Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Kleinsake verdien jou steun – veral vandag
Aptekers-assistente aan die werk in Medichem Pellissier in Bloemfontein. Deur plaaslike sakeondernemings op Kleinsake-Vrydag te ondersteun, hou jy jou plaaslike ekonomie in stand. Foto: Vida Booysen

Plaaslike ondernemings is die weggesteekte diamante in ons gemeenskappe wat produkte en dienste verskaf wat jy waarskynlik nêrens anders kry nie.

Dit is vandag Kleinsake-Vrydag, die dag waarop mense aangemoedig word om plaaslik te koop en sodoende lede van hul eie gemeenskap te ondersteun.

Die veldtog met die hutsteken #SmallBizFriday is sewe jaar gelede deur die National Small Business Chamber (NSBC) van stapel gestuur om bewustheid te skep oor die belangrike rol wat plaaslike sakeondernemings vervul om werk te skep en die ekonomie aan die rol te hou.

Daar is soveel goeie redes om klein ondernemings in jou woonbuurt of dorp te ondersteun, sê Viresh Harduth, vise-president van nuwe kliënte-verkrygings by klein- en middelslagondernemings van die sagtewarereus Sage.

“Die eienaars gaan uit hul pad om die beste moontlike diens te lewer, tot die punt waar hulle soos familie begin voel.”

Dié goeie gesindheid versprei na die breër gemeenskap waar klein ondernemings ander klein ondernemings ondersteun en ’n positiewe rimpeling van werkskepping, betaling van belasting en laer misdaadsyfers deur die ekonomie stuur, sê Harduth.

Sy sentimente word ondersteun deur Hendrik van der Westhuizen, eienaar van Raakvat Nutsman, ’n kleinsake-onderneming van Waverley in Pretoria.

Hy vertel dat hy net een keer pamflette oor sy onderneming uitgedeel het, reg aan die begin. Nou is kliënte self sy beste bemarking.

“Mense raak vertroud met ’n mens se werk en weet wat hulle kry as hulle jou aanstel.”

Hy sê dit is vir hom ’n groot riem onder die hart dat sy kliënte ook deel van dieselfde gemeenskap is as waar hy self woon.

“Só het ’n kerkgroep in die omgewing waarvan ek nie eens self ’n gemeentelid is nie, van my werk gehoor en vir my werk gegee. Mense vertel vir mekaar as jy gehalte-werk lewer.”

Hy het ses werkers in diens waarvan elkeen ’n broodwinner vir ’n uitgebreide gesin is. Daarby is hy ook betrokke by ’n plaaslike forum wat misdaad bestry en ry gereeld patrollie in die woonbuurte waar hy werk.

Hy meen die mededingende voordeel wat ’n eenmansaak soos sy eie kan bied, is dat hy minder oorhoofse koste het as wat ’n franchise byvoorbeeld het.

“Jy kan buigsaam wees en die koste vir jou kliënt sny, want jy hoef nie geld uit te gee om ’n mooi winkel met duur toebehore te hê nie.”

Die grootste uitdaging vir ’n klein onderneming soos syne is om elke maand se uitgawes te betaal, of daar nou ’n inkomste inkom of nie.

“Ek het drie kinders op universiteit gehad wat ek deur my onderneming en die genade van Bo gefinansier het.”

Mike Anderson, stigter en uitvoerende hoof van NSBC, sê ons besluite oor waar ons geld gaan bestee, maak ’n groot verskil.

“Jou geld help ’n ma of pa om kos op die tafel te sit of hul kinders se skoolgeld te betaal, eerder as wat dit in die koffers van ’n multinasionale maatskappy beland.”

Harduth moedig mense aan om Vrydag ’n draai te maak by ’n kleinsakeonderneming in hul omgewing.

“Koop iets en betaal die volle prys, sonder afslag of gratis geskenke, en vertel ander mense van die goeie dienste en produkte wat jy by ’n klein, onbekende winkel in jou woonbuurt gekry het.

“Moet ook nie vergeet om ’n positiewe getuigskrif op hul sosiale-media-blaaie te los nie. Dit word meer gewaardeer as wat jy ooit besef en kan hulle help om hul onderneming uit te brei.”

Meer oor:  Nsbc  |  Sage  |  Mike Anderson  |  Kleinsake  |  Smallbizfriday  |  Entrepreneurs  |  Kleinsake-Vrydag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.