Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Idee gesteel: Vonke spat oor patent vir braai

Twee sakemanne gaan nooit om dieselfde vuur sit nie, want die een het die ander se blink plan vir ’n vleisbraai nageboots.

Rudolph Hiemstra van Knysna het Maandag ’n hooggeregshofbevel gekry wat sy patent, “Braai Jacks”, beskerm, want Mark Raulstone van Pretoria het dit nageboots. Braai Jacks is metaalstutte waarop ’n braairooster rus. Jy hoef dus nie bakstene te soek om onder die rooster in te druk nie. Boonop kan die rooster op verskillende hoogtes gestel word.

Hiemstra het sy ontwerp en patent in 2013 laat registreer.

Rudolph Hiemstra het dié foto van sy Braai Jacks se verpakking by die hooggeregshof ingedien.
Rudolph Hiemstra se Braai Jacks.

Wat die ontwerp oulik maak, is dat die stutte se vertikale arms uitwaarts gebuig kan word sodat die horisontale hoeke aan die rooster kan klamp.

Maar toe kom rol Raulstone ’n klip in sy pad met sy Y-Clips, soortgelyke stutte.

Hiemstra sê in hofstukke hy het sy Jacks eers op informele markte verkoop en dit later aan onafhanklike handelaars verskaf.

Raulstone het in 2016 altesame 6 589 stelle Braai Jacks by hom gekoop om dit deur jong mense van deur tot deur te laat smous.

Maar in Januarie 2017 het Raulstone se aankope begin daal.

Hiemstra sê ’n oudwerknemer van Raulstone het toe ’n Whats­App-video aan hom gestuur van ’n produk wat identies of merkwaardig soortgelyk is aan sy Braai Jacks. Daar was slegs subtiele verskille in die vorm en afronding.

Hiemstra het foto’s van Raulstone se Y-Clips by die hof ingedien. Hy sê op die verpakking staan dat Raulstone ’n hangende patent-aansoek het op die produk, maar dít is nie moontlik nie.

Y-Clips is ’n nabootsing van sy produk, voer Hiemstra aan.

Hy het Raulstone op 14 Februarie 2017 hieroor gekonfronteer.

Mark Raulstone se verpakking vir Y-Clips
Mark Raulstone se Y-Clips.

Raulstone het ontken dat Hiemstra die ontwerp en patent besit en hom met fisieke geweld gedreig, sê Hiemstra.

Later daardie maand het Raulstone hom om verskoning gevra en onderneem om voort te gaan om Braai Jacks te verkoop en nié Y-Clips nie. Hy het toe 1 080 stelle Jacks bestel, maar nie vir die laaste 336 stelle (R31 400) betaal nie.

En toe ontdek Hiemstra in September 2017 dat ’n winkel in Pretoria die Y-Clips verkoop.

Hiemstra het aan die hooggeregshof in Pretoria gesê Raul­stone berokken hom onherstelbare skade en ’n interdik is dus nodig om Raulstone te keer.

Die hof het Maandag Raulstone verbied om inbreuk te maak op Hiemstra se ontwerp. Raulstone moet alle items wat direk of indirek deur hom vervaardig word as Y-Clips, oorhandig sodat dit vernietig kan word, het die hof beveel. Hy mag ook nie meer produkte maak, verkoop en adverteer wat soortgelyk is aan Braai Jacks nie. Die hof het ook beveel dat ondersoek ingestel word na Hiemstra se skade of die redelike tantième wat hom toekom.

Meer oor:  Braai  |  Patent  |  Entrepreneurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.