Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Hofaansoek gebring teen ‘rassistiese’ toerismefonds

AfriForum en Solidariteit se regspan het Woensdagmiddag laat amptelik ’n hofaansoek gebring teen die stigting van die Toerisme-ekwiteitsfonds, wat slegs swart sakelui sal ondersteun.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme. Foto: Getty Images

Die aansoek is by die hooggeregshof in Pretoria ingedien.

Dit kom nadat pres. Cyril Ramaphosa en Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, verlede jaar die Toerisme-ekwiteitsfonds (TEF) bekend gestel het as ’n instelling wat finansiering aan toerismeondernemings gaan verskaf.

Slegs ondernemings wat minstens 51% swart eienaarskap het, kwalifiseer vir lenings of toelaes van dié fonds.

Benewens hulpverlening weens die impak van die Covid-19-pandemie op die toerismebedryf, het die fonds van sowat R1,2 miljard ten doel om nuwe projekte in die toerismebedryf vir swart entrepreneurs te vergemaklik.

Die aankondiging van regstappe kom slegs ure nadat Kubayi-Ngubane in die parlement vrae oor die fonds beantwoord het en aangekondig het dat geen hofsaak nog gebring is nie.

Kubayi-Ngubane het volgehou dat die fonds sal voortbestaan en dat sy ten alle koste veral swart vroue daardeur sal bemagtig.

“Die swart vrou was in die apartheidsjare die simbool van armoede, maar was ná 1994, en is nou tydens die Covid-19-pandemie, steeds die simbool van armoede,” en daarom moet sy as leier dit verander, het Kubayi-Ngubane geantwoord op vrae in die Nasionale Raad van Provinsies.

Sy is veral deur die VF Plus gepeper met vrae oor die fonds en verskeie bewerings dat dit rassisties is.

Dis ondenkbaar dat die regering nou geld wil aanwend om nuwe ondernemings en projekte te finansier terwyl bestaande ondernemings in die bedryf dringend hulp benodig.
Monique Taute

Toe Armand Cloete van die VF Plus in vraetyd dit aan Kubayi-Ngubane gestel het dat regsdokumente wel tans voorberei word, het sy geantwoord dat sy gereed is vir die hofsaak en dit is ’n “geregverdigde oorlog” om in te veg.

“Die Covid-19-krisis het weer die kollig op die regering se rasgedrewe doelstellings geplaas,” sê Monique Taute, AfriForum se hoof van veldtogte, Woensdag in ’n verklaring.

“Dis ondenkbaar dat die regering nou geld wil aanwend om nuwe ondernemings en projekte te finansier terwyl bestaande ondernemings in die bedryf dringend hulp benodig. Die ekonomiese krisis waarin hierdie ondernemings hulle bevind, is onder meer veroorsaak deur die streng Covid-19-regulasies wat deur die regering op die toerismebedryf toegepas word.

“AfriForum sal nie toelaat dat die regering die nood van mense in die toerismebedryf as geleentheid gebruik om hul transformasie-agenda te dryf nie.”

Maar transformasie is presies waarna die regering mik.

In sy aanvanklike aanbieding van die TEF het Ramaphosa 11 keer die woord transformasie gebruik, en Kubayi-Ngubane het beklemtoon dat transformasie, eerder as hulpverlening, die hoofdoel van die fonds gaan wees.

“Die krisis waarin die toerismebedryf gedompel is, kan nie deur kaders met politieke konneksies misbruik word as ’n geleentheid om munt te slaan nie. Daar is verskeie kriteria wat eerder in ag geneem kon word, maar die regering is rasmal en vasgevang in ’n strik van pagsoekery en eng belange.

“Hulle bevorder hul eie prioriteite ten koste van die toerismebedryf en Suid-Afrika. Ons kan dit nie toelaat nie,” sê Morné Malan, kommunikasiehoof by Solidariteit.

Meer oor:  Solidariteit  |  Afriforum  |  Seb  |  Swart Ekonomiese Bemagtiging  |  Hulpfonds  |  Toerisme  |  Hofsaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.