Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Kleinsake kry gou hul eie ombudsman

Kleinsakeondernemings sal in die toekoms duur hofsake kan vermy danksy hul eie ombudsman wat klagtes soos laat betalings of kontrakbreuk sal hanteer.

Khumbudzo Ntshavheni, minister van kleinsakeontwikkeling

Khumbudzo Ntshavheni, minister van kleinsakeontwikkeling, het in Desember wysigings aan die Klein­sakewet in die Staatskoerant afgekondig om spesifiek voorsiening te maak vir die aanstelling van ’n ombudsman met adjunkte in satellietkantore in verskeie streke.

Die ombudsman sal klagtes van kleinsakeondernemings oor onbillike en onregverdige sakepraktyke kan ondersoek en ’n beslissing daaroor maak.

Jan de Villiers, DA-woordvoerder oor kleinsakeontwikkeling, het aan Rapport gesê die beoogde wysiging is ’n uitstekende plan. “Wat die wet beoog, is om aan kleinsake ’n doeltreffender en vinniger manier te bied om klagtes oor byvoorbeeld dienskontrakte of geld opgelos te kry sonder om hof toe te gaan.”

Verskeie sektore in Suid-Afrika het ombudsmanne wat geskille tussen partye hanteer deur middel van advies en bemiddeling. Hul dienste is gratis en bied ’n kans vir mense wat nie geld het vir ’n duur regsproses nie om hul geskille opgelos te kry.

Die kleinsake-ombudsman sal onder meer ’n boete kan oplê, die geskil vir bemiddeling verwys of selfs vir strafregtelike vervolging waar ’n misdaad vermoed word.

Volgens De Villiers sal die ombudsman hopelik ook kleinsakeondernemings wat benadeel is deur groot maatskappye of selfs staatsinstellings kan help om regverdige behandeling te verseker. “Daar is geweldig baie gevalle waar munisipaliteite byvoorbeeld nie die KMO’s met wie dienskontrakte aangegaan is betyds betaal nie.”

’n Peiling wat die maatskappy Xero einde 2019 onder sowat 500 KMO’s gedoen het, toon 91% sukkel met laat betalings wat maak dat hulle hul personeel en diensverskaffers nie betyds kan betaal nie. Byna die helfte van die deelnemers het gesê laat betalings hou ’n ernstige bedreiging vir hul voortbestaan in.

De Villiers is wel bekommerd omdat die minister die ombud self sal aanstel. “Die potensiaal vir kaderontplooiing is groot en die diens wat die ombudskantoor sal lewer, sal net so goed wees soos die persoon wat aangestel is.”

Volgens hom is die minimum vereistes vir so ’n ombud ook nie streng genoeg nie.

Die wetsontwerp sê die persoon moet “gekwalifiseer wees in die reg en kennis hê van kleinsake, handel, nywerheid, finansies of die ekonomie”.

“Dit beteken enige kleinsakepersoon wat selfs net iets soos ’n sertifikaat in die regte het, kan kwalifiseer,” sê De Villiers.

Die DA sal hom in die parlement daarvoor beywer dat die minimum vereistes ’n LLB-graad of iets gelykstaande, minstens vyf jaar ondervinding in ’n regspraktyk en/of relevante ervaring in kontrakreg insluit.

“Dis belangriker dat die ombudsman die reg moet verstaan eerder as die sakeomgewing,” sê De Villiers.

Sy party gaan ook daarop aandring dat die portefeuljekomitee oor kleinsakeontwikkeling, pleks van die minister, die ombudsman aanstel.

Dis nie ongewoon dat ombudsmanne deur ministers aangestel word nie.

Die minister van finansies stel byvoorbeeld die belastingombudsman, pensioenfondsberegter en die ombudsman vir finansiëlediensverskaffers aan.

Vrywillige ombudsmanne soos dié vir die langtermyn- en korttermynversekeringsbedryf en die bankombudsman word aangestel deur ’n onafhanklike direksie wat normaalweg uit regsgeleerdes bestaan.¦ Die publiek het tot 11 Februarie kans om kommentaar te lewer oor die voorgestelde wysigings.

’n E-pos kan gestuur word aan ekoekemoer@­dsbd.gov.za.

Meer oor:  Hofsake  |  Ombudsman  |  Kleinsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.