Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Infeksie by kleuterskool lei tot plan

’n Skokdiagnose van hul babadogter het ’n Pretoriase entrepreneurspaar ’n totaal nuwe sakerigting laat inslaan. Toe Francois en Mariaan Viljoen hoor Ansumé (toe 15 maande oud) het tipe 1-diabetes was hulle oorbluf.

“Daar is geen geskiedenis van diabetes in ons familie nie en ons het begin navorsing doen,” sê Francois.

Die Viljoen-gesin. Van links staan Mariaan, Amorize, Ansumé, Francois en Anré.

Só het hulle op inligting afgekom dat trauma of ’n virale of bakteriële infeksie die ontwikkeling van die siekte kan veroorsaak.

Ansumé moes die infeksie by haar kleuterskool opgedoen het en só is die gedagte van ’n skoonmaakonderneming gebore.

Francois en Mariaan het toe reeds jare se ondervinding in onder meer die bestuur van slaghuise, ’n biltong­fabriek, ’n skoonheidsalon en ’n restaurant agter die rug gehad. Hulle het uit die korporatiewe wêreld getree om eers in die Vaaldriehoek te help met familiesake voordat hulle ondernemings in Menlynpark, Pretoria, bedryf het.

Met die koms van hul eersteling en die diagnose het hul prioriteite egter verander.

“Ons wou ’n manier vind om ander mense dieselfde pad te spaar wat ons moes loop,” sê Francois.

Hul navorsing het hulle na onder meer die VSA en Kanada geneem.

“In ’n land soos Kanada is dit wet dat alle speelgoed by ’n kleuterskool elke twee weke deeglik skoongemaak moet word,” sê hy.

“Die doel is om die kruiskontaminasie en infeksies wat in kindersorginstellings voorkom, te verminder. Gebrekkige higiëne in ’n sentrum kon die vernietiging van selle wat insulien vervaardig in ons kind veroorsaak en só tipe 1-diabetes meegebring het.”

GermCure is in 2012 gebore en het sedertdien begin spesialiseer in verskeie aspekte van ontsmetting en dekontaminasie. Hulle voer toerusting in wat spesifiek ontwerp is vir die ontsmetting van oppervlakke en hou ook die verspreidingsregte daarvoor in die SAOG-lande.

In die tyd van Covid-19 is die ontsmetting van onder meer skole, dokters se spreekkamers en winkels op die voorgrond.

“Daar is baie kansvatters op die mark. Mense moet behoorlik ingelig wees oor wat werklik werk,” sê Francois. “Hulle maak nie die kurwe platter nie, hulle maak net die geldnote platter om in hul beursies te pas.”

Die eerste ding waarop mense bedag moet wees, is of ’n skoonmaak­onderneming ’n laboratoriumverslag het oor die doeltreffendheid van sy produkte. “Vra vir wetenskaplike bewyse dat dit effektief is teen virusse.”

Hy maan dat niemand op sigelf kan sê dat hul produkte die nuwe koronavirus doodmaak nie. Sars-CoV2 is ’n kroonvirus en daar is middels wat dié familie van virusse, wat ’n vetlagie daarom het, doodmaak.

Laboratoriumtoetse het gewys dat sommige middels byvoorbeeld die Mers- en Sars-virus doodmaak.

Voornemende klante moet ook seker maak dat die betrokke produk doeltreffend is teen bakterieë of virusse. En dan is die ontsmetting van spesifiek oppervlakke baie belangrik.

“Die middel moet vir ’n tyd lank op die oppervlak wees om dit deeglik skoon te maak,” sê Francois.

Klante moet ook uitvind of die skoonmaakmiddels newe-effekte het.

“Bleikmiddel sal byvoorbeeld alles doodmaak, maar dit is nie veilig om orals te gebruik nie.”

Volgens Francois fokus hulle ook daarop om middels te gebruik wat omgewingsvriendelik en nie skadelik vir mense is nie. In die tyd van Covid-19 het die belangstelling in skoonmaakondernemings ontplof. Germ-Cure het reeds skoonmaakdienste gelewer by verskeie skole in Pretoria-Oos en winkels in die noorde van Gauteng.

As gemeenskapsdiens ontsmet hulle weekliks ook gratis die Garsfontein-polisiekantoor.

“Ons onderneming het gegroei van ’n klein familieonderneming tot een wat inkomste genereer vir 15 onafhanklike kontrakteurs en hul afhanklikes,” sê Francois.

Voor die pandemie reeds het hulle nasionaal klante bedien van skole tot gimnasiums en laboratoriums. GermCure het voor die staat van inperking flink sake gedoen en glo dit sal voortgaan daarna. Volgens Francois raak mense toenemend bewus van hul impak op die omgewing en maak al hoe meer verbruikers koopbesluite op grond van ondernemings wat omgewingsvriendelik sake doen.

“Tweedens wys die geskiedenis dat ons nie maklik ontslae raak van ’n pandemie wat die wêreld verander nie. Dit kan jare duur om die virus te beheer en daarom sal daar steeds ’n mark wees vir saniteringsondernemings.”

Die Viljoens doen reeds sedert 1997 sake met Grobank (toe nog The Bank of Athens).

  • Geborg deur Grobank.
Sosiale gewete

“Dit is van kardinale belang om ons kliënte te ondersteun gedurende die verloop van die Covid-19 pandemie in Suid-Afrika.

“Ons het reeds vir meer as 40% van ons kliënte betalingsmoratoriums toegestaan.

“Kliënte soos GemCure speel ’n groot rol om die verspreiding van die virus te help vertraag.

“Ons is trots op ons kliëntverhoudings en ons sterk volhoubare vennootskappe wat meer is as net ’n tradisionele verhouding tussen ’n bank en ’n kliënt.

“Saam maak ons mekaar sterker.

“Ons kliënte wil ook graag op die hoogte gehou word van wat gebeur.

“By Grobank is ons kommunikasiestrategie van kardinale belang.

“Ons verhoudingsbestuurders het ’n groot rol gespeel om ons kliënte op ’n deurlopende grondslag op hoogte te hou van wat ons as bank kan doen om hulle te help.” – Bennie van Rooy, uitvoerende hoof van Grobank

Meer oor:  Kleuterskool  |  Entrepreneurs  |  Ontsmetting  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.