Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Franchise-houers wil werkverliese keer

Sowat 94% van Suid-Afrika se 48 000 franchise-ondernemings het sedert 26 Maart geen sake gedoen nie. Daar word gevrees dat 75 000 poste verlore kan gaan.

’n Cash Converters-winkel. Foto: Deon Raath

“Dit is egter ’n konserwatiewe beraming,” het Vera Valasis, uitvoerende direkteur van die Fran­chise-vereniging van Suid-Afrika (Fasa), aan Rapport gesê.

Die vereniging raam daar sal baie meer werksverliese wees as ondernemings aanhou verbied word om sake te doen.

Fasa het Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling, handel en nywerheid, op 11 April in ’n brief gevra dat kitskosondernemings toegelaat moet word om bevrore klaarbereide kos soos lasagne of pizzas te verkoop.

“Maar die regering blyk in die teenoorgestelde rigting te beweeg as dit wat ons versoek en ons verstaan nie die redes hiervoor nie. Dit sal ’n belangrike lewenslyn vir hierdie ondernemings wees.”

Valasis sê Fasa hoop kitskosondernemings sal toegelaat word om ten minste kosaflewerings sonder kontak te doen wanneer die inperking afgegradeer word. “Ons kitskos-franchise-houers is slaggereed om onder uiters higiëniese toestande kos te kan voorberei.”

Nie net kitskosondernemings trek swaar nie. “Die hele fran­chise-bedryf met uitsondering van supermarkgroepe is ’n gevoelige slag toegedien,” sê sy.

Sorbet

Rudi Rudolph, uitvoerende hoof van die skoonheidsalon-franchise Sorbet, sê die groep se inkomste het in Maart reeds met 30% getuimel – nog voordat die totale inperking in werking getree het.

Die skoonheids-franchise Sorbet het in April groot verliese gely weens die inperking.

Al Sorbet se salonne is weens die inperking gesluit. Rudolph sê Sorbet het reeds voorbereidings getref vir bykomende veiligheid en higiëne in al sy salonne, soos om skerms op te rig tussen tafels waar skoonheidsterapie gedoen word.

“Selfs voor die inperking het ons maatreëls vir ontsmetting van ons winkels, toerusting en persoonlike beskerming vir ons skoonheidsterapeute aansienlik verskerp.”

Wanneer Sorbet-salonne weer kan sake doen, sal die personeel in spanne verdeel word en langer ure oopbly sodat minder mense op ’n slag in die winkels is.

“Waar daar byvoorbeeld tien tafels is vir naelversorging, sal net vyf oop wees, sodat die korrekte fisieke afstand tussen terapeute en kliënte gehandhaaf word.”

Sorbet het sy franchise-houers kwytgeskeld van franchise-geld vir Maart en April, het Rudolph gesê. “Ons hoofdoel is om werksverliese te keer en salarisse is eerste prioriteit. Niks anders nie. As ons weer mag sake doen en ons het nie personeel nie, wat dan?”

Cash Converters

Richard Mukheibir, uitvoerende hoof van Cash Converters, het aan Rapport gesê dié pandjieswinkelroep het Patel ook versoek om hul winkels toe te laat om sake te doen.

Richard Mukheibir, uitvoerende hoof van Cash Converters.

Mukheibir meen sy groep kan ’n waardevolle rol speel om kontant in Suid-Afrikaners se sakke te sit in die taai ekonomiese omstandighede. “Mense wat afgelê is in hierdie tyd of wat net ’n gedeelte van hul salarisse ontvang het, kan goed wat in onbruik by die huis lê inbring en dit verruil vir kontant.”

Cash Converters het ook ’n opsie waar klante ’n voorskot kan kry wanneer hulle byvoorbeeld ’n lening wil aangaan en ’n roerende bate daarvoor wil aanbied as sekuriteit. “Jy kan byvoorbeeld jou grassnyer na ’n winkel toe bring en geld daarteen leen.”

Oasis Water

Naas du Preez, besturende direkteur van Oasis Water, sê hoewel die groep se winkels tot noodsaaklike diens verklaar is en wel kon sake doen, is hul omset tans 50% laer as verlede jaar dié tyd.

’n Argieffoto van ‘n Oasis Water-winkel in Hermanus.

“Ons sal eers oor 12 tot 18 maande weer die agterstand kan inhaal.” Die vraag na Oasis Water se produkte het aansienlik afgeneem namate minder gebottelde water vir geleenthede en byeenkomste bestel word.

Du Preez sê sowat 40% van Oasis Water se personeel sal uiteindelik deur die uitbreking van Covid-19 geraak word, wat verminderde werksure en onbetaalde verlof in die toekoms kan insluit. “Die laaste uitweg is tydelike afleggings. Ons het gelukkig nog nie nodig gehad om mense af te lê nie.”

Meer oor:  Sorbet  |  Entrepreneurs  |  Restaurante  |  Inperking  |  Franchises  |  Kitskos  |  Covid-19  |  Kleinsake  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.