Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Geld rol in vir dié wat dit as beïnvloeders maak

Wie wil nou ’n dokter of ’n prokureur word as jy Cristiano Ronaldo kan wees en $1,6 miljoen (R22,4 miljoen) kan vra vir ’n enkele geborgde Instagram-boodskap.

Cristiano Ronaldo, wie se voorkeur vir water Coca-Cola se aandeelprys (tydelik) met $4 miljard laat tuimel het.

Of Logan Paul, die YouTube-ster wat onlangs sowat $20 miljoen verdien het uit ’n enkele boksgeveg (wat hy verloor het!)

Maar om ’n sakeryk op te bou as ’n beïnvloeder op sosiale media, klink makliker as wat dit is, waarsku Mike Sharman, ’n kenner van sosiale media.

“Dit is ’n hoogs versadigde mark. Tensy jy regtig merkwaardige inhoud bied en ’n nismark vir jouself oopgekap het, gaan jy nie sommer hond haaraf maak nie,” sê Sharman.

Hy was in 2013 ’n medestigter van webfluential.com – ’n platform wat handelsmerke met beïnvloeders in aanraking bring. Webfluential het nou al sowat 15 000 intekenare.

“Daar is minstens agt Suid-Afrikaanse beïnvloeders wat elk meer as R1 miljoen se inkomste verdien deur bloot handelsmerke te bemark en te ondersteun,” sê Sharman.

Die waarde van beïnvloeders se ondersteuning – of gebrek daaraan – het in Junie vanjaar nuwe betekenis gekry toe Ronaldo op ’n mediakonferensie voor ’n sokkerwydstryd in Budapest in Hongarye twee bottels Coca-Cola eenkant toe geskuif het. Hy het ’n bottel water opgetel en gesê: “Agua!” (water in Portugees), volgens The Guardian. Dié enkele gebaar het $4 miljard van Coca-Cola se aandeelprys weggekalwe – darem net tydelik.

Kevin McLennan, sosialemedia-beïnvloeder van die jaar vir sy TikTok-reeks oor hoe om huise en kantore goedkoop te verfraai.
Die beïnvloeder La­sizwe (Thulasizwe Siphiwe Dambuza).
Logan Paul, beïnvloeder en You­Tube-ster.
Thobeka Mthembu, ’n opkomende beïnvloeder.

Die jongste verslag van GlobalWebIndex (GWI) oor tendense in sosiale media toon Instagram voer die botoon as advertensieplatform. Die meerderheid van respondente sê hulle het al op Instagram na iets gaan soek wat hulle wou koop.

TikTok is ’n kortkop agter. Die platform se gewildheid in Suid-Afrika het verlede jaar sedert die inperking opgeskiet en daar was ses maande gelede reeds ses miljoen Suid-Afrikaners op TikTok, sê Sharman. ’n Peiling wat Nielsen gedoen het, toon dat agt uit tien respondente TikTok beskou het as ’n “geloofwaardiger en unieker” platform.

Scott Thwaites, hoof van ontluikende markte vir TikTok Global Business Solutions, het aan Rapport gesê hoewel die grootste getal gebruikers van die platform mense van Generasie Z en millenniërs is, vind dit ook byval by die ouer garde.

“Harry’s Little Garden is byvoorbeeld inhoud van ’n oupa wat wenke deel oor hoe om plante te kweek.”

Danksy TikTok het Kevin McLennan, ’n mediapersoonlikheid, onlangs die Suid-Afrikaanse Prism-prys vir sosialemedia-beïnvloeder van die jaar gewen. McLennan se “Cheap AF”-reeks op TikTok het aan hom 30 000 volgelinge in net vier maande besorg met meer as ’n miljoen kyke (views). Hy wys sy volgelinge hoe mense met ’n beperkte begroting hul huise en kantore kan verfraai.

Dis harde werk om invloedryk te wees.

“Baie mense dink ek poseer net heeldag vir die kamera, maar dit word voorafgegaan deur ure se voorbereiding,” sê Thobeka Mthembu, oftewel Thobi soos sy op sosiale media bekend staan. Thobi is ’n opkomende beïnvloeder met meer as 40 000 volgelinge op Instagram, meer as 20 000 op Twitter en 11 000 intekenaars op YouTube.

Sy sê kruisbestuiwing oor verskillende sosialemedia-platforms heen is belangrik om volgelinge op te bou.

Thobi meen haar sukses lê opgesluit in die feit dat sy aanhoudend in verbinding is met haar volgelinge. “Ons is voortdurend in gesprek en ek antwoord op alle opmerkings!”

Sy laat haar volgelinge ook sien hoe sy lyk agter die skerms, sonder grimering en aan die werk. “Eerlikheid en openlikheid is belangrik,” sê sy.

  • Bykomene bronne: givemesport.com; businessinsider.com; Randburg Sun; vox.com
Meer oor:  Internet  |  Sosiale Media  |  Tegnologie  |  Rykes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.