om voor kos te gee,” sê Williams.

Haar verhaal het in 2007 begin ná ’n uitreikaksie by die Brooklyn-kinderhospitaal in Kaapstad. Williams was ’n relatief welaf bemarker.

“Ek het ’n maatskappymotor gehad en goeie kommissie verdien, maar het besef ek kan nie langer wegkyk nie. Ek wou betrokke raak by iets groter.”

Sy het in 2007 by Khayelitsha Cookies aangesluit as hoof van byna alles, maar die onderneming het baie swaar gekry.

In 2013 was die onderneming byna ten gronde toe sy ’n aanbod gemaak het om dit vir R1 te koop.

“Ek het R2,5 miljoen se skuld oorgeneem. Die onderneming se bates was maar R100 000 werd. Ek het basies ’n Porsche se prys betaal vir ’n stukkende Golf.”

Sy het kort daarna ’n kennis en vertroueling, Eunice Nyobole, genader om ook by die kleinsakeonderneming betrokke te raak.

Hulle het op ’n manier kop bo water gehou.

Die koekies word in Kaapstad gebak. Foto: Edrea du Toit

In Januarie 2018 het Williams besluit om na ’n groter perseel, die huidige een, te verskuif sodat alle bedrywighede onder een dak kon wees.

“Maar die dag toe al ons oonde gekoppel is, oorstroom die hele area. Al ons oonde was aan. Die elektrisiteitsbord het ontplof en die helfte van ons toerusting is vernietig. Net so.”

Khayelitsha Cookies het ’n reuse-verlies gely in 2018 en het eers onlangs begin om weer gelyk te breek. Tog het hulle nooit hul kliënte in die steek gelaat nie, sê sy.

Khayelitsha Cookies verskaf produkte aan onder meer Ciro, Garden Court- en Southern Sun-hotelle, asook aan Clicks, wat die koekies onder sy eie handelsmerk verkoop.

Tiger Brands het die maatskappy ook genader om koekies te vervaardig vir sy Purity-handelsmerk en Khayelitsha Cookies het ook onlangs sy eie internasionale handelsmerk bekend gestel.

“Ek redeneer nie soos maatskaplike entrepreneurs wat sê: ‘Koop by ons, want ons verrig goeie dade’ nie. Ek sê: ‘Koop by ons, want ons is die beste in die bedryf.’ ”

Al Khayelitsha Cookies se produkte is handgemaak en -verpak. Dit het egter uitdagings. “Wat ’n masjien in een dag kan vervaardig, neem ons 40 dae. Ons moet 1 000 koekies per dag vervaardig om bloot net ons bedryfskoste te dek,” sê Williams.

Khayelitsha Cookies se mensgedrewe sakemodel dien gereeld as gevallestudies vir oorsese MBA-studente wat die maatskappy van oral oor die wêreld kom besoek.

“Ons het al studiegroepe van Oxford, Harvard en Auburn hier gehad,” vertel Williams. Die mees waardevolle besoek was egter van studente van die Alabama-Universiteit in die VSA.

Williams het die studente versoek om namens haar navorsing te doen oor hoe om die Amerikaanse mark te betree, asook na die gebreke in haar eie onderneming te kyk.

“Toe hulle ons besoek, het hulle my presies vertel wat fout is met ons webwerf en ons verpakking en ons manier van sake doen.”

Hierdie terugvoering het die klein Kaapse onderneming uiteindelik daartoe in staat gestel om sy vleuels internasionaal te sprei, sê sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.