Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Huur ’n paar tekkies vir daai toe-oë-kuier

Om met geleende vere te pronk is niks om oor skaam te wees nie. Trouens, dis die jongste mode.

Sal jy jouself in iemand anders se skoene plaas? ’n Neiging is aan die posvat om alles te huur, pleks van te koop – selfs ’n paar tekkies.

’n Nuwe neiging is aan die posvat onder veral jonger verbruikers wat bereid is om te betaal om nié iets te besit nie.

Besittings het as’t ware ’n las geword en hulle is bereid om enigiets te huur – van TV’s en beddens tot klere en tekkies.

’n Verslag van die internasionale eiendomsdienstereus JLL toon byna 58% van deelnemers aan ’n peiling in die VSA was bereid om eerder iets te huur as die artikels “goed gemaak en modieus” is. Van die millenniërs en generasie Z-verbruikers wou 70% die buigsaamheid hê om gereeld nuwe dinge te probeer sonder die “verantwoordelikheid” om dit te besit.

Die Amerikaanse kamer van koophandel skryf op sy webwerf aanlyn verhuurders soos Fernish (meubels) en Rent the Runway en Joymode (albei klere) bied aan verbruikers die geleentheid om allerhande ware teen ’n maandelikse tarief te huur.

Rent the Runway som dit só op: “Enigiets wat jy wil dra – sonder om dit te koop. Jou styl, grootte en begroting verander. Nou kan jou klerekas ook.”

Die verskaffers van gehuurde artikels spog ook met ’n kleiner verbruikersvoetspoor. “Die meeste van die klere wat ons verhuur, sou agterin jou klerekas of op vullishope beland het,” aldus Rent the Runway.

Volgens die kamer van koophandel het selfs hoofstroom-winkelgroepe soos Macy’s, Crate & Barrel en Ann Taylor op die “te huur”-wa gespring.

Die konsep van ’n gedeelde of “huur”-ekonomie het posgevat met die koms van Uber en Airbnb en het sedertdien uitgebrei tot alledaagse goed.

In die VSA het die huur van gebruiksartikels in 2019 ’n inkomste van $60 miljard gelewer – motor- en huishuur uitgesluit. Veral jonger verbruikers skrik nie daarvoor om hulself letterlik in iemand anders se skoene te plaas nie.

’n Groep studente van die Illinois-universiteit het Teneez, ’n tekkie-huuronderneming, op die been gebring waar kieskeurige tekkieslawe, ofte wel sneakerheads, ’n tyd lank in geleende sole kan paradeer.

Die ingenieurstudente Cedric Vargas en Benoit Ortalo-Magne sê hul kliënte huur tekkies vir ’n aand of selfs ’n week, berig The Daily Illini, die studentekoerant. Voornemende huurders moet ’n $10-deposito betaal sou die skoene beskadig word. Die huurbedrag wissel tussen $11 en $22 (meer as R330) per aand, afhangende van hoe “gesog” die paar tekkies is.

Teneez waarborg dat elke paar tekkies deeglik skoongemaak en sorgvuldig verpak sal word. As die huurder die skoene in ’n bedenklike toestand terugstuur, moet hy of sy hoes.

“Vuiligheid en stof is normaal, maar as dit geskeur of gekrap is, sal die kliënt 1,5 keer die koopprys van ’n nuwe paar skoene moet betaal,” lui Teneez se webwerf.

In Suid-Afrika doen Teljoy al sedert 1975 fluks sake met die verhuring van TV’s en ander toestelle.

Jonathan Hurvitz, uitvoerende hoof, sê Teljoy het veral gedurende die inperking groot aftrek gekry met die huur van grootskerm-TV’s soos meer mense tuis gebly en meer tyd voor die kassie deurgebring het. Teljoy het sy katalogus na gimnasium-toerusting soos trapmeule uitgebrei.

Hurvitz voorsien nie dat ’n huur-ekonomie sommer by meer tradisionele verbruikers sal byval vind nie. “Ons glo nog eienaarskap is álles. Huur is korttermyn en net as jy dit nie kan bekostig om iets te koop nie.”

Die jonger generasie is ontvankliker daarvoor, sê hy.

Meer oor:  Huur  |  Mode  |  Klerebedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.