Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Entrepreneurs
Klere eie aan SA bied weer hoop aan werkers

Ryan Amory het ’n suksesvolle loopbaan in die reklamewêreld laat vaar om sy eie klerehandelsmerk in Kaapstad te begin waarmee hy tekstielwerkers wat hul werk verloor het, wil help om die pot aan die kook kan hou.

’n Naaldwerker by The Maker’s Cottage in Wynberg, Kaapstad, wat nie haar naam genoem wou hê nie. Dis een van die koöperasies wat die AMO-klerereeks vervaardig.

“Ek wou meer sin hê in dit wat ek vir ’n bestaan doen en ek glo ons Suid-Afrikaners moet alles wat ons moontlik self kan maak hiér maak. Ons hét die kundigheid,” sê hy.

Amory het Africa Made Only (AMO) twee jaar gelede begin.

Dis ’n klerereeks van onder meer kortbroeke, T-hemde en kappietoppe (hoodies).

Danksy AMO het twee koöperasies ontstaan wat tekstielwerkers in diens neem wat die afgelope paar jaar hul werk verloor het. Dit het alles begin toe Amory ’n naaldwerker met ervaring vir sy klerereeks gesoek het.

“Ek het afgekom op Joanne Petersen, ’n tekstielwerker wat haar werk ’n tyd gelede verloor het,” sê hy. “Sy het 25 jaar ervaring in die bedryf.”

Petersen het haar eie span van ses naaldwerkers byeengekry en ’n koöperasie tot stand gebring wat al Amory se Africa Made Only-klere vervaardig. Die span werk in The Maker’s Cottage in Wynberg, Kaapstad.

’n Tweede koöperasie wat ook met AMO sake doen, het onlangs sy deure in Lavender Hill op die Kaapse Vlakte oopgemaak. Magda en Grant Marais bedryf dit.

Hulle neem pensioentrekkers met ervaring in klere maak as tydelike werkers in diens.

Ryan Amory, stigter van Africa Made Only (AMO), ’n reeks plaaslik vervaardigde klere.

Amory verwys ook individue en ander handelsmerke na die koöperasies om toe te sien dat hulle voortdurend werk het.

Die lap waarvan AMO se klere gemaak word, koop Amory by Lowry Fabrics in Woodstock. Daaronder is shweshwe – ’n kleurige, bont katoen eie aan Afrika – wat deur Da Gama Fabrics in Zwelitsha in die Oos-Kaap gemaak word. Dit het vir Amory geen sin om “vir ’n paar rand goedkoper” self die shweshwe by Da Gama aan te koop nie.

“Ek wil die plaaslike waardeketting in stand hou. Lowry Fabrics het ’n verhouding met Da Gama en so moet dit bly.”

Deur AMO het Amory ook begin om ’n platform te verskaf aan ander ondernemings wat hul eie artikels plaaslik wil vervaardig.

Hy werk ook saam met musikante soos Majozi, die duo Locnville en Francois van Coke wat hul eie klerereekse en goedere wil bemark. “Ons het byvoorbeeld ’n trui vir Majozi vervaardig wat ons op ons webwerf verkoop,” sê hy. “Danksy hierdie medewerking kon ons baie ‘verkeer’ na ons webwerf lok.”

Amory hoop om binnekort kleiner handelsmerke op die AMO-webwerf te huisves.

“Ons wil ’n soort aanlyn mark wees waar hulle kan voordeel trek uit die verkeer wat ons kry danksy die medewerking met musikante.”

Meer oor:  Klere  |  Entrepreneurs  |  Vervaardiging  |  Tekstiel  |  Kleinsake  |  Klerebedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.