Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Eie besigheid? Hier’s ’n doenlys

Droom jy daarvan om te bedank en jou eie onderneming soos ’n koffiewinkel of vulstasie te begin? Dis opwindend, maar riskant. Jeanette Marais gee ’n basiese doenlys vir entrepreneurs wat dié sprong oorweeg.

  

Maak seker jy verstaan hoe jou saak se bedryfskoste gestruktureer sal wees.

Entrepreneurskap word dikwels voorgehou as die antwoord op die werkloosheidsprobleem in Suid-Afrika en die ideale manier om finansiële en professionele doelwitte te bereik.

Tog is dit nie so maklik om ’n onderneming te begin as wat mense dink nie. Al is jy opgewonde oor die moontlikheid van ’n nuwe saak, moet jy gereed wees vir ’n moeilike begin. Ongelukkig toon statistieke dat 70% tot 80% van nuwe kleinsakeondernemings binne die eerste vyf jaar misluk.

As jy dit oorweeg om ’n eie onderneming te begin, is dit ’n goeie idee om die administrasie te doen terwyl jy nog ’n salaris verdien. Maak seker dat jy genoeg geld het om nie net jou uitgawes te dek nie, maar ook jou salaris of ander inkomste.

As jy ’n lening of aanvangskapitaal benodig om te begin, maak seker dat jy die rente kan bekostig. Versekeringsdekking is belangrik om in bedryf te bly – verseker die bates, die mense en jouself as die sleutelpersoon.

Momentum glo dat klein, middelslag- en mikro-ondernemings (KMMO’s) ekonomiese groei en werksgeleenthede dryf en is daarop gefokus om entrepreneurs op hul pad na sukses te ondersteun.

Hier volg ’n paar dinge wat jy in gedagte moet hou voordat jy jou eie saak begin en raad oor hoe om algemene finansiële slaggate te vermy.

  • Eerstens, erken dat passie nie ’n plaasvervanger vir ondervinding is nie. Maak seker dat die onderneming wat jy wil begin in ’n rigting is waarin jy ondervinding het. Die alternatief is om vennote met ondervinding te kies.
  • Kontantvloei is koning; maak dus seker dat jy genoeg geld beskikbaar het om jou onderneming en persoonlike sake aan die gang te hou. Die algemene reël is om te probeer om die ekwivalent van 12 maande se salaris weg te sit voordat jy die sprong waag.
  • Om ’n suksesvolle saak te begin, vereis deeglike beplanning. Gaan sit saam met jou finansiële adviseur en beplan jou eerste jaar se finansies tot op die laaste rand voordat jy die onderneming begin. Dit sal jou help om die finansiële implikasies te verstaan wat dit vir jou en jou gesin sal inhou.
  • Maak seker jy verstaan hoe jou onderneming se bedryfskoste gestruktureer sal wees en bereken wat jou aanvangskoste sal wees. Dit sal jou en jou werknemers se salarisse insluit, asook die koste verbonde aan ’n kantoor, pakhuis of fabriek, die geld wat jy benodig vir voorraad, indien van toepassing, en wat jy aan infrastruktuur soos internet en telefoonlyne moet bestee.
  • Dit is ook belangrik om jou sakelewe spoedig in orde te kry. Dit beteken jy moet ’n rekening apart van jou persoonlike bankrekening open, die registrasieproses aan die gang kry en vir ’n belastingsertifikaat aansoek doen en ook seker maak dat jou sakeonderneming aan die basiese maatskappywetgewing in Suid-Afrika voldoen.

Aan al die belowende entrepreneurs daar buite: Dit raak nie makliker nie – maar jy raak beter daarmee.

  • Jeanette Marais is adjunk- uitvoerende hoof van Momentum Metropolitan Holdings Bpk.
Jeanette Marais, adjunkhoof van Momentum Metropolitan.
Meer oor:  Entrepreneurs  |  Kleinsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.