Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Entrepreneur skep digitale rekenmeester vir kleinsake
Hennie Ferreira, uitvoerende hoof van Osidon.Foto: Elvira Wood

Entrepreneurs en eienaars van kleinsakeondernemings kan nou ’n digitale rekenmeester “aanstel” om hulle met hul finansiële state te help.

Dit is juis twee rekenmeesters, Hennie Ferreira en sy vrou, Melissa, wat dié “digitale rekenmeester” genaamd Osidon geskep het.

“Ons het die stelsel juis geskep omdat ons baie gefrustreerd was dat daar nie finansiële stelsels is wat veral entrepreneurs ondersteun nie,” het Ferreira Donderdag in Rosebank, Johannesburg, gesê met die bekendstelling van die produk.

“Ons het die nuutste kunsmatige intelligensie en wolktegnologie gebruik om die rekenmeester te skep.”

Ferreira verduidelik een van die grootste redes vir waarom entrepreneurs se ondernemings misluk, is omdat hulle nie die nodige beleid en wetgewing, asook finansiële vereistes, vir maatskappye ken en of verstaan nie.

“ ’n Entrepreneur kan ’n uitstekende plan vir ’n maatskappy hê, maar as die onderneming nie goed bestuur word nie, kan hy baie vinnig bankrot speel weens skuld wat nie bestuur is nie,” sê hy.

“Wat die situasie vererger, is dat die meeste kleiner maatskappye ook nie rekenmeesters kan bekostig nie.

“Selfs dié wat ’n rekenmeester kan bekostig, besef nie aldag dat hulle steeds nie noodwendig aan al die wetlike vereistes voldoen nie,” sê hy.

BTW is maar net een van dié kwessies wat – indien dit nie betaal word nie – baie vinnig ’n groot skuldlas kan veroorsaak.

Wat die digitale rekenmeester doen, is om sekere take te outomatiseer en dan die menslike rekenmeester daaraan te herinner om spesifieke take uit te voer.

“Ons vervang dus nie die menslike rekenmeester nie; ons gee hom of haar net supermagte,” sê Ferreira.

Hy verduidelik dat die platform ’n wolkdiens is en dit dus van oral op die planeet op enige toestel toeganklik is.

“ ’n Kliënt registreer aanlyn vir die diens. Hy of sy kry dan via die web en/of e-pos kennisgewings dat bankstate byvoorbeeld ingedien moet word.

“Die kliënt besef nie eens dat dit nie ’n mens is wat hom of haar gekontak het nie, maar ’n robot. Dit lyk bloot of dit sy of haar rekenmeester is wat die dokumente aanvra.”

Ferreira verduidelik dat Osidon nie nét uit ’n robot bestaan wat die werk doen nie.

“Elke kliënt kry ook toegang tot ’n toegewyde menslike rekenmeester. Dié persoon kan enige tyd gekontak word vir raad of om op te volg wat betref enige vrae,” sê hy.

Meer oor:  Rekenmeesters  |  Digitaal  |  Tegnologie  |  Kleinsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.