Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Herwonne wynhout word ’n onderneming

“Kiewiet het organies gebeur. My gewilligheid en desperaatheid het geleidelik gehelp dat ek geleenthede aangegryp het wat na my kant toe gekom het.” Anthony Laubscher vertel aan Marchelle van Zyl hoe sy onderneming begin het.

Die Kiewiet-span is, van links, Marinda Theunissen, André Farao, Anthony (Kiewiet) Laubscher, Adrian Williams, Reuben Erasmus, Oscar Kleinbooi en Donovan Hansen. Foto: Marchelle van Zyl

   

Richard Branson het gesê: ‘If somebody offers you an amazing opportunity but you are not sure you can do it, say yes – then learn how to do it later.’

Anthony Laubscher se bynaam, Kiewiet, het die naam van sy onderneming geword. Laubscher gebruik ou wynvate en wyngevlekte akkerhout, herwin dit en maak meubels en snyborde van dié skaars hout.

Een van die eerste produkte wat Kiewiet uit herwonne eikehoutvate gemaak het. Foto: www.kiewiet.co

Maar sy onderneming het wankelrig begin.

Laubscher kon ná agt jaar op universiteit nie ’n werk kry nie. Toe gaan verf hy maar huise vir twee jaar.

“Dit was terapeuties,” sê hy. “Maar in daai stadium was my sakebloudruk om arm te wees.

“’n Mens moet jou mindset verander as jy wil begin geld maak. Ek was arm en ek wou arm wees. Ek het baie geleenthede van die hand gewys ná die teleurstelling ná universiteit.”

Toe gaan werk hy vir ’n vriendin waar sy sake gedoen het by die geskenke-onderneming Kamers. “Ek het nog nooit vroue só sien shop nie!” sê hy oorbluf.

Hy ontmoet toe die Kamers-bestuurspan en maak ’n grap: “Maar ’n mens sal mos enigiets aan hierdie vroue kan verkoop.” Die span daag hom toe uit: “Maar kóm!”

’n Mens moet jou mindset verander as jy wil begin geld maak. Ek was arm en ek wou arm wees. Ek het baie geleenthede van die hand gewys.

Idee

Só het sy onderneming ontstaan uit ’n idee van twee vriende. ’n Vriend van Laubscher het hom gevra om ’n Chinese bankie te maak van wynvat-dye. ’n Huismaat stel toe voor hulle sit ’n ruglening by en tot vandag toe is dit een van sy topverkopers.

Later het die Kamers-span hom aangemoedig om nuwe produkte te ontwikkel en daar het die idee vir die snyborde begin.

As jong 12-jarige entrepreneur het hy Die Burger afgelewer en groente uit sy pa se tuin verkoop. Hy kyk anders na die lewe as die gemiddelde ou.

“Ek doen nie sake soos ander mense nie. En dit het nie altyd gewerk nie. Ek het nie stelsels gehad nie. Ek laat my energie ons lei en laat dinge organies gebeur.”

Stelsels

Maar hy moes duur lesse leer. “Ek het nie kontrakte geteken nie. Ek het mense vertrou, maar is so ook sleg ingeloop. Maar ek leef nie in die verlede nie. Nou is dit tyd om my stelsels opgestel te kry.”

’n Koffietafel gemaak van ou wynvate. Kiewiet maak ook bankies, broodplanke, kaasborde, skinkborde, kratte en stoele. Foto: Kiewiet.co

Want hy voel ook verantwoordelik vir die mense wat saam met hom werk. Laubscher het as student op ’n plaas naby Elsenburg ingetrek en dadelik aanklank gevind by die kinders van die plaasgemeenskap.

Hy het hulle sien grootword en ná skool het hulle ook gesukkel om werk te kry. Laubscher het hulle houtwerkvaardighede geleer en dié ses werknemers is nou die ruggraat van Kiewiet.

“Hulle is soos my kinders,” sê Laubscher.

Jy kan sien hy gee om vir die klein gemeenskappie wat om Kiewiet ontstaan het.

“As jy nie bereid is om ’n dienskneg te wees nie, los dit,” gee Laubscher raad vir mense wat daaraan dink om hul eie onderneming te begin. “As jy dit doen vir die geld, gaan dit nie werk nie. Ek dien mense. Ek bedien hulle die heeldag. Daardie smile wat jy elke dag moet opsit vir honderdduisende tannies by Kamers . . .

“As jy nie bereid is om mense te dien met die regte hart en gesindheid nie, dan moet jy dit los. Want jy werk vir ander mense. So, jy is nie die baas nie. Ek werk vir my werkers. Ek staan in die oggende op vir my werkers. Daai ekstra myl is vir ander mense, dis nie vir my nie. Maar ek weet dit kom terug na my toe. Maar jy moet dit nie verwag nie.”

Daar is ook nie tyd om gemaklik te raak nie. Jy moet die heeltyd aan nuwe idees dink en uitdagings bestuur.

Ek staan in die oggende op vir my werkers. Daai ekstra myl is vir ander mense, dis nie vir my nie.

“Op die oomblik is ons onderneming in groot moeilikheid, want daar is nie meer hout nie.”

Die wynbedryf het ’n tekort aan wynvate en hout, dus is die volhoubaarheid van sy onderneming in gedrang. Sonder plase soos Fairview, Kanonkop, Marianne, Morgenhof, Lourensford en Paardeberg ­Winery se ondersteuning het hy nie meer ’n onderneming nie, vertel Laubscher.

Het hy raad vir entrepreneurs?

Run for the hills,” spot hy. Hy dink diep na.

“Dit is nie vir enigiemand nie. Jy moet weet jy wil jou eie ding doen. Jy kan nie ’n onderneming begin as dit nie vir jou oukei is om te misluk nie. Die kanse dat jy gaan misluk, is goed.

“As jy ’n goeie idee kry – don’t quit your day job as jy nie onbeperkte geld het om jou te steun nie. Moenie verlei word deur die romantiese idee van enterpreneurs se onafhanklikheid nie. Jy is nooit onafhanklik nie.

“As jy dink jy is onafhanklik, gaan jy dit nooit maak nie. Jy is interafhanklik. Ek is ontsettend afhanklik van ander mense: van mense se goedgesindheid, se gewilligheid om my ruimte te gee (in winkels en by markte) en om vir my hout te gee.”

Op die plaas raas die masjiene. Dis ’n stowwerige affêre en dit ruik na ou wyn. Die produkte wat uit dié stof verrys, dra ’n storie van deursettingsvermoë en ­naïewe goedgelowigheid. Dis die nederige tuiste van Kiewiet: ’n gemeenskap wat uit weggooihout geskaaf word.

Besoek Kiewiet van 1 tot 5 Junie by Kamers by die Kasteel in Kaapstad. Besoek hul webruimte by www.kiewiet.co.

Meer oor:  Meubels  |  Entrepreneurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.