Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
‘Kleinsake kan nie werkloosheid stuit’
Bernard Swanepoel, voorsitter van die Kleinsake-instituut (SBI).

Die nuutste werkloosheidsyfers is skokkend, maar pres. Cyril Ramaphosa vertrou op klein-, medium- en mikro-ondernemings (KMMO’s) om 90% van die nuwe poste te skep.

Begin deur alles te vergeet wat jy dink jy weet oor klein- en middelslag-ondernemings in Suid-Afrika.

Ramaphosa verwag dat ons land se ekonomiese groei onderhou sal word deur kleinsake, soos die geval is in ander lande. Maar tensy ons met nuwe beleide vorendag kom wat bou op feite, sal die president elders moet gaan soek om groei en werkskepping aan te pak. Dit wys die resultate van Suid-Afrika se eerste aanvangslynstudie oor KMMO’s deur die Kleinsake-instituut (SBI) se Kleinsakeprojek (SBP).

Ons het die volgende geleer uit die eerste fase van die studie:

  • Daar is slegs ongeveer ’n kwart miljoen formele KMMO’s in Suid-Afrika – drasties minder as die beraamde 1,2 miljoen tot 6 miljoen;
  • KMMO’s verskaf ’n relatief lae persentasie van werksgeleenthede in Suid-Afrika (28% in 2016) – al het dit 98,5% van geregistreerde firmas in 2016 uitgemaak het; en
  • Werkskepping in Suid-Afrika is baie gekonsentreerd – die 1 000 grootste maatskappye (insluitend die regering) verskaf 56% van alle werk in Suid-Afrika. Groot ondernemings het in die tydperk van 2011 tot 2016 ook meer werkgeleenthede geskep en teen ’n vinniger tempo gegroei as KMMO’s.

As kleinsake met 50 of minder werknemers dan vir minder as die helfte van die indiensneming verantwoordelik is, anders as wat in die algemeen aanvaar word, moet ons dus aanneem dat hul bydrae tot die bruto binnelandse produk (BBP) dan ook aansienlik laer is as die ramings.

Suid-Afrika se kleinsake bly steeds net so kwesbaar soos in die afgelope twee dekades – tot 70% van alle nuwe ondernemings misluk in die eerste twee jaar.

Ons doen kleinsake ’n onreg aan deur na hulle as ’n sektor te verwys; dit neem nie die diverse aard van hierdie ondernemings in ag nie.
Bernard Swanepoel van die SBI

Die studie se voorlopige bevindings bevestig dat kleinsakebeleid en ondersteunende inisiatiewe wat oor die jare ontwikkel het, ook misluk het, want die aannames en onderliggende data was verkeerd.

Aantal ondernemings

Volgens die navorsing het die inisiatief van uitvoerende hoofde die SME-fonds saamgestel om KMMO’s finansieel te ondersteun.

Daar word beraam dat daar 84 000 ondernemings is wat voldoen aan die ideale beleggingsvereiste van ’n omset van tussen R20 miljoen en R500 miljoen. ’n Meer geldige aanname blyk te wees dat slegs 20 000 tot 40 000 ondernemings deur die fonds ondersteun sou kon word.

Vivienne Erasmus (links), bakster vir die tuisnywerheid Crazy Daisy in die Fleurdal-winkelsentrum in Bloemfontein, en Martinette Janse van Rensburg, eienaar. Navorsing toon dat daar slegs sowat 250 000 formele klein-, medium- en mikro-ondernemings in Suid-Afrika is, en nie 1,2 miljoen tot 6 miljoen soos beweer word nie.

In ons navorsing, ondersteun deur data van die nasionale tesourie en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), is bevind dat Suid-Afrika in 2016 slegs 176 333 mikro-ondernemings (met minder as tien werknemers) gehad het; 68 494 kleinondernemings (11 tot 50 werknemers); en 17 397 middelslagondernemings (51 tot 200 werknemers).

Die somtotaal van alle KMMO’s is net meer as 250 000, dus ver van die minister van kleinsake-ontwikkeling se beraming dat daar ongeveer 2,1 miljoen KMMO’s in Suid-Afrika is.

Indiensneming

Indiensneming deur hierdie ondernemings is soos volg: Slegs 5,1% werkers word in diens geneem deur mikro-ondernemings, 11% deur kleinondernemings en 12% deur mediumondernemings.

KMMO’s het slegs 3 863 104 mense of 29% werkende Suid-Afrikaners van ’n werk voorsien.

Hierdie getalle bevestig dat dit misplaas is om aanhoudend te fokus op nuwe ondernemings.

Oplossings

Ons benodig inisiatiewe om die middelslagondernemings te versterk. Dit is dié mediumondernemings wat tans die meeste werk skep in die KMMO-sektor.

Ons moet vir eens en vir altyd van al die rompslomp ontslae raak. ’n Kleinsake-eienaar bestee gemiddeld nege werksdae (ekwivalent aan 75 ure) per maand aan onnodige vorms en burokrasie.

Nog ’n faktor wat goeie beleid kortwiek, is die regering se mislukking om ’n enkele eenvormige definisie van ’n klein-, mikro- of mediumonderneming regdeur die wette, regulasies en sleutelstrategieë toe te pas.

’n Kleinsake-eienaar bestee gemiddeld nege werksdae (ekwivalent aan 75 ure) per maand aan onnodige vorms en burokrasie.
Bernard Swanepoel van die SBI

Ons het ’n oorsig gedoen – ook die eerste van sy soort – van omtrent 70 wette, regulasies en strategiese beleide, en gevind dat daar veelvoudige definisies van kleinondernemings is.

Hierdie uiteenlopende benaderings tot die identifisering en ondersteuning van KMMO’s beteken dat daar dwarsdeur die regering geen beleids- of regulatoriese koördinasie is om die impak van sy goed beoogde ingrypings te verstaan nie. Dit was teoreties die doel van die departement van kleinsake-ontwikkeling toe dit in 2014 tot stand gebring is.

Suid-Afrika moet ’n kopskuif maak in die manier waaraan ons dink aan kleinsakeondernemings, wat dit op die voorgrond stel in die stryd teen armoede, ongelykheid en werkloosheid.

Ons moet erken dat kleinsake ’n belangrike segment van ons ekonomie uitmaak. Hulle is uiteenlopend en word nie deur ’n sektor of geografiese ligging beperk nie.

Ons doen kleinsake ’n onreg aan deur na hulle as ’n sektor te verwys; dit neem nie die diverse aard van hierdie ondernemings in ag nie en “vonnis” hulle om vir ewig klein en die Aspoestertjie van ons ekonomie te bly.

Ons studie, wat in 2019 voltooi sal wees, sal baanbrekende inligting verskaf vir ’n doeltreffender openbare beleid en dialoog om kleinsake-ontwikkeling en -uitbreiding te bevorder deur ons begrip op te skerp van die bedryfsdinamika van kleinondernemings wat oor Suid-Afrika heen werk. Só sal ons die invloed van die sakeomgewing op hul groei en werkskeppingspotensiaal begin verstaan.

Soos die president onlangs gesê het: “Ons moet die vermoë, die data en die politieke wil hê om die regte keuses te maak.”

Teen die einde van die jaar sal ons die data hê. Ons kan maar net hoop dat die openbare en private sektor dit wys sal toepas.

  • Bernard Swanepoel is voorsitter van die Kleinsake-instituut.
Meer oor:  Sbi  |  Bernard Swanepoel  |  Kleinsake  |  Entrepreneurs  |  Kmo's
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.