Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
‘Entrepreneurs, begin nuwe saak júis nou!’

Die tyd is ryp vir entrepreneurs om iets van die grond af op te bou, selfs al is die wêreld in rep en roer oor Covid-19, sê Adrian Gore, uitvoerende hoof en stigter van Discovery.

Adrian Gore, uitvoerende hoof en stigter van Discovery.

“Mense sê nou is nié die tyd om ’n nuwe onderneming te begin nie. Ek sê dit is júis nou.”

Endeavor SA, waarvan Gore die stigter-voorsitter is, het pas ’n vennootskap met die KMO-fonds aangegaan. Dit het ten doel om sogenaamde hoë-impak-entrepreneurs te help om hul onderneming uit te brei en te vergroot.

Endeavor SA is deel van die interna­sionale Endeavor-groep, wat gesetel is in New York met takke in 38 lande en meer as 2 000 entrepreneurs onder sy vaandel.

Die organisasie help entrepreneurs met mentorskap en netwerkgeleenthede sodat hulle kan groei en hul bydrae tot die ekonomie en werkskepping kan vergroot.

Die KMO-fonds was ’n uitvloeisel van die CEO Initiative, wat as ’n vennootskap tussen die regering en die private sektor begin is. Die fonds word gefinansier deur 50 van die land se grootste maatskappye en die Openbare Beleggingskorporasie (OBK).

Tot dusver is R1,2 miljard beskikbaar gestel vir waagkapitaal, skuldfinansiering en groeikapitaal.

Gore sê hy het Discovery tussen 1992 en 1993 begin toe daar groot onsekerheid in die land was. “Dit was die oorgang van apartheid na ’n demokrasie. Daar was vrese van ’n burgeroorlog en mense het geëmigreer.

“Maar toe ander gevlug het, het ons ’n nuwe onderneming begin en toe daar weer stabiliteit in die land was, was ons gereed om sake te doen.

Ek is diep oortuig daarvan: In moeilike tye moet jy juis iets nuuts begin.
Adrian Gore

“Ek is diep oortuig daarvan: In moeilike tye moet jy juis iets nuuts begin.”

Met die nuwe uitbreidingsprogram vir entrepreneurs sal Endeavor SA oor die volgende drie jaar 15 entrepreneurs help om hul onderneming uit te brei ingevolge die scale up oftewel groeiprogram.

Daar is reeds 28 maatskappye in Endeavor SA se portefeulje.

Alison Collier, besturende direkteur, sê die 28 maatskappye genereer reeds ’n jaarlikse inkomste van gemiddeld R200 miljoen en hul indiensneming groei jaarliks met 16%.

“Net in 2020 het hulle 11 535 mense in diens geneem van wie meer as 75% swart werkers was.”

Collier het aan Rapport gesê die ondernemings in entrepreneurs in En­deavor se portefeulje bied ’n “interna­sionale” oplossing, nie net plaaslik nie. “Hulle het ’n diens of oplossing waaraan daar wêreldwyd ’n behoefte is.”

Sy sê ondernemings wat tegnologie gebruik in die diens wat hulle verskaf, het by verstek groter potensiaal om te groei en uit te brei.

“Om ’n ekstra ‘eenheid’ van ’n diens te lewer wanneer so ’n maatskappy uitbrei, kos nie ekstra geld nie, want die tegnologie is klaar tot stand gebring. Maar met ondernemings wat verbruiksartikels verkoop, moet jy ’n ekstra produk maak.”

Dit is dus dié tegnologie-gedrewe eienskap wat maak dat hierdie ondernemings so vinnig kan groei.

Collier sê Suid-Afrika moet baie meer belê in ondernemings wat vinnig kan uitbrei omdat hulle vinnig meer inkomste genereer en ook meer mense in diens kan neem.

“Maar in ’n ekonomie het ’n mens ook entrepreneurs nodig wat plaaslik ingestel is. Hierdie ondernemings (wat dikwels stadiger groei) is minder riskant en baie nodig vir ’n stabiele entrepreneur-ekostelsel.”

Meer oor:  Adrian Gore  |  Entrepreneurs  |  Kleinsake  |  Kmo's  |  Ceo Initiative
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.