Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Elke juweelstuk ’n klein kunswerk

Kreatiwiteit is ’n kragtige bron en ’n mens kan dit gebruik om enige probleem aan te pak. Geen reëlboek is nodig nie, ’n mens leer deur ervaring en ontmoet vele helpers langs die pad. Die kunstenaar Majorie Human gesels met Maricelle Botha oor haar juwelereeks en hoe ’n stokperdjie ’n heeltydse onderneming geword het.

Marjorie Human hard aan die werk in haar ateljee.

Marjorie het sowat sewe jaar gelede MugaMugahandmades, ’n ateljee wat handgemaakte juwele maak, as ’n stokperdjie begin. Vandag is die ateljee die bedrywige tuiste van ’n goed geoliede masjien. 

Met vyf permanente personeellede, is hierdie ’n kleurvolle kreatiewe ruimte waar almal die geleentheid kry om uiting aan hul idees te gee. 

Marjorie is ook die ontwerper van al MugaMugahandmades se juwele.

Sy vertel as kind het sy en haar sussie, die ontslape Bloemfonteinse kunstenaar Dot Vermeulen, graag kraletjies geryg en juweelgeskenkies vir familie en vriende gemaak.
“Ek onthou nog goed hoe Dot eendag op haar viool gaan sit het en die brug daarvan gebreek het. My ma was nie baie beïndruk en Dot het besluit om self hangertjies en armbandjies te maak wat sy by die eertydse kunsmark by Loch Logan teen R4 en R6 verkoop het om die R700 vir die herstel van die viool in te samel.”

Marjorie het in ’n artistieke huis grootgeword waar sy geleer is van die kuns om kuns te skep. 

“Albei my ouers skilder. Enige vorm van goed skep, is altyd aangemoedig.”

Die Love Africa-reeks.

Waar kom die passie vandaan? 

Ná skool het Marjorie haar meestersgraad in beeldende kunste aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi. Haar werk as projekbestuurder van ’n gemeenskapskunsontwikkelingsprojek, asook ontwerpdosent, het haar lewenslange belangstelling in entrepreneurskap in die kunste verder aangevuur. In 2010 het sy uiteindelik die sprong van geloof geneem om haar eie reeks heeltyds te skep en te bemark.

“Handwerk was nog altyd ’n groot passie vir my. Ek het al hoe meer begin wonder hoe ’n mens kuns en handwerk kan kombineer om produkte te skep wat bemarkbaar is. Ek het ook kurator gespeel en ’n uitstalling, genaamd 100 Plates (en meer onlangs Flux), vir die Vrystaat Kunstefees op die been gebring waar konseptuele kunstenaars, ontwerpers en handwerkspesialiste gevra is om elkeen ’n kunswerk te skep waar kuns- en handwerkmetodes aangewend word. Die resultate was baie opwindend en dit het my belangstelling in die kombinasie van kuns en handwerk nog meer aangevuur.” 

Sy sê die idee agter dié uitstallings was om blootstelling aan kunstenaars wat grense afbreek in hierdie dissiplines, en hopelik ook ’n paar nuwe entrepreneurs te inspireer.

Marjorie se Herwinbare juweliersware- en geskenke-reeks.

Majorie se juwele 

Majorie se pragtige doppies- en Shweshwe-juwele het destyds behoorlik aandag getrek en haar doppies-magnete is steeds van haar gewildste artikels. 

Haar Herwinbare juweliersware- en geskenke-reeks bestaan uit vrolike en veelsydige borsspelde, yskasmagnete en sleutelhouers wat van 100% gebruikte bierbotteldoppies gemaak is. 

Die opvallende hangertjies, armbande en knopie-oorbelle in die Love Africa-reeks is ryk aan helderkleurige patrone, geïnspireer deur die tekstiele van ons vasteland. In kombinasie met grondkleurige, soliede Birmaanse kiaathout. 

Die Folk-reeks bestaan uit handgemaakte knopie-oorbelle, hangoorbelle, armbande en halssnoere met ingewikkelde handverf-patrone, en illustrasies herinner aan die teksture en patrone van volkskuns, handwerk en borduurwerk.

Majorie meen om ’n juweelstuk aan iemand te gee is baie persoonlik en dit is waarom sy so baie daarvan hou om unieke stukke te ontwerp. 

Sy teken elke werkie met die hand, skandeer dit dan en werk verder op die rekenaar daaraan, totdat die perfekte kunswerkie geskep is.

’n Nuwe reeks op die mark is die Botaniese reeks.

“Botanie het so ’n energie van sy eie, elke blaartjie, elke blommetjie is uniek. Dit is nie soos wanneer ek ’n prentjie geteken het en dit moet manipuleer nie. Met die Botaniese reeks is daar altyd ’n verrassing wat op my wag,” verduidelik Majorie.

Haar man, Waldo, ’n houtwerkkunstenaar in eie reg, het ’n groot liefde vir plante en tuinmaak. Hy is veral baie in sy skik met Marjorie se nuwe belangstelling in die tuin.

“Jy raak self ’n vergrootglas, jy zoem in om die kleiner dingetjies raak te sien – met elke klein blaartjie wonder ek hoe dit in ’n oorbelletjie sal lyk. Dit het vir my ’n hele nuwe wêreld oopgemaak. Kwekerye is deesdae een van my gunsteling-uithangplekke. Waldo dink dit is die beste ding wat ooit kon gebeur want nou kan hy alles plant wat ek aankoop.”
Haar nuutste reeks noem sy Shrinkies. Die reeks bestaan uit handsketse wat om krimpplastiek geteken is en dan onder ’n hitteblaser geplaas word wat die tekening tot ’n kwart van die oorspronklike grootte laat krimp. 

“Ons fokus veral nou op ’n verskeidenheid oulike illustrasies vir juwele en geskenke wat ons van 26 tot 30 September by Kamers in Bloemfontein sal uitstal,” sê Marjorie. 
Sy sê om jou eie baas te wees het verseker uitdagings, maar dit bied ook ongelooflike vryheid. Boonop is dit vir haar ongelooflik om tussen ander kreatiewe persone te werk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.