Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Entrepreneur wil smart met skoonheid temper

’n Hartverskeurende blik van staatslykhuise op Carte Blanche in 1997, gevolg deur ’n agter-die skerms-toer van ’n begrafnisonderneming, het gelei tot Sonja Smith se brandende ­begeerte om die hartseer in ’n bedryf vol tragedie te temper met skoonheid.

                            

Sonja Smith by die oorhandiging van die Nasionale Kleinsake-kamer se sakevrou-kampvegtertoekenning vir 2015. Van links is Stephen Swart, hoof van verkrygings by First National Bank, Gérard du Plessis, voorsitter van Adams & Adams; Sonja Smith en Songezo Masiso, nasionale verkoopsbestuurder van Vodacom.

Nege jaar later, in 2006, het Smith haar eerste begrafnisondernemerstak oopgenaak onder die vaandel Sonja Smith Funeral Group.

By dié sonderlinge onderneming voer swart nie letterlik of figuurlik die botoon nie. Van die Kia Soul-babalykswa tot die pastelskakerings van haar personeel se klere word wanhoop getemper deur Smith se persoonlike toewyding en ’n kaliber van vertroosting wat aan selfs die grootste wrokaankoop ’n dimensie van hoop
en inspirasie gee.

Haar sakemodel en die gepaardgaande fenomenale groei het nie ongesiens verbygaan nie. Verlede jaar het sy weggestap met twee entrepreneurspryse: die Nasionale Kleinsakekamer se sakevrou-kampvegtersprys vir 2015 en Business Excellence Forum SA (BEFA) se prys vir die vernuwendste maatskappy (2015).

Smith was ook ’n finalis in die Margaret Hirsch-sakevrou-uitblinkertoekennings in Oktober 2015.

Die fokus van die toekennings was onder meer Smith se moed en durf; “die guts om regskwessies en verkeerde dinge aan te vat”, soos sy dit stel, asook die groep se verbintenis tot vernuwing en korporatiewe maatskaplike belegging.

Die Sonja Smith Funeral Group pronk tans nie net met ’n nuwe korporatiewe identiteit nie. Naas drie takke wat aan haar behoort, Centurion, Moreletapark en Meyerspark, is daar nou vier franchises: Brooklyn, Montana, Moot en Midstream met franchise-houers wat streng keuring, insluitend psigometriese ­toetse, moes ondergaan.

“’n Mens soek iemand met deernis en empatie, iemand hulself in iemand anders se skoene kan plaas en op hierdie manier reeds troos kan bring,” verduidelik sy.

Dink jou in, dis ’n perfek gevormde mensie, en dit word saam met gebarste blindederms weggegooi.

En dis maar net die begin. Binne die volgende drie jaar beplan Smith om nog 31 franchises te skep en ook ’n nasionale voetspoor aan te pak.

Op korporatiewe maatskaplike front is die groep aktief betrokke by inisiatiewe wat gehalte tot alzheimerslyers se lewe toevoeg.

Vroeggebore babas

Smith is ook passievol oor haar betrokkenheid by ’n beweging wat gemik is op die verandering van wetgewing wat tans stipuleer dat babas wat voor 26 weke doodgebore word, as mediese afval geklassifiseer word.

“Dink jou in, dis ’n perfek gevormde mensie, en dit word saam met gebarste blindederms weggegooi,” beduie sy ont­stoke. “Daar is ’n skuiwergat in die wet wat my hewig ­ontstel.”

Ten slotte deel sy iets wat, vertel sy, niemand nog van Sonja Smith weet nie. “Ek het een oupa gehad wat ’n burgemeester was en een wat ’n boemelaar was. Wat maak dit van my?” vra sy.

’n Bobaasentrepreneur is minstens halfpad op pad na die regte antwoord.

Meer oor:  Entrepreneurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.