Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Kitsbank vir gaar pap mos nét die ding
’n Gemeenskapslid tik haar koeponnommer in die pap-OTM, met die sak wat regstaan vir die meel. Johan Janse van Rensburg van die Potch-Tlokwe Sakekamer staan by. Foto’s: Elizabeth Sejake

’n Groep meganiese ingenieurs van die Noordwes-Universiteit glo hul nuwe “kitsbank” vir pap kan Suid-Afrikaners se honger teen lae koste stil, ’n gekonkel in die verspreiding van kospakkies uitskakel en boonop die oordrag van die koronavirus tot die minimum beperk.

Hulle het die patent vir hul uitvindsel Woensdag geregistreer.

Dié pap-OTM is ’n uitvloeisel van ’n voedingskema van die plaaslike sakekamer waarin die afgelope twee weke ’n halfmiljoen maaltye aan hulpbehoewendes in Potchefstroom en omgewing uitgedeel is.

Die projek het ontstaan toe die Potch-Tlokwe Sakekamer aan die begin van die inperking vir CFAM Technologies genader het. Dis ’n maatskappy waardeur die universiteit ekstrusietegnologie in die vervaardiging van voedsel bevorder. Dit behels ’n hoëdruk-gaarmaakproses wat ook gebruik word in onder meer die vervaardiging van kaaskrulle en ontbytpap soos Fruit Loops.

CFAM maak reeds ’n paar jaar op klein skaal ’n verrykte mieliepap en het in die verlede saam met die sakekamer gewerk om skole en ouetehuise in nood daarvan te voorsien.

Die sakekamer se opdrag aan CFAM was vir ’n goedkoop, bereide maaltyd met ’n redelike rakleeftyd wat op eenvoudige manier aan die geraamde 13 500 hulpbehoewende gesinne in die gemeenskap gelewer kon word.

CFAM het aangebied om verrykte, gaar mieliemeel teen kosprys te vervaardig teen R1 per ete. Dit word met koue water of melk aangemaak, is met vitamiene verryk en het klaar melkpoeier en suiker in. Die produk is met die hulp van dieetkundiges saamgestel sodat iemand vir ’n paar maande kan oorleef as hulle een ete per dag daarvan eet.

Dit is boonop steriel en word sonder enige kontak met mense vervaardig en in pakke van 5 kg verseël – genoeg vir omtrent drie etes per dag vir ’n gesin van vyf vir ’n week, teen ’n koste van R100.

Danksy skenkings van lede van die sakekamer, die plaaslike Rotariërs en verskeie individue kon die program aan die gang kom.

Studente van die universiteit het R60 000 geskenk en dokters en prokureurs het mekaar gedaag om stewige bydraes te lewer. Beroepsmense wat tydens die inperking nie kan werk nie, het hand bygesit.

Die JB Marks-munisipaliteit en die departement van maatskaplike ontwikkeling het besonderhede van mense in kosnood aan die projek voorsien. Kerkleiers het verantwoordelikheid aanvaar vir die verspreiding daarvan en die bakkievragte pap is by die CFAM-aanleg gaan laai.

Die manne aan die spits van die Potchefstroomse voedingskema. Van links staan Johan Janse van Rensburg; Jonathan Baron, voorsitter van die Potch-Tlokwe Sakekamer; Danie Vorster, besturende direkteur; en prof. L.J. Grobler van die Noordwes-Universiteit en direkteur van CFAM.

Sedertdien stroom die skenkings in. Nestlé het 4 t poeiermelk geskenk en boere het kom mielies aflaai. Die vraag het egter ook toegeneem en die CFAM-aanleg moes sy uitset verhoog van sowat 1 t per dag tot 11 t.

Die pap is reeds in onder meer Fochville, Ladismith, De Wetsdorp, Swartruggens, Hartebeesfontein, Klerksdorp en Winterton afgelaai en die foon lui steeds.

“Die logistiek het ’n nagmerrie geword,” sê Johan Janse van Rensburg, ’n lid van die sakekamer. Die administrasievereistes is groot en boonop stel die hantering van dokumente soos leweringsnotas almal bloot aan die oordrag van die virus. Die vloot vrywillige verspreiders sal boonop binnekort krimp namate mense terugkeer werk toe.

Dis hoekom die ingenieurs vorendag gekom het met die pap-OTM. Dit word ingebou in ’n herwonne skeepshouer wat in ’n gebied staan gemaak en een keer per week hervul word. Die ontvanger kry ’n elektroniese koepon met ’n pin-nommer op sy selfoon wat hy by die pap-OTM moet intik.

Die verdere voordeel is dat die koepon se geldigheid gereguleer kan word, wat beteken ’n opeenhoping by die terminus kan voorkom word. Die koepon sal byvoorbeeld aandui dis net tussen 08:00 en 10:00 geldig.

Blootstelling word tot die minimum beperk en danksy die koeponstelsel weet die projekbestuurders wanneer ’n koeponhouer sy porsie ontvang het.

Meer oor:  Kos  |  Pap  |  Voedsel  |  Hongersnood  |  Entrepreneurs  |  Entrepreneurskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.