SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Entrepreneurs
Gesoek: SA entrepreneurs om oorsee te gaan skitter
Talle beginnerondernemings in Suid-Afrika kan baat vind by ’n program van Brittanje se departement van internasionale handel om jong entrepreneuriese talent na Brittanje te lok.Foto: Unsplash

Gesante van Brittanje se departement van internasionale handel is tans in Suid-Afrika op soek na jong, belowende entrepreneuriese talent.

Stephen Mooney en Anthony Sheehan, albei gevestigde entrepreneurs in eie reg, vergader vandeesweek met beginnerondernemings in Kaapstad en Johannesburg.

Die besoek vorm deel van ’n internasionale projek van die Britse regering om opkomende ondernemings te oortuig en te help om hulself minstens gedeeltelik in Brittanje te vestig.

“Hierdie tipe ondernemings het die potensiaal om baie waardevol te wees vir Brittanje,” verduidelik Mooney. Hy dien tans in die direksie van Synoptica, ’n platform wat ondernemings help om meer potensiële kliënte te bereik danksy kunsmatige intelligensie. Sheehan is die uitvoerende hoof van Hoverworks, ’n onderneming wat mediese toerusting met hommeltuie by noodpersoneel aflewer.

Mooney en Sheehan het reeds meer as 400 internasionale beginnerondernemings gehelp om hul voete te vind en te groei.

Die twee is ook betrokke by ’n interaktiewe entrepreneuriese dag genaamd Startup Games waar tot 70 beginnerondernemings bymekaarkom en voorleggings doen aan moontlike beleggers.

Mooney en Sheehan is tans in Suid-Afrika om te sien of só ’n dag plaaslik gehou kan word. Die wenner van die kompetisie ontvang leiding van swaargewigte in die entrepreneuriese wêreld, sowel as toegang tot ’n wye netwerk van beleggers en soortgelyke sakeondernemings wêreldwyd, met die steun van die Britse regering.

Enige onderneming kan deelneem. Al wat jy nodig het, is ’n goeie idee.
Anthony Sheehan

“Ons het reeds suksesvolle kompetisies in uiteenlopende plekke soos Madrid, Singapoer, Sydney, Mexiko Stad en Bogotá gehad,” sê Sheehan. Die Britse departement van internasionale handel sal ná vandeesweek se besoek besluit of hulle ook so ’n kompetisie in Suid-Afrika wil aanbied.

Indien wel, sal enige onderneming kan deelneem, sê Sheehan. “Al wat jy nodig het, is ’n goeie idee.”

Beginnerondernemings wat reeds redelik gevestig is met ’n werkende produk of idee, vaar normaalweg beter, sê hy. “Ons is veral op die uitkyk vir tegnologiemaatskappye wat ’n verskil in die samelewing kan maak.”

Die span het Suid-Afrika ook twee jaar gelede besoek en toe vir Mark Kayser, die uitvoerende hoof van Fluid, in Johannesburg ontmoet. Fluid, wat programmatuur aan ondernemings bied om hul produktiwiteit te verbeter, is een van die plaaslike beginnerondernemings wat Mooney en Sheehan gehelp het om oorsee uit te brei.

Kayser bring nou tot agt maande van die jaar in Brittanje deur, sê Mooney. Die maatskappy se programmeerders werk steeds vanuit Johannesburg.

“Die mikpunt is nie om talent en werkgeleenthede uit die land te verwyder nie, net om die maatskappye te help om te groei.

“En ons glo dat Brittanje naas Silicon Valley in Amerika een van die beste plekke op aarde is om dit reg te kry.”

Die departement se besoek vind in oorleg met plaaslike ontwikkelingsagentskappe, waaronder Wesgro, plaas.

Meer oor:  Brittanje  |  Tegnologie  |  Ekonomie  |  Entrepeneurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.