Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Entrepreneur maak plan met ‘taxi-diens’ vir diere

As jou klein onderneming vou weens die staat van inperking, dan maak jy ’n plan en begin ’n nuwe een.

Lennart van Tonder, eienaar van Black Leash Couriers.

Dit is die enigste oplossing wat Lennart van Tonder, ’n 25-jarige entrepreneur van Vanderbijlpark, Gauteng, vir sy verknorsing gehad het.

“Ek het net besef dat met my onderneming, wat kouevleis versprei en wat geen geld gaan kan maak totdat ’n laer vlak van die staat van inperking ingestel word nie, gaan ek ’n plan móét maak om ’n inkomste te verdien,” sê Van Tonder.

“Ek is baie lief vir diere. Ons het nog altyd honde in die huis gehad.

“Dit is net daar wat ek, nou in die staat van inperking, besef het dat daar ’n aanvraag moet wees om troeteldiere te kan vervoer. Dit is omdat baie mense nie nou kan ry nie, of selfs wanneer die staat van inperking gelig word, kry mense nie altyd tyd om te ry en ’n dier te gaan haal of iewers heen te vat nie. Mense is ook nie noodwendig lus om die lang pad aan te durf wanneer ’n dier ver van hulle af is nie,” sê hy.

Van Tonder sê hy het die dag nadat hy dié idee gekry het, aan die werk gespring.

Dit is hoe Black Leash Couriers, wat in die vervoer van troeteldiere spesialiseer, die lig gesien het.

Van Tonder het besef dat hy nie lang ure alleen kan ry nie, en het sy skoolvriend, Ockert Geldenhuys, gevra om hom te help. Hy kon ook nie ’n inkomste verdien weens die inperking nie.

Ockert Geldenhuys met ’n hondjie wat gedurende die staat van inperking vervoer moet word.

Nou ry die twee die afgelope vier weke die wêreld plat om troeteldiere by hul eienaars te kry.

“Ons het nou, net in dié tyd, al vier keer Kaap toe en terug gery,” sê hy.

Hulle het vroeg in Junie na Vryburg in Noordwes gereis waar hulle agt miniatuur-worshonde gaan haal het. Die agt reuns kom van ’n teler wat weens verskeie redes besluit het om hulle prys te gee.

Ses van hulle het deur Dachshund Rescue South Africa nuwe huise gekry. Twee is nog in “pleegsorg” en is beskikbaar om aangeneem te word.

Van Tonder en Geldenhuys was skaars terug in Johannesburg, of hulle is weer Kaap toe om ’n hondjie daar te gaan haal.

Een van hul mees unieke passasiers tot dusver was ’n haarlose marmot.

Van Tonder sê hulle maak ’n punt daarvan om elke 250 km tot 300 km stil te hou en seker te maak die diere is nog gelukkig. Hulle hou ook gedurig die temperatuur in hul voertuig dop om seker te maak die diere bly gemaklik.

Om provinsiale grense te kruis in die inperking is nie aldag maklik nie.

“By die grense word ons gewoonlik gestop om te kyk of ons al die regte dokumentasie en permitte het. Ons koors is al gemeet en ons moes ook ’n siftingstoets doen,” sê hy.

Die haarlose marmot wat Black Leash Couriers al vervoer het.

Van Tonder sê sy ouers, en veral sy pa, ondersteun hom baie in sy ondernemings.

“My pa vra my altyd: Wanneer jy ’n nuwe besigheid begin en jy maak die eerste maand net die helfte van jou salaris, het jy gewen of verloor?

“As jou antwoord ‘verloor’ is, verander jou denkwyse, want dan is jy nog nie reg om jou eie onderneming te begin nie. As jou antwoord ‘wen’ is, dan is jy op die regte pad.”

Van Tonder sê in die geval van Black Leash Couriers het hy ’n bietjie spaargeld gehad van sy vorige onderneming wat hy kon gebruik om hierdie een aan die gang te kry. Sy ouers het hom gehelp om seker te maak hy het die regte dokumentasie en permitte.

Hy moedig jong mense aan om hul eie onderneming te begin. “Jong mense moet in hulself glo. Moet nooit toelaat dat ander mense se opinies jou beïnvloed in wat jy wil doen nie.

“Natuurlik is geen onderneming maklik om te begin nie. Dit verg ongelooflike deursettingsvermoë en harde werk. Daar gaan dae kom wat jy wil moed opgee.

“Moenie opgee nie.”

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Honde  |  Koronavirus  |  Troeteldiere  |  Vlak 3  |  Entrepreneurs  |  Inperking  |  Covid-19  |  Kleinsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.