Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Kaapstad kan Afrika se Silikonvallei word

Beginondernemings in Kaapstad se tegnologiesektor het in 2020 meer as R1,2 miljard se beleggings gelok. Dit maak die Moederstad een van die snelgroeiendste bestemmings ter wêreld vir buitelandse beleggings in die tegnologiebedryf.

Tim Harris, uitvoerende hoof van Wesgro.

Die groter Kaapstad-omgewing (wat Stellenbosch insluit) word nie verniet bestempel as die Silikonvallei – of San Francisco – van Afrika nie, aldus Tim Harris, uitvoerende hoof van die Wes-Kaapse handelsbevordingsagentskap (Wesgro).

Kaapstad wil homself vestig as die tegnologie-hoofstad van Afrika, het hy aan Rapport gesê. Die ware Silikonvallei in San Francisco is waar die wêreld se prominentste tegnologiemaatskappye hul oorsprong het.

“Silikonvallei is basies uit Stanford (-Universiteit) gebore. Hier het ons die Universiteite van Kaapstad, Stellenbosch, Wes-Kaapland en die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie wat gereken word as van die beste instellings in Afrika,” sê Harris.

In ’n verslag van fDi Intelligence – data-afdeling van die Britse Financial Times-groep – is bevind Suid-Afrika het die hoogste bedrae buitelandse direkte beleggings vir sy IT-sektor gelok. Suid-Afrika is ook aangewys as die sakevriendelikste plek met die grootste ekonomiese groeipotensiaal in Afrika vir ’n lewendige tegnologie-ekostelsel. Sewentien ander Afrikalande, waaronder Nigerië, Kenia, Egipte en Rwanda, is beoordeel volgens hul vermoë om stewige tegnologie-ekostelsels te vestig.

Die Kaapstad-Stellenbosch-korridor word gereken as die sterkste tegnologie-ekostelsel op die vasteland. Aan die einde van 2020 was daar 550 tegnologiemaatskappye wat meer as 40 000 mense in diens neem.

Harris sê Kaapstad kry stywe mededinging van plekke soos Nairobi in Kenia en Lagos in Nigerië omdat die stede meer sentraal geleë is. “Ons lê ver suid. Dit is daarom uiters belangrik dat ons goeie vlugnetwerke met die res van Afrika vestig. Maatskappye wat wil belê, wil spesifiek weet hoe en of ons verbind is met die res van die vasteland en of daar samewerking is. “Soms word Kaapstad gesien as nié deel van Afrika nie en dit tel teen ons, maar ons is nie ’n afsonderlike tegnologie-sfeer nie. Daarom werk ons hard daaraan om Kaapstad as ’n tegnologie-hoofstad te vestig wat nou saamwerk met die res van die kontinent,” aldus Harris.

Ian Lessem, besturende vennoot by HAVAÍC, ’n waagkapitaalfinansier in spesifiek die tegnologiesektor, sê daar is beduidend meer beleggers wat geld in begin-tegnologiemaatskappye in Afrika wil stoot.

Tegnologiemaatskappye op die vasteland is veerkragtig en vindingryk. In teenstelling met tegnologie-spilpunte (tech hubs) in ontwikkelde lande waar finansiering vir begin­ondernemings oorvloedig is, sukkel Afrika-maatskappye dikwels vir lank om gefinansier te word.

“Maar dit kortwiek nie hul sukses nie. Ondernemings in Suid-Afrika, Kenia, Nigerië en Egipte finansier hulself en raap en skraap vir so lank hulle kan.”

Meer oor:  Kaapstad  |  Tegnologie  |  Maatskappye  |  Entrepreneurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.