Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Hulp vir kleinsake kom drupsgewys deur

Uit sowat 17 000 aansoeke van kleinsakelui vir hulp tydens die Covid-19-pandemie is nog net 665 aansoeke finaal goedgekeur, het geblyk uit ’n voorlegging Dinsdag in ’n aanlyn parlementsvergadering.

Khumbudzo Ntshavheni, minister van kleinsakeontwikkeling.

Maar Martin Mahose, voorsitter van die kleinsakefinansieringsagentskap Sefa, het by die vergadering van parlementskomitees wat toesig hou oor die departement van kleinsakeontwikkeling verduidelik dat baie van die “aansoeke” bloot aanvanklike e-posnavrae was en dat 6 497 aansoeke boonop verwys is na die kleinsakeontwikkelingsagentskap om hulle te help om eers hul papierwerk uit te sorteer.

Parlementslede van opposisiepartye was nogtans krities oor die trae vordering, en oor buitelandse spazawinkeleienaars wat deur die polisie afgeknou word.

Maar Khumbudzo Ntshavheni, minister van kleinsakeontwikkeling, sê die R530 miljoen wat aanvanklik beskikbaar was vir hulp sal binne drie dae uitgedeel wees. Daar was tandekryprobleme aan die begin, en die departement vra die nasionale tesourie vir meer geld. Teen die tempo waarteen aansoeke instroom sal die departement meer as R5 miljard nodig hê.

Op ’n vraag van Tim Brauteseth van die DA oor bemagtigingsvereistes vir hulp te midde van die pandemie wat alle rasse tref, het Ntshavheni beklemtoon bemagtiging en ekonomiese transformasie is ’n fundamentele beleid en daar sal nie daarvan afgewyk word nie.

Sy het die gebrek aan hulp vir buitelandse spazawinkeleienaars verdedig en sê baie van dié handelaars dryf onwettig handel en neem meestal nie Suid-Afrikaners in diens nie.

PnP en Shoprite bly buite

Die regering gaan nie toelaat dat kleinhandelreuse soos Pick n Pay en Shoprite die gaping in townships vul wat spazawinkels kan laat wat weens die Covid-19-inperking nie meer sake doen nie, sê Ntshavheni.

Nedbank help die departement met die proses vir spazawinkeleienaars om vir hulp aansoek te doen, het Ntshavheni gesê op ’n vergadering van parlementêre komitees wat oor haar departement toesig hou.

Gesprekke is ook met Standard Bank en die Suid-Afrikaanse Poskantoor begin om te help. Vir landelike spazawinkels is dit makliker om by hul naaste poskantoor vir die hulp aansoek te doen.

Lindokuhle Mkhumane, waarnemende direkteur-generaal van kleinsakeontwikkeling, sê die kleinsakeskuldverligtingsfonds is van die gewildste maniere waarop kleinsake hulp soek van die regering.

Die kleinsakeondernemings kry hulp met aansoeke by die Werkloosheidsversekeringsfonds, met verligting vir huurverpligtinge, en vir hul munisipale rekeninge.

Die ondernemings wat kwalifiseer vir hulp is dié wat teen einde Februarie as ondernemings geregistreer was, wat ten volle in Suid-Afrikaners se besit is, en 70% van die werknemers moet Suid-Afrikaners wees.

Hulle belastingsake moet in orde wees.

Hulle moet op die nasionale databasis vir klein-, mikro- en middelslagondernemings geregistreer wees.

Die dokumente wat vereis word, is ID-dokumente, bankstate van drie maande, en kontantvloeistate van ses maande.

Spazawinkels

Die hulpprogram vir spazawinkels bied bedryfskapitaal via die Khula Kredietwaarborgskema.

Die kriteria is dat die winkels deur die eienaars self bestuur en bedryf word. Dit moet Suid-Afrikaners wees en hulle moet ’n lisensie hê om handel te dryf.

Die finansiering wat hulle kry, is bedryfskapitaal van tot R3 500, en ’n ekstra kredietgerief van R3 500, of ’n totale kredietgerief van R7 000.

Die hulpfonds vir spazawinkels het ’n begroting van R175 miljoen om sowat 25 000 spazawinkels te kan help.

Daar is ook ’n betaalvakansie vir kliënte van die kleinsakefinansieringsagentskap Sefa.

Mkhumane sê daar is ook hulp op pad vir motoronderdelewinkels, motorherstelwerk, paneelkloppers, bakkerye, informele klerehandelaars, haarkappers en skoonheidsterapeute.

Sefa het reeds hulpaansoeke van 104 spazawinkels ontvang en 88 is al goedgekeur, maar 16 is afgekeur want dit was elektrisiëns, vleisbraaiers, informele straatverkopers en kleinsake wat nie permitte gehad het nie, verduidelik Mkhumane.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Kleinhandel  |  Koronavirus  |  Townships  |  Entrepreneurs  |  Inperking  |  Covid-19  |  Kleinsake  |  Kleinhandelaars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.